Gluten-onverdraagsaam

akkreditasie
My driejarige dogtertjie is allergies vir gluten. Ond het minstens een keer per dag brood geëet, maar nou is ek nie seker met watter ander kossoorte ek die brood en pasta kan vervang nie. My idees is vinnig besig om op te raak. Watter ander alternatiewe kan ek vir haar gee?

Madeleen Schutte (dieetkundige) antwoord: 

Dit is baie moeilik wanneer kinders allergies is, veral wanneer jy kos uit hul dieet skakel en hulle nie verstaan hoekom hulle dit nie mag eet nie. Maak dus baie seker sy is allergies vir gluten en laat doen ’n bloedtoets.

’n Ma van ’n allergiese kind moet die etiket lees van elke ding wat die kind in sy mond sit. Soms word gluten in produkte gebruik sonder dat mense self weet hulle gebruik dit. Produkte wat soms gluten bevat, sluit in jogurt, kaassmeer, speserye, souspoeiers en medikasie. Maak so ver moontlik alle kos self, dan weet jy wat daarin is.

Die meeste gebakte produkte bevat gluten, en die heel maklikste gaan dus wees om ’n kookboek met allergievriendelike resepte aan te skaf. Cooking for an allergy-free lifestyle deur Tammi Forman is ’n moet wat jou sal help om steeds brood, muffins en ander gebakte produkte sonder gluten by jou kind se dieet in te sluit. In hierdie resepte gebruik hulle byvoorbeeld rys- of sojameel. Dié spesiale soorte meel is beskikbaar by gesondheidswinkels en ook deesdae by baie supermarkte.

Beskou dit as ’n uitdaging en ’n leerskool om lekker, gesonde en glutenvrye kos vir jou snip te maak. Maak dit vir haar ’n lekker ervaring, betrek haar en wys haar dat julle lekker gesonde kos maak. Vertel haar dat hierdie kos haar nie so sleg gaan laat voel soos kos wat gluten bevat nie.

Eet ook soms as gesin saam van haar kos.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees