Die A-Z van wintergesondheid

akkreditasie
Is dit blote toeval dat koud die stamwoord van die koudste seisoen se mees bekende siekte is?

In die winter wriemel die wêreld van allerhande nare kieme, waaronder die verkoue een. Onder watter siektes kan jou kinders nog deurloop in die winter, en hoe behandel jy dit? Of beter nog, hoe kan jy dit voorkom? Ons het by talle kundiges (wat terloops ma’s insluit) gaan aanklop om dié A-Z van wintergesondheid saam te stel.

A staan vir antibiotika, ongelukkig nie die antwoord op twee van die meer bekende wintersiektes naamlik verkoue en griep nie, maar wel doeltreffend as dit kom by die ernstiger simptome van dié twee siektes soos long- en mangelontsteking en brongitis.

Jou dokter weet wanneer jou kind antibiotika nodig het al dan nie, so moet liefs nie op ‘n voorskrif daarvoor aandring nie. Dit is belangrik dat antibiotika net gebruik word wanneer dit regtig nodig is, omdat bakterieë gou weerstandig kan word teen antibiotika en jy jou kanse vir dié wondermedisyne om sy werk te doen, kan opgebruik. Dit is ewe belangrik om ‘n kursus antibiotika klaar te maak, want as jy dit nie doen nie, help jy net die kieme om ‘n weerstand teen die antibiotika op te bou.

B staan vir brongitis en brongiolitis.
Brongitis is inflammasie van die klein lugweë in die longe. Dit sal jou kleuter laat hoes - aanvanklik droog en later slymerig. Die siekte kom met of sonder koors voor. Om jou kind gesond te kry, sal jou dokter waarskynlik antibiotika en ‘n hoesmiddel om die slym op te los, voorskryf.  Wat kan jy by die huis doen? Gee jou kind baie vloeistowwe en ligte kos.

Kinders onder twee jarige ouderdom het brongiolitis wanneer hulle hoes, hul asems jaag en dit lyk asof hulle hyg na hul asem. Jy hoef nie hul koors dop te hou nie, want hulle het gewoonlik nie ‘n vreeslike hoë koors met brongiolitis nie, maar hou sy polsslag dop –meer as 150 slae per minuut is te hoog! Kry jou kind wat enige van of al die bogenoemde simptome toon gou by ‘n dokter of ‘n hospitaal.

C staan vir C, vitamiene C, almal se gunsteling winter vitamien. Al meen sommige dat dit nie verkoue weghou nie, kan ‘n ekstra bietjie vitamien C gedurende die wintermaande beslis g’n skade doen nie. Hoë dosisse van enige vitamien is nooit raadsaam nie.

As die verkoue jou kind reeds beet het, kan kos ryk aan vitamien C  help om die verkoue vinniger te laat opklaar.  Vars vrugte – waaronder lemoene en nartjies - is die beste bron van vitamien C. Kiwivrugte, koejawels, broccoli, aarbeie en patats is nie ver agter nie. Wenk: Bêre sitrusvrugte op ‘n koel, donker plek sodat die vitamien C daarin goed behoue kan bly.

D staan vir droë vel.
Mooi rooi wange is gewoonlik ‘n teken van blakende gesondheid, maar in die winter kan dit vingerwys na ‘n droë vel. Verwarmers in ons huise en motors is dikwels die grootste sondebok terwyl die laer humiditeit en laer temperature ook droër lug meebring.

Hoewel droë vel selde ernstige gevolge het, kan baie droë vel tot dermatitis (inflammasie van die vel) lei. Moet dus nie jou kind se winter vel verwaarloos nie. Hou hul velle só vogtig gedurdende die winter:

  • Gooi olie in hul badwater, maar hou die badskuim uit.
  • Moet hulle nie te lank in die bad (of stort) hou nie, en moenie die water té warm maak nie. Hoe warmer en hoe langer, hoe meer droog die vel uit.
  • As hy uitklim, druk net sy vel droog in plaas daarvan om hom droog te vryf met die handdoek. Só kan julle nog ‘n biejtie vog bewaar.
  • Smeer elke aand én ’n paar keer gedurende die dag ‘n goeie vogroom – een sonder alkohol, kleur- of geurmiddels - aan hul lyfies. Smeer veral die arms, elmboë, hande en wange. Vra jy ma’s wat in die droë(r) binneland bly, sal hulle jou sê niks werk soos Vaseline vir droë lippe en wange nie.
  • Gebruik ‘n bevogtiger in hul kamer as die lug baie droog is.
  • Dieetkundiges sê ook dit wat jy eet kan jou vel vogtig hou. Maak dus seker jou kind neem genoeg van die twee essensiële vetsure omega 3 en 6 in. Omega 6-vetsure kom voor in plantolie (soos margarien, olie en mayonnaise) terwyl omega 3-vetsure hoofsaaklik in vetterige vis soos sardyne, tuna en salm voorkom.

E staan vir vitamiene E wat, net soos vitamiene C en sink, ‘n goeie anti-oksidant is en jag maak op skadelike virusse soos die verkoue een. Hierdie kossoorte bevat almal anti-oksidante: amandels, appelkose, patat, pekaneute, sampioene, spinasie, tamatie, vis en wortel.

E staan ook vir Echinacea stroop wat volgens vervaardigers en getroue gebruikers jou kind se immunititeit ‘n gawe hupstoot kan gee. Gee jou kind ‘n sopie van dié stroop om sy immuunstelsel te help veg teen die nare verkoue- en griepvirusse. Raadpleeg ‘n kenner oor hoeveel en hoe lank veilig is vir jou kind onder vierjarige ouderdom.

F staan vir frokkie waarvan daar ‘n hele paar in jou kind se winterklerekas behoort te wees. Díe kledingstuk wat knus om die bolyf pas sal jou kind se borsie lekker warm hou in die winterkou’.  

 

G staan vir griepinspuiting, onomwonde die beste plan om jul winter griepvry te hou. Kenners sê die inspuiting, wat sowat R60 kos, is 70 tot 90% doeltreffend. Die inspuiting kan ook nie jou kind siek maak nie, want die entstof word nie van lewendige virusse gemaak nie.

Griepinspuitings word meestal net een keer per jaar gegee (gewoonlik kort voor die winter), maar kinders wat dit nog nooit vantevore gekry het nie, moet ‘n maand ná die eerste inspuiting ‘n opvolginspuiting kry. Kinders kry die helfte van ‘n volwasse dosis en babas kan van so jonk as ses maande af die griepinspuiting kry. Die enigste mense wat die nie kan kry nie, is hulle met ‘n eier-allergie of dié wat siek is met ‘n hoë koors. Kinders wat reeds tekens van griep toon of wat sommer net effens siekerig is, moet liefs ook die inspuiting vermy omdat die inspuiting die simptome kan vererger.

Griepinspuitings skrik ongelukkig nie die verkoue virus of bakterieë wat lugweginfeksies veroorsaak, af nie.

H staan vir hoes en hoendersop, nog twee onverwante winterverskynsels.
Wat moet jy weet oor hoes? Eerstens, dat dit verskeie vorme kan aanneem – van droog tot nat tot blaffend. Dit is ook belangrik om te weet dat die meeste oor-die-toonbank hoesmiddels omstrede is en hoesonderdrukkers heeltemal taboe is!

Pediaters skryf meestal twee soorte hoesmedisyne voor: een wat slym losmaak (soos Mucospect en ACC 200)  en ‘n ander wat die spiertjies wat tydens hoesbuie saamtrek, verslap (soos Bronchoped). En volgens dokters is dié middels almal veilig.

 ‘n Blaffende hoes wat skielik opduik en gepaardgaan met ‘n hees stem en ‘n kind wat sukkel om asem te haal, is waarskynlik kroep. Dit is ‘n baie ernstige toestand wat onmiddellike mediese aandag vereis, ongeag die tyd van die dag of nag.

Kinders wat brongitis het hoes ook. Lees by B staan vir brongitis en brongiolitis meer hieroor. ‘n Droë hoes kan weer ‘n simptoom van griep wees waaroor jy meer kan lees by I staan vir influenza virus. ‘n Chroniese hoes wat nie met verkoue of griep gepaardgaan nie, is iets heeltemal anders. As jou kind vir dae of selfs weke aaneen hoes moet die moontlikheid van asma of ‘n allergie ondersoek word.

Hoendersop word geassosieer met kos vir die siekes. Dieetkundiges sê die gebruik daarvan wanneer iemand siek is het waarskynlik meer te make met die feit dat dit in die meeste gevalle iets is waarvoor mense kans sien ten spyte daarvan dat hulle nie juis ‘n aptyt het nie. Tuisgemaakte hoendersop is nietemin voedingryk en bevat onder meer baie proteïene.

I staan vir influenza virus, ‘n gevaarlike een, veral vir klein kindertjies. Navorsing toon dat die virus die ergste toeslaan onder kinders tussen ses- en tienjarige ouderdom, so jou baba of peuter is darem nie in die hoogste risiko groep nie. Kyk nietemin uit vir hierdie griepsimptome en neem jou kind dokter toe as hy van hulle toon:

  • ‘n Skielike hoë koors  (wat tot vier dae kan duur)
  • ‘n Droë hoes
  • Koue rillings
  • Spierpyn
  • Hoofpyn
  • Naarheid en diaree
  • Verstopte neus, maar geen uitstroming

Lees by G staan vir griepinspuiting wat die beste teevoeter vir griep is.

J staan vir ‘n jas wat netjies pas.
Moenie dit afmaak as ouvrou stories nie - kinders behoort warm te bly in die winterkoue, en letterlik van kop tot tone. ‘n Mus wat hul ore toemaak sal hul hele lyf warm hou en kan kopverkoues voorkom. Hou ook hul nekkies en borsies toe as die windjie skraal is en maak seker hulle kry nooit koue voete nie. Vermy skielike koue na ‘n warm bad, maar probeer terselftertyd verhoed dat vertrekke te warm en bedompig raak. Klein lyfies kan ook warm gehou word met warm drankies soos warm melk met heuning en warm sjokolade.

K staan vir koors, menige ouer se grootste vrees.
Koors is die liggaam se manier om te sê hy is besig om ‘n infeksie te beveg. Kyk dinge dus altyd eers uit voor jy begin koorsstroop gee, aangesien dit goed is vir jou kind se liggaam om deur die proses te gaan. As jou kind se koors egter 39 grade bereik, moet jy onmiddellik begin werk maak daarvan om die koors te breek. Parasetemol het die minste newe-effekte vir kinders (moet nooit aspirien vir jou kind gee nie). Setpille om koors af te bring, is ook doeltreffend, veral vir die heel kleintjies. Bykomend kan jy jou kind se kop afspons met lou water en as die koors net nie wil breek nie, trek sy klere uit en sit hom in ‘n bad met lou water – dit maak nie saak hoe koud dit buite is nie!

Koors kan ‘n teken van enige van die volgende wintersiektes wees: brongitis, griep, longontsteking en middeloorontsteking.

L staan vir longontsteking en loopneus.
Longontsteking gaan gepaard met ‘n matige tot hoë koors en ‘n droë hoes. Jou kind kan ook kla van pyn in die bors en naarheid, hy sal swak wees en dikwels moeilik asemhaal. In alle gevalle moet jy hom vinnig by ‘n dokter kry. Intussen moet jou kind baie rus, parasetamol vir pyn en koors en baie vloeistowwe inkry. Longontsteking kan voorkom word deur die entstof, Prevenar wat ook vir die voorkoming van middeloorontsteking gebruik word. Lees meer hieroor onder P staan vir probiotiese bakterie en Prevenar.

Die goedkoopste en mees doeltreffende oplossing vir jou peuter se loopneus is om sy neus gereeld te blaas en hom baie vloeistowwe te gee.  En as jy reeds medisyne soos Coryx probeer het om die sekresies op te droog, maar die loopneus wyk nie, moet 'n dokter kyk of daar nie erger keelinfeksie of sekondere bakteriele infeksie is nie.

Vir jou baba se loopneus kan jy dié boereraat op die proef stel: Koop ’n botteltjie soortgelyk aan dié wat vir urinemonsters gebruik word by ‘n apteek; vul dit met soutwateroplossing (byvoorbeeld Salex) en voeg ‘n knippie koeksoda by. Skaf ‘n medisyne drupper aan en drup gereeld ‘n paar druppels in jou baba se neusgate.

M staan vir mangelontsteking
Die simptome van mangelonsteking is skielike koors (wat dae kan duur), rillings, hoofpyn en ‘n seer keel. Naarheid en diarree is ook algemeen en kinders verloor gou hul eetlus omdat sluk so pynlik is. Soms stroom die neus en die kliere onder die kaak kan vergroot. Kinders wat hierdie simptome toon, moet dadelik dokter toe, aangesien behandeling die doeltreffendste is binne 24 uur.  Wag jy langer, kan verdere komplikasies soos middelooronsteking ontwikkel. Jou dokter sal waarskynlik antibiotika voorskryf.
As mangelonsteking keer op keer terugkom, sal jou kind se mangels dalk uitgehaal moet word.

N staan vir nebuliseerder, ‘n mediese instrument wat goud werd is as jou kinders geneig is tot kroep, ‘n toe bors of asma en julle op ‘n afgeleë plek woon. Dié instrument moet nie met ‘n bevogtiger (humidifier) vewar word nie. Nebuliseerders doen bykans dieselfde werk as ‘n asmapomp (maar vervang dit beslis nie!) omdat dit help om kinders se lugweë weer oop te kry. Dit werk onmiddellik want die nodige medisyne word reguit na die probleemarea – meestal die longe – geneem.

Hoe dit werk: Nebuliseerders skakel vloeibare medisyne om in baie fyn druppels wat in die lug vrygestel word sodat pasiënte dit kan inasem. Dít doen hulle met behulp van ‘n masker oor hul monde en neuse. Dié maskers is in baba- en kindergroottes beskikbaar.

Jou dokter of pediater sal die medisyne - wat meestal in ampule vorm is - wat vir jou kind geskik is voorskryf, asook die tydsduur van toediening.

Hoewel geleerdes verskil oor die doeltreffendheid van nebuliseerders versus byvoorbeeld asmapompies, sê ma’s wat weet dat nebuliseerders gou baie verligting bring.

As jy dit oorweeg om ‘n nebuliseerder vir jul huis aan te skaf, hou in gedagte dat daar hoofsaaklik twee soorte is: die goedkoper kompressor soort en ‘n effens duurder ultrasoniese soort. Die verskil lê in die grootte van die druppel – kompressor nebuliseerders s’n is groter as dié van ultrasoniese nebuliseerders. Hoe kleiner die druppel hoe dieper kan hy in die lugweë ingaan om die medisyne daar af te lewer. Wanneer dit dus kom by nebuliseerders is kleiner (druppels) beter. Hou ook in gedagte dat dié wat met  ‘n kompressor werk ‘n groot geraas maak en kinders dikwels afskrik.

‘n Goeie nebuliseerder kos enigiets van R600 tot R1 500.  Nebuliseerders is ook te huur by die meeste groot apteke.

 

O staan vir oorinfeksies.
Infeksie in die buise van Eustachius tussen die keel en die middeloor is een van die mees algemene komplikasies van verkoue.  En die tekens híérvan kan jy bewsaarlik miskyk: jou kind vat aan sy ore en hy hou op huil wanneer jy hom optel. Dít is omdat die drukking in sy ore verlig wanneer hy regop is. Skielike gille in die nag, koors en etterigheid wat by die oortjie uitloop is drie verdere tekens van middeloorontsteking.  
Oorontsteking word behandel met:
•    Anti-biotika as die infeksie bakterieël van aard is (jou dokter behoort dit te kan bepaal).
•    Pynmedisyne soos parasetamol om jou kind beter te laat voel en sy koors af te bring.
•    Baie rus.
•    Oordruppels om pyn te verlig (soms).
As jou kind heerhaaldelik oorontsteking kry (drie of meer infeksies binne drie maande) sal sy dokter waarskynlik pypies (“grommets”) voorstel. Díe klein buisies word in die oortrom gesit nadat ‘n klein snytjie onder narkose in die oortrom gemaak is, en help om die middeloorspasie agter die oortrom te ventileer.

P staan vir pro biotiese bakterieë en Prevenar.
‘n Pro biotiese aanvulling vir ‘n paar dae ná jou kind ‘n kursus antibiotika voltooi het, sal sy liggaam weer ‘n hupstoot gee. Daar is verskeie soorte op die mark – vir kleiner kinders is dié in poeiervorm wat mens sommer in melk kan oplos die maklikste. Kyk ook uit vir koubare tablette vir jou kleuter. Pro-biotiese bakterieë kom ook in jogurt voor. Die beste bron is natuurlike joghurt, sonder kleur- en geurmiddels.  

Die Prevenar-entstof teen pneumokokkussiektes kan ‘n lewensredder wees. Al die pneumokokkussiektes, waaronder breinvlies- asook long- en middeloorontsteking, is ernstig en kom veral by kinders jonger as twee jaar voor. Daarom beveel dokters graag dié entstof aan vir kinders jonger as twee jaar; kleuters in dagsorg; kinders wat onlangs ‘n kursus anti-biotika geneem het of kinders wat gereeld oorinfeksie kry.

Prevenar blyk só doeltreffend te wees dat die WHO al ‘n beroep gedoen het op regerings wêreldwyd om hierdie entstof ‘n prioriteit op hul skedules te maak. Dié duur inspuiting kan vanaf ses weke af al vir babas gegee word en kos sowat R500 per spuit. ‘n Volledige kursus sal R2 000 of meer kos.

Q staan vir queue soos ‘n tou of ‘n ry wat jy in die winter by jou doktersspreekkamer te wagte kan wees. Die twee mees algemene winterkwale, verkoue en griep, is saam vir meer doktersbesoeke verantwoordelik as enige ander siekte, so wees geduldig as jy moet wag vir ‘n afspraak.

R staan vir rooi keeltjies.
As jou kind kla van seer keel en sy keel is rooi, is daar waarskynlik ‘n bakteriese infeksie waarvoor hy antibiotika moet kry. As daar nie bakteriese infeksie is nie, kan jy ligte pynmedisyne soos parasetemol gee.  Erge seerkeel kan egter ‘n simptoom van mangelontsteking wees wat onmiddellike behandeling verg. Lees meer hieroor by M staan vir mangelontsteking.

S staan vir Singulaire en Scott’s emulsion.
Singulaire bring verligting vir bykans al die simptome van asma – van ‘n gehoes tot ‘n gehyg. Dokters beskryf dit as ‘n voorkomende middel wat die inflammasie van asma aanspreek. As jou kind asmaties is, is dié koubare pilletjie of fyn korreltjies (‘sprinkles’) net die regte ding vir die wintermaande, want dit kan die voorkoms van asma beperk. Singulaire is geskik vir kinders van twee jarige ouderdom af hoewel sommige pediaters dit ook vir jonger kinders voorskryf.  

Bou jou kind se weerstand dié winter op met ‘n daaglikse dosis Scott’s emulsion, ‘n stroop wat al vir meer as 100 jaar deur ma’s regoor die wêreld gebruik word om die wintersiektes weg te hou. Deesdae smaak dit dalk net ‘n bietjie beter as toe jou ouma dit moes drink. Hierdie bekende vitamien- en mineraal aanvulling bevat onder meer visolie, vitamien A en D en kalsium en is geskik vir kinders van eenjarige ouderdom af.

T staan vir toe neusies en toe borsies
Toe neus: Vir ‘n klein baba is ‘n toe neus ‘n baie lastige toestand want dit verhoed hom om ordentlik te kan drink of slaap. Behandel dit dus altyd. Hier is planne:

  • ‘n Paar en gereelde druppels van ‘n soutoplossing soos Iliadin is die beste raad, maar, waarsku dokters, moenie té veel en onnodig hiervan gebruik nie, aangesien dit die probleem later kan vererger en die teenoorgestelde doen van wat jy verlang, naamlik om die neusgange te laat opdroog in plaas van klam hou.
  • Baie dokters meen ‘n ‘n neussproei werk beter as druppels aangesien dit hoër op in die neusgang kan gaan. ‘n Neussproei soos Drixine of Vibrocil  is albei ‘n goeie teëvoeter vir ‘n toe neus, maar moenie langer as vyf dae aaneen gebruik word nie.  Neussproeie wat veilig is vir langdurige gebruik is Saline, Ocean Chamiflour en Euphorbium compositum.
  • Jy kan ook ‘n homeopatiese produk van Weleda, Oleum Rhinale, rondom jou kind se neusgate smeer.
  • As jy borsvoed kan jy ‘n bietjie borsmelk in jou baba se neusie drup voor ‘n voeding. Borsmelk bevat probiotiese bakterieë wat kan help met die opklaar van ‘n toe of loop neus.

Toe bors: Jou kind se bors is gevaarlik toe as hy hyg, baie hard en baie vinnig asemhaal; of as jy sy borskas se op- en af bewegings kan sien. Kry jou kind by ‘n dokter in enige van bogenoemde gevalle.

Hoewel dit nie wetenskaplik bewys kan word dat produkte soos Vicks en Karvol verligting bring vir ‘n toe bors nie, kan jy dit gerus probeer. Wat wel bewys is, is dat Vicks® VapoRub® potensieel skadelik kan wees vir babas en jong kinders. Soos duidelik aangedui op die etiket van dié en soortgelyke produkte, is dit nie geskik vir kinders onder twee jaar nie. Die rede hiervoor is dat van die bestanddele in Vicks die liggaam juis meer mukus kan laat produseer om die lugweë te beskerm. En omdat babas en jong kinders se lugweë soveel smaller as volwassenes s’n is, kan selfs die geringste toename in mukus of inflammasie hul lugweë te dun maak.

U staan vir ultraviolet (UV) strale waarvan ons soms verkeerdelik dink ons kry ‘n blaaskans in die winter. Die UV indeks (die indeks wat algemeen gebruik word as ‘n aanwyser van hoe gevaarlik die son se strale is) is in die winter selde onder die vlak waar kinders nie ‘n hoë beskermingsfaktor sonroom hoef te dra nie. Kenners sê UVA-strale pentreer die aarde se atmosfeer bykans net so veel in die winter as in die somer desnieteenstaande die feit dat die UVB-strale meestal geabsorbeer word in die winter. UVA-strale het langer golwe en is dié wat veroudering veroorsaak terwyl UVB met sy korter golwe meer fel is en verantwoordelik is vir sonbrand.

Kinders is veral sensitief vir sonskade en moet van ses maande af ‘n sonskerm dra. Voor dié ouderdom behoort babas glad nie in die son te kom nie.

V staan vir verkoue, ‘n siekte wat min bekendstelling nodig het maar ook baie maklik, en verkeerdelik, met griep verwar kan word. Verkoue is die oorsaak van ‘n virus, genaamd die rhinovirus. Simptome sluit toestande soos ‘n loopneus, hoofpyn, seer keel en oë wat traan in. Jou kind hoef nie in die bed te bly as die rhinovirus hom beet het nie, maar hou hom uit die skool en behandel die simptome met pynmedikasie soos parasetemol.

Baie van die verkouemedisynes (soos Coryx wat baie ma’s suksesvol gebruik en waarmee dokters nie fout vind nie) bevat ‘n ietsie van alles om verkouesimptome te verlig: parasetemol vir pyn en koors, antihistamine vir die neus en vitamiene vir die immuunsisteem.  Wees dus versigtig om nie nóg medisyne vir jou kind te gee nie, want jy kan hom maklik (en onbewustelik) oordoseer op parasetemol, antihistamine en vitamiene.  As jy iets bykomend wil gee vir ‘n hoes, vra liewer jou apteker of dokter want sommige van die bestanddele in medisyne kan glad nie saam gebruik word nie. En wees versigtig vir oor-die-toonbank verkouemedisynes met ‘n ellelange lys van bestanddele, maan dokters!

W staan vir die wintergesondheid van ander.
Terwyl jy in die winter alles in die stryd werp om jou kinders te beskerm teen wintersiektes, kan jy net so wel  dink aan daardie duisende kindertjies op die straat wat sekerlik ook deurloop onder winterkwale. Skenk ‘n kombers, klere of kos aan geloofwaardige projekte soos Operasie Winterhoop wat bedryf word deur onder meer groot Afrikaanse radiostasies en koerante. Dit is boonop goed om jou kinders van kleins af te leer van die belangrikheid van liefdadigheid.

X vir x-chromosoom, die geslagschromosoom wat net ma’s het, en die beste medisyne vir enige siekte, winter en somer, is!

Y staan vir yster want dié mineraal speel ‘n belangrike rol in jou kind se immuunsisteem, ‘n sisteem wat juis in die winter sy spiere moet bult. Babas van sewe tot twaalf maande het 11mg yster daagliks nodig. Die aanbevele daaglikse toelae (ook bekend as Recommende Daily Allowance in Engels) vir kinders tussen een en veertien is 7-10mg per dag. Lewer is by verre die beste bron van yster en bevat bykans 5.3mg per 85g porsie. Alle rooi vleis en hoender is ook baie ryk aan yster. Droë bone, spinasie, broccoli, eiergeel en yster verrykte ontbytgrane  is almal ook goeie bronne van yster.

Yster gaan ook hand aan hand met die winter se mees geliefde vitamien. Probeer dus altyd om vir jou kind vitamien C-ryke kos (soos lemoene) saam met ysterryke kos te gee, want vitamien C verhoog die absorpsie van yster.

Z staan vir zero toleransie teen winterkieme. En stap een in dié oorlog is om seker te maak jou kind was sy hande reg én gereeld, want dít is die heel beste – en eenvoudigste - wapen in die stryd teen kieme. En dit begin by jou. Was altyd jou hande as jy genies het, jou neus geblaas het, by die badkamer was, met kos gewerk het of ‘n doek geruil het. Nog wenke om jou kinders aan te moedig om hande te wys is om:
•    Handwas seep (die alkohol vrye soort) op hul ooghoogte te plaas.
•    Seker te maak hulle kan die kraan bykom - tel hulle op of plaas ‘n trappie voor die wasbak vir kleuters.
•    Jou kind die gewoonte aan te leer om sy gunsteling liedjie te sing terwyl hy sy hande was, en eers op te hou was as die liedjie klaar is. Só was hy waarskynlik meer deeglik. As jou kind nog baie klein is, sal jy die singwerk moet doen!

Bronne:
www.steiner.co.za ; www.health24.com; www.koolasun.co.za/children; www.mehtachildcare.com;
Ander bronne:
Baie dankie aan drs Deon Smith, Tertius Christie, Lukas de Lange; prof Robin Green en fisioterapeut, Lizelle Bresler vir hul waardevolle insette.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees