Nageboortelike depressie

akkreditasie
Amelia de Preez van Klerksdorp het 4 maande ná haar baba se geboorte eendag met 'n hand vol pille op haar bed gaan sit om alles te beëindig.

Amelia du Preez het ná die geboorte van haar tweede kind, erg depressief geword

Die eerste vier maande ná Wian se geboorte het ek gevoel of ek op autopilot is. Dit was nie vir my
belangrik om te leef nie, maar om te oorleef. Niks het meer kleur gehad nie, my emosies was uitgeput
en ek het alle kommentaar as kritiek beskou.

Dit was tipiese depressiesimptome, maar omdat terneergedruktheid glad nie in my aard is nie, het ek dit aan myself en aan my familie bly ontken.

Wian was ’n ongelooflike soet baba. Hy’t vroeg al begin deurslaap, maar dit het my nie gehelp om deur te slaap nie. Ek het elke aand gedroom van my keisersnee-ervaring en met ’n angsaanval wakker geword. Ná so ’n droom was ek so angstig dat ek dikwels nie weer kon slaap nie.

'n Onnatuurlike geboorte-ervaring

Die spinale verdowing wat ek met my keisersnee gekry het, het nie behoorlik gewerk nie. Ek het gevrees daar is fout met die boetiebaba omdat ek toe reeds elf uur lank intense kontraksies gehad het.

Ek wou nie iets doen om die baba se lewe in gevaar te stel nie en het daarom nie gesê dat ek steeds gevoel in my onderlyf het nie. Ek het besluit om stil te bly tot die baba gebore is en eers dan vir narkose te vra.

Die volgende paar minute was soos ’n ewigheid. Ek het gebid en gesmeek die operasie moet einde kry. Toe klein Wian gebore is, was die pediater se woorde aan my: “Kyk, die baba wil drink. Kyk net hoe
maak sy mondjie!” Met die wete dat my baba normaal is en dat ek nie onder narkose sou kon borsvoed nie, het ek weer besluit om sonder verdowing aan te gaan. Ek het bly bid en vir myself gesê: “Dis amper verby, dis amper verby,” terwyl hulle my wond toegewerk het.

My arme man, André, se hand was pers gedruk soos ek van die pyn wou ontsnap!

Ná die keisersnee het die suster my van die operasietafel na die hospitaalbed oorgetel. Ek het self my bene gelig. Sy wou weet of ek dan my bene kan voel. “Ek kon eintlik die hele operasie voel,” het ek gesê. Haar woorde was: “Jy verbeel jou seker!”

Sy het klein Wian vir my gebring en ek kon die klein blouerige bondeltjie teen my lyf warm maak; sy honger met my melk stil. Hy het drie uur lank so by my gelê. Ek het later dikwels aan hierdie oomblik
teruggedink – aan hoe kosbaar dit was om die band te vorm.

Ek het probeer om oor my ervaring te praat. Maar mense is maar sku om van ander se pyn te hoor en weet meestal nie hoe om te reageer nie. Dit het ook vir my gevoel asof min mense my storie werklik
geglo het.

Ek was in ’n diep, donker gat. As ek links gekyk het, was dit swart. Regs, swart. Boontoe. Oral swart. Ek wou nie meer opstaan nie, net in die bed bly. Ek was egter altyd iemand met ’n positiewe ingesteldheid.
Daarom het ek bly glo my geloof sou my hierdeur help.

Dit het egter nie. Ek het begin wonder of ek verkeerd bid en of ek dalk nie genoeg geloof het nie. Ek het begin twyfel aan myself as vrou, as ma en, die ergste van alles, aan my eie geloof.

In hierdie tyd het my verhouding met my dogtertjie, wat toe twee jaar oud was, baie gely. Party dae, wanneer sy geslaap het, het ek die telefoon uitgeprop en die voordeurklokkie afgeskakel sodat sy net nie moet wakker word nie. Dis asof ek my woede en frustrasie op haar, wat toe reeds ’n besige en veeleisende peutertjie was, uitgehaal het.

Hoogtepunt van depressie

Die Desembervakansie is ons see toe. Hier het alles ’n klimaks bereik. Die min slaap het sy tol begin eis. Ek het sommer bedags ook angsaanvalle gekry. Een middag toe almal luilekker kuier, het ek besluit
ek het genoeg gehad. Ek het kamer toe gestap en die medisynetassie oopgemaak. Ek het geweet ’n oordosis pille sou my laat sterf.

Op daardie oom blik het André inge-stap en my so op die bedrand sien sit. Hy het dadelik besef wat aan die gang is. Die vakansieplanne is verander en ons is terug huis toe.

Hulp

André het gereël dat ek ’n psigiater spreek wat in nageboortelike depressie spesialiseer. Wat ’n verligting. Met die eerste sessie kon ek die dokter vertel
wat ek alles gevoel het, en hy het geluister!

Vir die eerste keer het iemand na my hele storie geluister sonder om my in die rede te val, of te laat blyk hy wil dit nie hoor nie ... of dat hy my nie glo nie. Hy  het gesê ek het dinge gevoel wat ’n mens
normaalweg nie veronderstel is om te voel nie.

’n Las het van my skouers afgegly. Agterna kon ek vir André ook alles vertel terwyl ons iewers gaan kof­fie drink het. Ons het gepraat en gepraat.

Die psigiater het dit so aan my verduidelik: Deur daaroor te gesels, skep ek ’n “lêer” in my kop waarin al die inligting oor Wian se geboorte gebêre kan word. As ek egter nooit daaroor praat nie, soek die gebeure van die geboorte deur al die bestaande lêers om ’n bêreplekkie te vind. Dit veroorsaak terugflitse en nagmerries, asook gevoelens van angs en hulpeloosheid. ’n Mens se brein is gemaak om sin te probeer maak van gebeure en dit waar moontlik te probeer verwerk.

Ek was vir ’n hele paar sessies by hom. Ek het ook my dogtertjie vir speelterapie geneem, want ek het gevoel sy het onder my depressie gely.

’n Week nadat ek antidepressante begin drink het, het die konstante angstige gevoel begin verdwyn. Ek het eendag vir André gesê dit voel asof daar ’n wonderwerk in my lewe gebeur het!

Ek wonder vandag nog waarom ek nie vroeër besef het daar’s groot fout nie. Ek dink die stigma wat aan depressie kleef, keer baie vroue om hulp te soek. ’n Mens wil nie soos ’n mislukking voel nie. Nog minder wil jy hê ander moet dit van jou dink.

Jy is nie alleen nie

Volgens die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Postnatale Depressie (PNDSA) ly tot 30 persent van nuwe ma’s aan nageboortelike depressie. Dit kan ’n uitvloeisel wees van die normale bloute wat ’n mens kort ná die geboorte beleef (die baby blues) of dit kan oor ’n tydperk van maande ontwikkel.

Simptome van die blues – huilerigheid, angstigheid, oordrewe emosionaliteit – word toegeskryf aan skielike hormoonveranderings asook die besef dat die lewe nooit weer dieselfde gaan wees nie. Dit hou egter net ’n paar dae lank aan.

Simptome van nageboortelike depressie sluit in gevoelens van hulpeloosheid, gebrek aan beheer, angstigheid en kwaai prikkelbaarheid. Jy huil dikwels sonder rede en voel dat jy nie jou nuwe baba liefhet nie. Jy kry nagmerries en onaangename terugflitse van die geboorte, vermy dinge wat jou aan die geboorte kan herinner en is hipersensitief vir kritiek en kommentaar.

“By voorgeboorteklasse word ouerpare van die blues vertel, maar min mense word werklik ingelig oor
nageboortelike depressie, die simptome daarvan en hoe gevaarlik dit kan wees. Soms word vroue daarvan vertel, maar hulle glo dit kan nie met hulle gebeur nie,” sê die PNDSA op hul webtuiste, www.pndsa.org.za.

Nageboortelike depressie is niemand se skuld nie, maar dis belangrik dat vroue – en hul mans – besef dis ’n werklikheid. “Maar dit is behandelbaar én oorkombaar! Bemagtig jou voor jou baba se geboorte reeds met inligting daaroor,” lui die webtuiste.

Waak so teen depressie

  • Praat met die mense om jou – veral vroue en ma’s – oor jou gevoelens.
  • Soek professionele hulp as jy agterkom die bloute waai nie oor nie.
  • Rus wanneer jou baba slaap.
  • Eet gesond. Rou kosse soos groente en vrugte, slaai en neute is gepak met vitamiene en minerale.
  • Soek elke dag iets om oor te lag.
  • Sit tyd opsy om intiem met jou maat te wees, al is dit net vir ’n stywe drukkie.
  • Moenie jou of jou man vir jou gevoelens blameer nie – dis niemand se skuld nie.
  • Moenie skrik vir die diagnose van nageboortelike depressie nie – dis normaal en behandelbaar.

As verdowing nie werk nie

Dit gebeur soms dat spinale verdowing voor ’n keisersnee om die een of ander rede nie werk nie, sê dr. Elsa Veltshuysen, ’n narkose-kenner. Dis egter ’n enorme uitsondering. Spinale verdowing verskaf algehele pynverdowing van die borskas ondertoe en duur tot twee uur. Die narkotiseur sal voor die operasie altyd toets of jy gevoel in jou bene het. “As jy enige pyn ervaar, moet jy dit dadelik vir die dokter sê. Dit was Amelia se keuse – uit angstigheid dat haar baba dalk iets sou oorkom – om nie vir die dokter te vertel dat sy steeds gevoel in haar onderlyf het nie,” sê Elsa.

Kry hulp

Skakel die Post Natal Depression Support Association South Africa op hul nasionale hulplyn: 082 882 0072, of SMS "help" en jou naam aan hierdie nommer en hulle sal jou skakel. Jy kan ook 'n epos rig aan info@pndsa.org.za. Besoek hul webtuiste vir meer inligting: www.pndsa.org.za en skakel in by die Facebook-groep.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees