Raad teen maaggriep (die rotavirus)

akkreditasie
Die rotavirus is 'n gevaarlike en hoogs aansteeklike kalant wat elke jaar vir honderde kinders maaggriep gee. Darem is daar nou 'n entstof teen dié gevreesde infeksie.  

VIR RIENIE BEKKER van Jeffreysbaai was die winter van 2009 ’n nagmerrie: Albei haar kinders, Zayne (4 jaar) en Liam (1 jaar), het die rotavirus opgedoen en onophoudelik opgegooi en diarree gekry.

Sy het vir Liam dokter toe gevat want sy simptome was die ergste, maar daar moes sy ontdek Zayne het binne 12 uur so erg ontwater dat die dokter die ergste gevrees het. “Dit was so erg dat as jy sy vel geknyp het, jy tot vyf kon tel voor sy velletjie sou sak.” Haar kinders is in die hospitaal opgeneem en hul gesin vir sewe dae onder kwarantyn geplaas.

“Jy’s daar, maar jy’s magteloos want jou kind se magie loop soos water, hy braak en brand van die koors – en jy kan niks doen nie. Daar was diep, swart kringe onder hul oë. Dit het nie gelyk soos my kinders wat daar lê nie.” Gelukkig is die twee kleingoed nou weer springlewendig en aan die gang.

Navorsing toon dat omtrent elke kind in die wêreld teen vyf jaar oud eenkeer ’n rotavirus-infeksie gehad het.  Meeste kinders doen die virus verskeie kere op, maar die liggaam word mettertyd meer immuun daarteen.

Jou kleinding sal waarskynlik nie ná een infeksie al immuun wees nie, maar die simptome van daaropvolgende infeksies sal ligter word tot hy later geen simptome toon nie. Dit verklaar waarom die simptome gewoonlik die ergste is by kinders tussen ses en 24 maande terwyl ouer kinders en volwassenes byna glad nie siek word nie.

Hoe kry my kind dit?

Die rotavirus is hoogs aansteeklik en word hoofsaaklik – grillerig soos dit mag klink – oorgedra op die stoelgang-na-mond-roete.

 Die probleem is dat die virus hom goed buite die liggaam kan handhaaf. Dit kan dus ’n paar uur lank op jou hande bly leef, en selfs vir dae lank op harde oppervlakke soos speelgoed of ’n tafelblad.

As iemand met die virus dus nie sy hande was na hy die toilet gebruik het nie en aan ’n oppervlak vat, kan jou kind besmet raak deur aan daardie oppervlak te vat en dan sy hand in sy mond te druk.

Die virus kan ook deur besmette water of kos ingeneem word. Die ontkiemproses van die virus is twee dae, sodat ’n kind twee dae lank besmet is voordat hy simptome toon.

’n Studie het gewys kinders kan ander aansteek al toon hulle self nie simptome nie.

Hoe weet ek dis die rotavirus?

Die enigste akkurate diagnose is wanneer die dokter ’n stoelgangmonster laat toets. Simptome wat op rotavirus-infeksie dui is:

  • Braking (dit begin gewoonlik eerste en kan een of twee dae lank aanhou).
  • Hewige, waterige diarree (dit volg gewoonlik op die braking en kan drie tot agt dae lank duur).
  • Koors (nie noodwendig hoog nie, maar dit kan etlike dae lank aanhou).
  • Maagpyn.
  • Ontwatering (die gevolg van die braking en diarree).

Die simptome kan matig tot erg wees. Die grootste gevaar is ontwatering, wat vinnig en maklik plaasvind.

Hoe word dit behandel?

Jou belangrikste taak is om ontwatering te voorkom deur te verseker jou kind neem genoeg vloeistowwe in. Babas moet normal met hul melkvoedings voortgaan. In hewige gevalle kan jou kind in die hospitaal beland en binneaarse voeding kry teen ontwatering.

Kyk uit vir die volgende tekens van ontwatering:

  • Jou baba is baie dors.
  • Hy is lusteloos.
  • Sy vel voel koel en droog.
  • Sy mond is droog en sy spoeg is taai.
  • Gesonke oë.
  • ’n Baba se fontanelle (sagte plekkie op sy kop) is gesonke.
  • Hy het minder nat doeke.

Hou altyd reduksiemiddels soos Rehidrate in jou medisynekas. Gee jou siek kind kort-kort bietjie daarvan. In ’n noodgeval kan jy jou eie rehidrasiemengsel meng (bespreek dit met jou dokter):

½ teelepel sout; 8 teelepels suiker; 1 liter afgekoelde kookwater.

Dis moontlik dat jou kind heelwat gewig sal verloor terwyl hy siek is. Hy behoort ná drie tot nege dae weer gesond te wees.

Hoe voorkom ek dat my kind dit kry?

Die enigste seker manier om die rotavirus te fnuik is met inentings. Volgens Suid-Afrika se nasionale immunisasieprogram moet jou baba op ses en 14 weke teen die rotavirus geïmmuniseer word. Die entstof word in druppelvorm per mond toegedien.

Wat jy tuis kan doen:

  • Vestig ’n goeie handewasroetine. Maak seker jou kind was altyd sy hande nadat hy die toilet besoek het en voor hy eet, en maak seker dat jy altyd self jou hande deeglik was ná ’n doekomruiling en voor jy jou baba of peuter voer of ’n bottel maak.
  • Hou jou siek kind weg van jou ander kinders en gebruik ’n handseep wat alkohol bevat elke keer voor en nadat jy aan jou siek kind gevat het. Vee alles wat jou kind moontlik kon besmet het met ’n alkohol-bevattende ontsmettingsmiddel skoon.
  • Daar is ’n effense kans dat die virus in die stoelgang uitgeskei kan word ná die toediening van die eerste rotavirus-entstof – wees dus sewe dae ná die immunisasie ekstra paraat met jou handewasroetine.

Wanneer is my kind die kwesbaarste?

Rotavirus-infeksies is dikwels seisoenaal en die algemeenste in die droë wintermaande. In Suid-Afrika kom dit gewoonlik voor vanaf laat in Maart tot Julie of Augustus. Tussen ses en 24 maande het jou kleinding die grootste risiko om ernstig siek te word van ’n rotavirus-infeksie.

Aksieplan vir immunisasie

In September 2008 het die destydse gesondheidsminister ,dr. Manto Tshabalala-Msimang, die rotavirus-inentingsprogram in Suid-Afrika bekendgestel en beloof dat die entstof voortaan deel sou wees van die immunisasieprogram vir kinders onder vyf.

Daar word geskat dat die rotavirus-entstof die diarree-sterftesyfer in ontwikkelende lande met sowat 30% kan verminder in die ouderdomsgroep drie tot 24 maande.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees