A-Z van babasorg

akkreditasie
Van Apgar, brandboudjies en candida tot soentjies, lekker bad en slaaptyd... ons bring die kits-ABC van sorg vir 'n pasgeborene.

Daar lê uitdagings voor, dis waar, maar niks kom by die lekker van ’n nuwe babatjie so styf teen jou bors nie. Berei jou voor met ons A-Z gids op wat jy te wagte kan wees sodat jy jou eerste paar weke van ma-wees sorgvry kan geniet.

A vir Apgar

Apgar is ’n internasionale maatstaf om vas te stel hoe goed jou baba pas ná geboorte vaar. Jou baba word 1 minuut en weer 5 minute ná geboorte vir die volgende getoets: spiertonus, pols, reaksie op prikkels, voorkoms, velkleur en asemhaling. ’n Apgar-telling van 7 tot 10 is normaal.

B vir brandboudjies

Sommige babas kry maklik luieruitslag – ’n rooi uitslag op en om die boudjies, geslagsdele en in die voue van die been. Jou beste medisyne is voorkoming: gehaltedoeke en goeie skermroom wat ná elke gereelde doekruiling aangewend moet word. Onbehandelde luieruitslag kan ontsteek en bloei.

C vir Candida

Candida staan ook as sproei bekend en is ’n swaminfeksie in baba se mond, op die doekarea of magie. Dit kan met borsvoeding van ma na baba oorgedra word. Dit vorm ’n witgrys lagie op die tong wat nie maklik afgevee kan word nie en kan begin bloei. ’n Ernstige infeksie kan veroorsaak dat jou baba moeilik sluk. Die doekarea sal baie rooi met klein rooi spikkeltjies wees. Raadpleeg ’n dokter.

D vir dokter

Raadpleeg liewer ’n dokter as jou pasgeborene die volgende tekens toon:

  • Buitengewoon pap en lusteloos
  • Huil troosteloos, ongewoon swak of skril
  • Wil nie drink nie of raak gou moeg wanneer sy drink
  • Diarree of braking (nie gewone melkrefluks nie)
  • Haal moeilik asem
  • Stoelgang bloederig, slymerig of jellierig
  • Koors van 37,7 °C of hoër

Vertrou jou instink. As jy dink daar’s iets fout, moenie huiwer om dokter toe te gaan nie.

E vir eienaardige vlekke

Geboortevlekke kom algemeen voor en kan tydelik of permanent wees. Dis meestal onskadelik, maar sommige vlekke kan ’n onderliggende siekte aandui. Die algemene rooi vlekkies op haar ooglede, tussen die oë of aan die agterkant van die nek word engelsoentjies genoem en verdwyn binne ’n paar maande.

F vir fontanel

Daar is twee plekke op jou baba se skedel wat nog nie met geboorte gesluit het nie. Die voorste fontanel is kleiner en sluit teen 6 weke, terwyl die agterste fontanel eers teen 18 maande toegaan. ’n Opgehewe fontanel kan op breinvliesontsteking dui, terwyl ’n ingeduikte een ’n teken van ontwatering kan wees.

G vir geelsug

Sowat 50% van pasgeborenes kry babageelsug, waar hul oë en vel ’n gelerige skynsel kry ’n dag of wat ná geboorte, gewoonlik wanneer die borsmelk inkom. Dit word deur ’n oormaat bilirubien (galpigmente) veroorsaak wat gewoonlik deur die lewer verwerk moet word, maar ’n baba se lewerfunksie is nog beperk.

Gereelde borsvoeding, 5 minute direkte sonlig op ’n dag en fototerapie vir hardnekkige geelsug behoort dit binne ’n week of twee te laat verdwyn. Sou die geelsug ná ’n paar weke terugkeer, het die baba moontlik ’n lewerprobleem. Raadpleeg dadelik jou dokter.

H vir huil

Huil is jou baba se taal. Daarmee laat hy jou weet of hy honger is, ’n vuil doek het, sy klere ongemaklik sit of dalk natgepiepie is, hy koud of warm kry, hy ’n wind het wat vassteek, hy vaak is of oorgestimuleer.

As jou pasgeborene huil, reageer so vinnig moontlik. Hy is afhanklik van jou sorg en het jou nodig. Daar is nie sprake van manipulasie by ’n pasgeborene nie. Musiek, wieg, stap en styf vashou kan als help as jy nie die oorsprong van sy klagte kan opspoor nie. Onthou, dis onmoontlik om jou pasgeborene met liefde te bederf.

I vir inenting

Inenting teen masels, polio en witseerkeel is verpligtend in ons land en die regering verskaf hierdie entstof. Prevenar teen breinvliesontsteking is nou ook as ’n staatsentstof beskikbaar. Baba kry sy eerste inentings kort ná geboorte (tuberkulose en polio), weer op 6 of 8 weke (polio, witseerkeel, klem-in-die-kaak en kinkhoes, asook hepatitis B).

Opvolginentings van die voorafgaande volg op 10, 12 en/of 14 weke, afhangende van die kombinasie middels wat by jou kliniek of pediater beskikbaar is. Op 9 maande word jou kind teen masels ingeënt. Kry ‘n volledige inentingskedule by jou verpleegsuster of pediater en skryf die datums groot op jou kalender of in jou dagboek.

J vir Jaloers

Jaloesie gaan die een of ander tyd sy kop by ’n ouer boetie of sussie uitsteek. Die beste oplossing is om die jaloerse party waar moontlik by die baba se versorging te betrek. Laat ouboet voel dat dit “sy eie nuwe boetie” is en deel takies uit soos om ’n doek te gaan haal. Prys ouboet baie en gee hom spesiale alleentyd terwyl iemand anders na baba omsien.

K vir kangaroesorg

Dis een van die kragtigste bindingsmetodes tussen ma’s en pasgeborenes. Dra jou baba styf teen jou lyf en gee vel-tot-vel-aanraking. Dit laat jou baba veilig voel en versterk die band tussen julle, wat later lei tot leergierigheid, ’n gesonde selfbeeld en vertroue in en agting vir ander.

L vir lanugo

Dis daardie fyn haartjies regoor sommige babas se lyf waarmee hulle gebore word en wat ná ’n paar weke afgeskud word.

M vir massering

Babas is mal oor aanraking en babamassering is bekend daarvoor dat dit toestande soos koliek kan help hokslaan. Laat jou baba gemaklik op haar ruggie lê en masseer haar magie, arms en bene saggies, maar ferm, terwyl jy in haar oë kyk en rustig gesels. Die kans dat sy gaan kraai van plesier is baie goed, maar nie alle babas hou van massering nie. Hou dus jou baba se reaksie dop en los dit eers as jou baba nie gemaklik voel nie.

N vir naelstring

Naelstringsorg is baie belangrik sodat die naelstring kan uitdroog en ná sowat 2 weke kan afval. Wecesin-poeier is ’n uitstekende middel wat die naelstring vinnig uitdroog en die area droog en vry van ontsteking hou. Gebruik anders watte en chirurgiese alkohol. Raadpleeg jou dokter dadelik as die plekkie ontsteek lyk.

O vir oor- of ondergewig

Monitor jou baba se gewigstoename gereeld en teken dit op ’n groeikaart aan. Jou baba het genoeg vet nodig om hitte te vervaardig, maar oorgewig babas kry makliker borsinfeksies en asemhalingsprobleme, terwyl ondergewig babas se immuunstelsel dikwels nie so goed ontwikkel is nie en hulle makliker siek word. Ondergewig kan ook dui op onderliggende hart- of skildklierprobleme.

P vir poef

Mekonium is daardie groenswart, taai poef in jou baba se eerste doek. Daarna sal jou borsbaba se doeke slap en mosterdkleurig wees, terwyl ’n bottelbaba se doeke ’n bietjie stywer sal wees en in kleur van groengeel na bruin wissel. As jy swart, rooi of wit uitskeiding sien, bel jou dokter dadelik.

Borsbabas se stoelgange wissel geweldig – party kan tot 10 vuil doeke per dag hê, terwyl ander een per week lewer. Bottelbabas behoort elke dag te poef. Korrelrige of bolletjiedoeke dui op hardlywigheid en slymerige, waterige doeke is heel moontlik diarree.

Q vir que sera sera

Que sera sera – wat sal wees, sal wees: Altyd ’n goeie leuse om in gedagte te hou. Haal diep asem en probeer om nie te veel oor jou baba en sy toekoms te stres nie. Wees net daar om hom elke dag jou liefde en ondersteuning te bied; die lewe sal self sy gang gaan.

R vir refleks

Ter wille van oorlewing word babas met sekere reflekse gebore: die moro- of skrikrefleks waar jou baba sy arms oopgooi en begin huil as hy ’n harde klank hoor; die handgreeprefleks waar sy vingers outomaties om jou vinger krul as jy aan die palm raak; die suigrefleks wat hom in staat stel om te drink; die soekrefleks wat hom na jou tepel laat soek; en die looprefleks wat hom oor ’n plat oppervlak die een been voor die ander laat sit.

S vir stamselberging

Stamselberging beloof om binnekort ’n algemene prosedure te word omdat daar voortdurend nuwe mediese toepassings vir hierdie selle gevind word en sekere bloedsiektes word reeds baie suksesvol daarmee behandel. Dit bly ’n persoonlike (en duur) keuse. Stamselle kan alleenlik tydens die geboorteproses geoes word; oorweeg dit dus mooi voor die groot dag aanbreek.

T vir toetse

Siftingstoetse bepaal of jou pasgeborene enige gevaar vir ’n aangebore afwyking of metaboliese siekte loop. Die ideale tyd vir die toetse is in die eerste 48 tot 72 uur ná geboorte, maar dit kan steeds binne die eerste week gedoen word. Slegs ’n paar druppels bloed uit jou baba se hakskeen is nodig. Vroeë diagnose kan komplikasies help voorkom.

U vir uitslag

Hitte-uitslag (pienk opgehewe kolletjies wat verdwyn as jou baba koel en droog gehou word) is algemeen in die somer en nie ernstig nie. Ekseem kan baie ongemaklik wees en kan deur ’n reeks dinge van sepe tot kosse veroorsaak word. Raadpleeg jou geneeskundige. Kindersiektes veroorsaak ook uitslag, maar dit kom nie normaalweg by pasgeborenes voor nie.

V vir visie

Met geboorte kan jou pasgeborene omtrent 20 tot 30 cm ver sien. Hy sal hou van die kontras tussen swart en wit voorwerpe, asook gesigte. Knip groot gesigte uit tydskrifte om voor hom te hou vir so lank as wat hy belangstel. Kyk vir hom as jy borsvoed, dit leer hom fokus. Jy kan ook jou kop van kant tot kant beweeg sodat sy oë jou bewegings volg.

W vir wiegiedood

Voorsorg teen wiegiedood: Borsvoed jou baba, moenie rook in sy omgewing toelaat nie, moet hom nie op sy maag laat slaap nie, moet hom nie te warm toemaak nie en voorkom dat komberse oor sy kop skuif sodat hy nie versmoor nie.

X vir x’ies

Jy kan hom maar opsoen, daar is nie so iets soos genoeg liefde nie en hoe meer soene en drukkies hy kry, hoe veiliger voel hy en hoe vinniger ontwikkel sy brein!

Y vir ywerig met badtyd

Hier’s ’n paar wenke vir maklike bad:

  • Sorg dat als wat nodig is op een plek naby die bad is sodat jy nie hoef rond te skarrel met ’n kaal baba op sy doekruilstasie nie.
  • Baba moet rustig en klaar gevoed wees.
  • Voel met jou elmboog of pols of die badwater te warm is.
  • Gesels met hom en maak oogkontak.

Z vir ZZzzz

Moenie skrik as jou pasgeborene tussen 16 en 20 uur per dag slaap nie. Hulle word gewoonlik elke 2 tot 4 uur vir ’n voeding wakker. Sommige babas is wakkerder en ander ruil weer dag en nag om. Slaap is die een groot en dikwels sensitiewe onderwerp waarvoor daar geen oorkoepelende resep is nie. Wees oopkop in hierdie eerste paar maande en hanteer elke dag op sy eie. Slaap wanneer jou baba slaap, ook in die dag, om uitputting te voorkom.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees