Vrae oor uitslag

akkreditasie
My baba is ses weke oud. Kort ná geboorte het hy ’n uitslag op sy gesig gekry. Die pediater het gesê dis omdat hy gewoond moet raak aan sy omgewing en het Mylocort met 1 persent kortisoon voorgeskryf. Die salf het gehelp om van die uitslag ontslae te raak, maar drie weke gelede het dit weer op sy gesig, rug en maag verskyn. Die room het die uitslag laat weggaan, maar nou is my seun se vel droog en skilferig. Het hy dalk ekseem?

Dr. Simon Strachan (pediater) antwoord:

’n Gesiguitslag is algemeen van geboorte tot 10 weke. Die eerste algemene uitslag ontwikkel binne die eerste paar dae en word erythema toxicum genoem. Dit verdwyn binne die eerste vyf dae.

’n Rooi gesiguitslag kan ontstaan weens kwyling, opgooi, sweet, seep, sjampoe of room. Die uitslag sal verdwyn wanneer die vel bedaar het.

Ekseem kom voor op babas se gesig, in die waai van die been en op elmboë. Dit verskyn eers later in die eerste jaar en is ’n rooi, droë, growwe uitslag wat dikwels jeuk. Allergiese ekseem word allergiese dermatitis genoem en daar is ’n duidelik verband tussen die uitslag en ’n bekende sneller. Kortisoonroom neem die rooiheid, swelling en gejeuk weg en is nie spesifiek bedoel vir allergiese dermatitis nie.

’n Uitslag wat om en by ses weke op die gesig begin en na die lyf versprei, is die gevolg van hormoonveranderinge. Dit word baba-ekseem genoem en is droë, rooi kolle wat binne twee weke sal verdwyn. Nog ’n algemene uitslag word seboree-dermatitis genoem. Dit kom grof voor, is effens geel, voel wasagtig en ontstaan op die ooghare, haarlyn en soms agter die ore. Dit sal ook sonder behandeling binne sowat twee weke verdwyn.

Dis moontlik dat jou seun ekseem het, maar dis te gou om seker te wees en te gou om allergieë te soek. Vermy alle seep en sjampoe vir eers en bad jou baba met akwaroom. Wend ’n bevogtiger minstens drie keer per dag aan. As die uitslag nie wil weggaan of nie op behandeling reageer nie, kan jy na moontlike snellers begin soek.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees