Heuningbye val net aan as hulle gesteur word of hulleself verdedig, maar omdat hulle van nature aangetrek word deur soetigheid en helder kleure, is die kans goed dat jou kind gesteek kan word terwyl hy iets soets eet,
koeldrank uit ’n blikkie drink of klere met helder blompatrone op dra. Jou kind se reaksie op die steek kan wissel van ’n klein, geswelde rooi area tot ’n lewensgevaarlike allergiese reaksie.

Wat gebeur?

Wanneer ’n werkerby jou kind met haar angel bykom, is dit nie net jou kleinding wat in pyn is nie; die werkerby gaan ook dood omdat haar angel van haar lyf af wegskeur. Haar angelsak bevat gif en die oomblik dat sy jou kind steek, word dit vrygestel. Die gif bevat ’n proteïen wat ’n reaksie in jou liggaam veroorsaak. Soms is dit ’n matige reaksie, maar soms kan dit ’n allergiese skokreaksie (anafilakse) en selfs die dood tot gevolg hê, sê dr. Alison Baxter, ’n pediater by die Bedford Gardens-kliniek in Bedfordview, Johannesburg.

Die meeste kinders reageer ligweg, en omtrent 10 persent het ernstiger simptome. Net sowat 3 persent van alle mense reageer baie ernstig en moet noodbehandeling kry.

Ligte reaksie

As ’n by jou kind steek, sal hy sowat ’n minuut lank intense pyn ervaar, waarna ’n klein rooi knoppie sal vorm. Die rooi knoppie is 2-3 cm groot en kan swel en jeuk. Die ongemak duur gewoonlik ’n paar uur.

Verwyder die angel so gou moontlik. Hoe langer dit in die vel is, hoe meer gif word versprei. Moet dit nie met jou duim en voorvinger uitpluk nie – dit stel net meer gif vry. Skraap die angel liewer uit met ’n kredietkaart of die stomp kant van ’n mes. Jou kind moet probeer om nie die steekplek te krap nie, want dit versprei ook die gif.

Plaas dadelik ’n yspak op die steekplek en smeer ’n room aan wat antihistamien bevat. Jy kan ook parasetamol vir die pyn gee.

Ernstige reaksie

Die swelsel is groter. As jou kind op sy voet of hand gesteek is, kan die hele ledemaat swel. Jou kind kan hoofpyn kry en naar voel. Die simptome kan ’n paar dae duur. Gaan dokter toe as dit, veral die swelsel, nie binne ’n paar dae beter word nie.

Ernstige allergiese reaksie

’n Allergie ontwikkel omdat jou immuunstelsel onverdraagsaam is teenoor iets spesifieks; in hierdie geval die
by se gif. Die proteïen in die gif tas nie net die vel aan nie, maar stimuleer ook die immuunstelsel en dit veroorsaak ’n reaksie. As jy om die een of ander rede telkemale deur bye gesteek word, het jy ’n groter kans om ’n allergiese reaksie te ontwikkel. Sommige kinders sal dié allergiese reaksie ontgroei, ander nie.

Wanneer ’n akute reaksie op ’n bysteek volg, kan die volgende gebeur:

1. Die steekplek is rooi en geswel en bulte slaan oor jou kind se hele lyf uit. 

2. Hy haal moeilik asem.

3. Sy bloeddruk kan daal. 

4. Hy sweet en lyk bleek.

5. Hy kan aan skok ly. 

Kry jou kleinding so gou moontlik by ’n dokter of verkieslik ’n hospitaal se noodgevalle-afdeling, waar hy met
adrenalien behandel sal word. Hy sal ook suurstof kry om met asemhaling te help, en antihistamien en kortisoon
om die swelsel te behandel. Al is ’n mens nie vir bye allergies nie, kan jy steeds sterf as ’n swerm bye jou aanval, omdat jy dan so baie gif inkry, sê Alison.

Immuunterapie

Die meeste kinders sal nie ernstig reageer as hulle die eerste keer bygedam word nie omdat hul liggaam dan teenliggaampies vervaardig. Dis eers wanneer ’n by jou kind die tweede keer steek dat jy sal weet of hy allergies is.

As hy inderdaad allergies is, moet hy ’n mediese armbandjie dra en altyd medikasie byderhand hê. Die EpiPen Jr. is ’n inspuiting wat soos ’n pen lyk en wat adrenalien bevat om die allergiese reaksie te voorkom.

Die dosis in die pen is egter te groot vir kinders ligter as 15 kg. 

Daar is ’n langtermyn-oplossing vir kinders ouer as vyf, sê Alison: immuunterapie. Dit behels ’n reeks weeklikse en daarna sesweeklikse inspuitings om die liggaam aan die gif gewoond te maak. Dis baie doeltreffend, maar dit duur drie tot vyf jaar lank en is ook baie duur. Hoor dus eers by jul mediese fonds of hulle daarvoor sal betaal.

Wenke:

1. Moenie soetgoed, lekkergoed of koeldrankblikkies oop laat as julle buite is nie.

2. Laat jou kind liewer uit 'n koppie as 'n blikkie drink.

3. Moenie jou kind in helderkleurige blompatrone aantrek as hy buite gaan speel nie, veral nie as julle naby blomme gaan wees nie. 

4. Waarsku jong kinders om nie hul vingers in blomme te steek nie. 

5. Skud klere wat op die grond gelê het af voor jou kind dit aantrek. 

6. Moenie dat jou kind kaalvoet loop in 'n veld met baie blomme of 'n grasperk vol klawer nie.