10 Kostaboes

akkreditasie
Babas druk graag enige ding in hul mond, maar dié kosse moet hulle liefs eers los tot hulle ouer is - en party daarvan sommer vir altyd. 

As jou baba kon, sou sy alles eet wat sy sien: van haar hande tot ’n karretjie se bande en selfs oupa se valstande. O phierdie ouderdom kan jy dus nie wat sy eet aan haar oorlaat nie; sy sal taamlike sterk leiding nodig hê vir minstens die eerste jaar of drie.

Ons almal weet dat die kat se kos en die potplant se grond taboe is, maar daar is ’n paar ander soorte kos wat minder voor die hand liggend is. In die eerste vier maande is alle kos taboe; geen baba mag voor vier maande enige kos kry nie. Die meeste babas sal eers teen ses maande gereed wees om te begin eet, en dan kan hulle ook nie sommer enige ding eet of drink nie.

Hier is ’n paar kosse wat totaal verbode is vir babas onder ’n jaar. Maak seker da tjy en enigiemand anders wat na jou baba omsien dit weet.

1. Heuning 

Baie mense glo dat heuning ’n natuurlike wonderkos is en daarom gee ma’s dit graag vir kinders. Heuning kan egter gevaarlik wees vir babas jonger as 12 maande omdat dit spore van die bakterie Clostridium botulinum kan bevat. As ’n baba hierdie spore inneem, sal dit in die dikderm groei en giftige stowwe afskei wat die siekte botulisme veroorsaak.

Babas onder ’njaar is veral sensitief hiervoor omdat die goeie bakterieë in hul dermkanaal nog onvolwasse is en hulle nog nie genoeg galsure maak wat die groei van bakterieë belemmer nie. Botulisme tas die spiere aan en sal algemene swakheid veroorsaak. Selfs die asemhalingspiere sal aangetas word, wat sonder behandeling tot die dood kanlei.

Daarom mag geen baba onder ’n jaar medisyne, aanvullings, drankies of kos inneem wat heuning bevat nie, nie eens ’n titsel nie. Clostridium botulinum kom ook in grond voor en daarom moet groente en vrugte wat met grond in aanraking was baie goed gewas en/of afgeskil word.

2. Verwerkte vleis

Verwerkte vleis soos Weense worsies, ham, polonie en ander kouevleissoorte word nie aanbeveel vir enige kind nie, wat nog te sê babas. Verwerkte vleis bevat baie sout en ongesonde vet asook nitrate en nitriete wat ’n rol kan speel in die ontwikkeling van kanker. Dis dus beslis nie vir baba nie. Gee liewer vars vleis, hoender en vis met maaltye en vir peuselhappies vrugte, groente of jogurt.

3. Koeldrank 

’n Baba se lyfie het baie voedingstowwe nodig, maar haar klein magie maak dit soms moeilik om alles in te kry. Koeldrank bevat slegs suiker wat energie gee en babamagies vol maak, maar geen voedingstowwe nie. As ’n baba koeldrank drink sal sy ook minder melk drink en dus nog minder waardevolle voedingstowwe inkry. Bly weg van alle koeldrank: aanmaakkoeldrank, gaskoeldrank en dieetkoeldrank. Babas behoort ook nie vrugtesap te kry nie.

4. Koeimelk

Koeimelk bevat groot hoeveelhede proteïene en minerale. In klein hoeveelhede is dit nie ’n probleem nie, mits jou baba nie allergies daarvoor is nie, maar wanneer dit gedrink word sal dit te veel wees vir jou baba se niertjies.

Koeimelk as drankie kan ook maklik lei tot ’n ystertekort. Vir elke maand wat koeimelk voor ’n jaar oud gedrink word, is ’n baba se kans om bloedarmoede as gevolg van ystertekort te ontwikkel 40 persent groter.

Koeimelk bevat min yster en bevat kalsium en die proteïen kaseïen, wat saam die opname van yster belemmer. Baie gesonde babas ontwikkel ook klein bloedings in hul dermkanaal wanneer hulle koeimelk drink, wat die kans verder verhoog dat hulle bloedarmoede kry.

Hierdie bloedings kom glad nie voor by kinders ouer as 12 maande wat koeimelk drink nie. Selfs ná ’n jaar moet kinders nie meer of minder as 500ml koeimelk per dag kry nie en dit moet saam met ysterryke vaste kos gegee word. Onthou dat kinders onder twee nie laevet- of vetvrye melk mag drink tensy dit voorgeskryf word.

5. Blikkieskos

Blikkieskos is dalk vir mamma gerieflik, maar dis nie geskik vir ’n baba nie. Blikkieskos bevat groot hoeveelhede sout en soms ook suiker wat gebruik word as preserveermiddels. Babas onder ’n jaar behoort geen bygevoegde sout of suiker te kry nie.

Sout kan maklik hul onvolwasse niere oorlaai en sal jou baba ’n voorliefde vir sout smake laat aanleer. Babas se smaak is ook baie sensitief en kos wat sout bevat sal vir hulle oorweldigend wees. Babas mag net baie klein hoeveelhede sout inkry wat reeds natuurlik in kos en melk voorkom, daarom moet alle kos wat bygevoegde sout bevat soos dié in blikkies, botteltjies, pakkies en selfs sommige bevrore kosse asook kaas, spekvleis en wegneemetes,i n die eerste jaar vermy word.

6. Lekkernye

Kinders hoef nie lekkernye te leer eet nie, maar hulle eet nie altyd groente en vrugte sommer van self nie en hulle moet dit dus leer eet deur gereelde blootstelling voor hul eerste verjaardag. Babas wat van kleins af lekkernye gevoer word, sal ’n voor liefde daarvoor ontwikkel wat nie ’n goeie gewoonte is nie.

Lekkernye sal ook bydra tot tandbederf, en as jy dus jou baba se splinternuwe melktandjies wil beskerm, moet jy liefs vir oupa en ouma leer dat speelgoed en aandag ’n beter bederf is as ’n stokkielekker of roomys.

7. Flings en ander skyfies 

Hierdie algemene peuselkos vir babas is nie so oulik soos ma’s dink nie. Skyfies, of dit nou van mielies of aartappels gemaak is, en of dit gebak of gebraai is, is ongesond. Dit bevat geen belangrike voedingstowwe nie en jou baba het dit dus nie nodig nie. Dit bevat ook baie sout en as ’n baba dit van kleins af kry, sal dit sommer gou ’n gewoonte wees. In baie gevalle word skyfies sommer net gegee om baba besig te hou, terwyl ’n speelding beter sal werk.

8. Rou wortels 

Wortels is propvol betakaroteen wat dit ’n ideale babakos maak om die immuunstelsel te help versterk. Rou wortels sal egter selfs vir pa of ma laat stik en daarom is dit vir babas ’n taboe. Gekookte wortels is beter en kan met veiligheid vir baba gegee word– of dit nou fyn gemaak of heel as vingerkos gegee word. Ander kosse waaraan babas maklik kan stik is rou appel, heel druiwe korrels, baba tamaties, heel neute en springmielies. Onthou om nooit jou baba alleen te laat as sy eet of iets drink nie.

9. Rou of halfgaar eiers

Saggekookte eiers klink dalk na ’n maklike, vinnige en voedsame maaltyd vir ’n baba, maar eiers kan die bakterie Salmonella bevat. Hierdie bakterie word doodgemaak wanneer kos deeglik gaar gemaak word, en daarom is eiers wat goed gaar gemaak is veilig, maar rou of halfgaar eiers kan jou baba siek maak.

Infeksie met Salmonella veroorsaak maagkrampe, diarree en koors en dit kan ernstig en selfs dodelik wees vir babas en klein kindertjies. Eiers wat krakies in hul dop het moet liefs weggegooi word, aangesien hulle heelwaarskynlik bakterieë bevat.

Ander maniere waarop Salmonella oorgedra kan word is deur rou of halfgaar hoender of rooivleis, of ongepasteuriseerdemelk, asook deur lewende kuikens en reptiele.

10. Soet tee

Dit is ’n baie algemene praktyk om rooibos tee met suiker in vir babas in bottels te gee. So leer ’n baba ’n voorliefde aan vir soet drankies en sal sy waarskynlik die res van haar lewe lief vir soet tee wees. Dit kan later bydra tot verskeie gesondheidsprobleme.

Op kort termyn sal soet tee lei tot tandbederf, veral as dit in ’n bottel is waaraan baba heeldag loop en drink, of as sy bottel in die mond ’n uiltjie knip. Babas wat lê en drink aan ’n bottel kry ook makliker oor infeksie, ongeag wat daarin is.

Engelse tee en koffie behoort nie vir babas gegee te word nie as gevolg van die kafeïen daarin. Tot op drie maande kan babas nie kafeïen metaboliseer nie en selfs daarna word dit nie aanbeveel nie. Selfs vir kruietee moet jy versigtig wees, omdat die meeste kruieprodukte nie getoets en bewys is as veilig vir babas nie.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees