Alles oor allergieë

akkreditasie
Grondboontjies, bysteke, kathare... is jou kind allergies? Hier's 'n vinnige gids.

Die een oomblik het julle nog piekniek gehou; die volgende sien jy voor jou oë hoe jou kind se gesig soos ’n ballon opblaas terwyl hy swaar begin asemhaal. Dan gewaar jy die sondaar: die heuningby wat saam met hom van sy blikkie koeldrank wou drink ...

Ná jou kind se tweede verjaardag kan ’n verskeidenheid allergieë begin inskop wat op hul minste ’n lastigheid is en op hul ergste lewensgevaarlik kan wees. Ons bekyk die algemeenstes, en hoe julle dit kan beheer.

’n Allergie is eintlik niks anders nie as ’n oorreaksie deur ons immuunstelsel.

Die immuunstelsel beskerm ons liggaam teen skadelike indringers (soos kieme) deur teenliggaampies te vervaardig wat dié indringers aanval. Maar as iemand ’n allergie het, vervaardig die liggaam teenliggaampies teen ’n “indringer” wat eintlik glad nie skadelik is nie, soos ’n kossoort.
Dié immuunreaksie kan ’n verskeidenheid simptome tot gevolg hê, soos ekseem, galbulte, toe neus, braking, fluitbors, gesigswelling, maagkrampe en bewusteloosheid. Iemand met ’n ernstige allergie kan selfs sukkel om asem te kry, wat lewensbedreigend is.

As jy allergies is, is jou immuunstelsel dus onverdraagsaam teenoor iets wat hy eintlik moes aanvaar het, verduidelik dr. Cathy van Rooyen van die Allergiekliniek in Pretoria.

Die stowwe waarvoor ons allergies is, word allergene genoem.

Cathy sê die immuunstelsel het verskillende bane, en dit bepaal of die allergeen ’n onmiddellike of vertraagde reaksie sal veroorsaak.

Tot op twee jaar oud is verskillende soorte kos die algemeenste allergene, maar namate jou kind ouer raak, kan daar ander bykom soos inseksteke, stof, stuifmeel en swamme.

Inseksteke

Die insek waarvoor die meeste kinders in ons land allergies is, is die heuningby. ’n Kind kan egter vir enigiets van ’n perdeby tot ’n muskiet allergies wees, sê Cathy. Een bysteek is genoeg om ’n allergiese reaksie te veroorsaak.

’n Bysteek kan swelling veroorsaak, jou kind kan galbulte oor sy hele lyfie kry, sy lippe en oë kan opswel, sy bors kan toetrek en hy kan sukkel om asem te haal. Die grootste gevaar is dat hy ’n allergiese skokreaksie (anafilakse) kry, wat simptome insluit soos swelling, sametrekking van longbuisies, hartversaking, sirkulasie-ineenstorting en selfs die dood.

As jou kind die eerste keer deur ’n by gesteek word, hou hom goed dop. Dit sal ’n bietjie rooi wees en ’n knoppie sal vorm, maar as daar tekens is van baie swelling, galbulte of ander ernstige simptome, moet jy hospitaal toe jaag.

As jou kind allergies is, hou altyd medikasie byderhand. Jy kan hom ook minder sensitief vir bysteke maak met ’n reeks inspuitings wat oor drie tot vyf jaar strek. Dié behandeling word desensitisasie genoem en baie mediese fondse betaal daarvoor.

Inhalante

Inhalante is allergene wat ’n mens inasem en sluit huisstof, diere, stuifmeel en swamme in.

“Die grooste probleem is gewoonlik gras of grasstuifmeel, en daarna huisstofmyte, troeteldiere en swamme,” sê Cathy. “Dit hang dikwels af waar jy woon. In die Kaap is swamme en stofmyte meer algemeen, terwyl gras in Gauteng die grootste probleem is.”

Die simptome van dié allergene stem taamlik ooreen en wissel van sinusprobleme en hooikoors tot asma – dit verskil van persoon tot persoon. Jou kind se ore kan jeuk, sy neusie kan loop, sy oë kan rooi wees en jeuk, hy kan baie nies of met ’n toe neus sukkel. As die allergeen aan hom raak, kan hy ook ’n uitslag kry.

’n Allergie vir inhalante is selde gevaarlik, maar daar is wel die risiko van ’n fatale asma-aanval.
Die eerste stap is om jou kind te laat toets om vas te stel of hy wel allergies is en waarvoor. Inspuitings kan hom minder sensitief vir die allergeen maak, terwyl middels soos antihistamien en neussproei die simptome kan onderdruk.

  • Stuifmeel: Behalwe vir desensitisasie (sien hierbo) is daar nie veel wat jy kan doen om dié allergie te voorkom nie omdat stuifmeel in die lug is. Probeer voorkom dat jou kind in die veld stap of op die gras rol.
  • Huisstofmyte: Dis mikroskopies klein goggatjies (kleiner as ’n stofdeeltjie) wat van menslike velskubbe leef. Dit kom veral voor in matrasse, beddegoed, matte, sagte bekleedsel en op speelgoed. ’n Mens kan matras- en kussingbeskermers koop wat teen stofmyte bestand is, en dis ’n goeie plan om alle beddegoed bo 60 grade Celsius te was. Jy kan ook die matte uit jou huis verwyder of ’n spesiale stofsuier kry wat stofmyte uitfiltreer. (Nie alle stofsuiers doen dit nie: Jou stofsuier moet deur water filtreer of ’n HEPA-filter hê). Daar is ook ’n huisstofsproei wat die myte doodmaak.
  • Swamme: Dis veral ’n probleem by die kus, maar kom dwarsoor Suid Afrika voor. Mense is vir verskillende swamme allergies, maar die grootste sondaar is die spore van alternaria, wat binne en buite die huis voorkom. Dié swamme groei op klam plekke binne-in die huis en op verrotte plantmateriaal. Vermy dus klam lappe en ander klam dinge in jou huis, maak vensters oop waar stoom opbou en hou jou tuimeldroër liefs buitenshuis. Was teëls met ’n flou Jik-oplossing om die swamme dood te maak.
  • Troeteldiere: Katte is die troeteldiere wat die meeste allergieë veroorsaak. Sekere rasse soos Burmese katte is groter sondaars as ander. Dit maak nie saak of die kat lang of kort hare het nie: ’n Mens is eintlik allergies vir die kat se speeksel, wat op die hare beland wanneer die kat homself lek. Dieselfde geld honde.

Ideaal gesproke moet ’n mens van jou troeteldier ontslae raak, sê Cathy, maar dis nie altyd prakties nie. Jy kan help deur jou troeteldier een keer ’n week te bad om die speeksel af te was, en deur jou troeteldiere verkieslik buite te hou, of minstens uit die slaapkamers.

Soms is ’n antihistamien voldoende, maar vir ’n kind wat baie allergies is, is desensitisasie (sien hierbo) ’n goeie oplossing.

Het jy geweet?

’n Mens is nie as sodanig allergies vir rook nie, maar rook is ’n irritant wat allergieë kan vererger en ook kan bydra tot die ontwikkeling van allergieë.

Grondboontjies

Die allergie vir grondboontjies is aan die toeneem in Suid-Afrika en is ’n baie ernstige allergie omdat dit ’n allergiese skokreaksie kan veroorsaak wat dodelik is, sê Cathy.

“Party mense is selfs so allergies vir grondboontjies dat hulle reageer as hulle net naby iemand kom wat grondboontjies geëet het,” sê sy.

’n Kind kry nie noodwendig ’n allergiese reaksie die eerste keer dat hy grondboontjies eet nie, maar hy kan gaandeweg meer sensitief daarvoor raak tot hy ’n punt bereik waar allergiese simptome wel uitbars.

Daar word aanbeveel dat kinders met ’n allergiese familiegeskiedenis nie voor hul vyfde verjaardag grondboontjies eet nie. Ander kinders moet liefs nie grondboontjies eet voor hulle twee of drie jaar oud is nie.

Ongelukkig kan kinders nie teen grondboontjies gedesensitiseer word nie en voorkoming is die enigste behandeling.

Grondboontjies is een van die allergene wat op voedseletikette aangedui moet word. Lees dus die etikette baie mooi. Daar is ook ander produkte wat grondboontjies in het. Wees veral versigtig vir velprodukte met grondboontjie-olie as basis – op die etiket word dit arachis oil genoem, sê Cathy.

As jou kind ’n ernstige grondboontjie-allergie het en per ongeluk ’n vorm van grondboontjies inkry, moet jy so gou moontlik noodmedisyne soos deur jou dokter voorgeskryf toedien en hospitaal toe jaag.

Penisillien

Virusse veroorsaak dikwels ’n uitslag – as jou kind dus vir ’n infeksie met penisillien behandel word en hy kry ’n uitslag, beteken dit nie noodwendig hy is allergies vir dié antibiotikum nie. Laat toets hom om seker te maak.

’n Kind wat vir penisillien allergies is, kan ’n uitslag kry, asook galbulte, asemnood en anafilakse (sien bo).

As jou kind vir penisillien allergies is, moet jy saam met jou dokter ’n veilige alternatief vir die toekoms vind omdat kinders wat vir een soort medisyne allergies is, dikwels op ander soorte ook reageer.

’n MedicAlert-snoer of -armband wat aandui dat iemand allergies is wanneer hulle dit nie self vir ’n paramedikus of dokter kan sê nie (byvoorbeeld wanneer hulle in ’n ongeluk beseer is), is ook ’n goeie plan (lees hieronder hoe om een te kry).

Wat jy kan doen

Allergietoetse

As jy jou kind vir allergieë wil laat toets, moet jy dit liefs deur jou dokter doen om seker te maak die toetse het ’n wetenskaplike basis, sê Cathy.

Wetenskaplik gefundeerde toetse behels velpriktoetse, plaktoetse of bloedtoetse wat deur patologie-laboratoriums gedoen word.

Cathy sê geen toets is 100 persent betroubaar nie, maar dit kan saam met ’n betroubare geskiedenis jou dokter in staat stel om ’n allergie te identifiseer.

MedicAlert-bandjies

MedicAlert-bandjies het al menige allergiese kind se lewe gered omdat dit mense dadelik inlig waarvoor ’n kind allergies is. Jou dokter of apteker behoort ’n aansoekvorm te hê, maar jy kan ook een by MedicAlert aanvra. Die aansluitingsfooi is R150 en sluit die eerste bandjie in. Bel MedicAlert by 012-425-7328 vir meer inligting.

Warm webwerf
www.allergysa.org

‘Hy mag nie eens aan grondbone raak nie’

Bridget Hudson van Johannesburg se seuntjie, Liam (7), is allergies vir grondboontjies. Sy vertel:
“Liam was omtrent vier maande oud en op borsmelk toe hy ekseem begin kry. Sy pediater het ’n bloedtoets gedoen en die ding waarvoor hy die meeste allergies was, was grondboontjies. Hulle het gesê sy allergie is so erg dat hy glad nie grondboontjies mag eet of selfs daaraan mag raak nie.

“Van toe af moes ons alle grondboontjies uitskakel. Ons was tot dusver gelukkig en hy het nog nooit ’n allergiese reaksie gehad nie. Hy is self ook goed daarmee: Hy het nog altyd geweet hy is allergies en vermy dus enigiets wat grondboontjies bevat.

“Ek moes egter ook leer om my gesonde verstand te gebruik, want omtrent elke produk waarsku op die etiket dat dit elemente van grondboontjies kan bevat omdat dit in dieselfde fabriek gemaak word. Aan die begin het ek alles wat hy eet met ’n arendsoog dopgehou, maar deesdae is ek meer gemaklik met sy allergie. Almal by sy skool weet wel hy het ’n allergie en maak voorsiening daarvoor.”

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees