Groeipyne: hoe om dit te hanteer

akkreditasie
Grootword is nie altyd maklik nie en soms kan dit selfs seermaak. Ons het raad vir kleuters (en hul ma's) wat met groeipyne sukkel.

Reg in die middel van die nag, as almal salig slaap, slaan dié gruwelike pyne toe en veroorsaak ’n behoorlike opskudding in jul eens vreedsame huis. Jou kleuter se huilende gille weerklink uit sy kamer en hy skreeu sy babasussie wakker. Mamma probeer vasstel wat verkeerd is, terwyl pappa net brom soos ’n beer…’n beer wat wakker gemaak is!

Is dit sommer net aansit, sy verbeelding, of ’n nare nagmerrie? Ongelukkig nie; groeipyne is ’n werklikheid. Hierdie onwelkome pyne kom soos ’n dief in die nag na omtrent ’n derde van kinders tussen twee en 14 jaar oud en beroof
hulle, én hulle mammas, van ’n goeie nagrus. Bykans 40 persent van slagoffers is tussen vier en ses jaar oud. 

Wat is groeipyne?

Groeipyne is herhaaldelike diep pyn in die bene of arms wat veral in die laatmiddag, aand en selfs in die nag voorkom. Die pyn is meestal in die onderbeen by die maermerrie rond en kom in albei bene gelyk voor.

Dit kan egter ook in die arms ontstaan, weer eens in albei arms. In die oggend wanneer ma hoofpyn het omdat sy te min geslaap het, spring en dans Jannie vrolik rond en van die pyn is daar geen teken nie. Die pyn duur tussen ’n paar minute en ’n paar uur en is taamlik wisselvallig – dit kan elke dag toeslaan, of net een keer in ’n paar maande. Dit kan ’n tyd lank gereeld voorkom en dan maande lank spoorloos verdwyn.

Hoekom kry kinders dit?

Die naam verduidelik mos hoekom jou kind dit kry en daarom staan jy elke oggend ná ’n pynvolle nag met jou maatband gereed. As jy dan nie kon slaap nie, moet daar darem ’n goeie rede wees, en as jy met jou rooi oë by die werk kan spog dat jou pikkie vanoggend ’n sentimeter langer is, sal dit opmaak vir jou goor nag. 

Maar hoewel die meeste groei in die nag plaasvind, veroorsaak groei nie groeipyne nie. Die naam groeipyne is meer as 200 jaar gelede aan dié pyne toegeken toe mense gedink het dat vinnige groei dit veroorsaak, maar intussen is die teendeel bewys. Dit maak sin as ons dink dat die ouderdom waarin groeipyne meestal voorkom, nie is wanneer kinders die vinnigste groei nie. Hulle groei mos op hul vinnigste as hulle babas en tieners is, nie kleuters nie.

As dit dan nie groei is nie, wat veroorsaak groeipyne? Baie wetenskaplikes het al hieroor bespiegel, maar kon steeds nie met ’n definitiewe antwoord vorendag kom nie. Ons weet dit is nie omdat jou kind te maer of ’n bietjie te swaar is nie. Kinders wat te maer, net reg of te swaar is, het dieselfde kans om dit op te doen.

’n Verband met rumatiekkoors is al ondersoek en wetenskaplikes het al selfs gedink dat klammigheid in die huis dit kan veroorsaak.

Party dokters reken dat dit sommer net in jou kleuter se kop is; of is dit dalk in ma se kop? Studies het gewys dat kinders wat groeipyne het se ma’s angstiger as ander ma’s is. Dit klink na ’n hoendereier-situasie, want enigeen wat elke nag wakker geskree word, sal begin angstig raak van die min slaap.

In hierdie stadium lyk dit of daar dalk nie net een ding is wat groeipyne veroorsaak nie, maar ’n paar verskillende
faktore wat alleen of in kombinasie met mekaar ’n rol speel. 

Oorgebruik of ooreising as gevolg van baie fisieke aktiwiteit is die eerste sondaar. Sommige ma’s kan duidelik sien dat die pyne toeslaan as hul kleingoed in die loop van die dag baie aktief was. Hierdie teorie verklaar egter nie die skielike pyn in die nag of pyn in die arms nie, tensy jou kleuter natuurlik heeldag soos Tarzan aan bome rondgeswaai het.

Ander faktore wat ’n moontlike verklaring bied is dat baie kinders met groeipyne swakker bene en ’n laer pyndrempel het. Party studies het ook ’n verband gevind tussen groeipyne en emosionele kwessies in die familie of ander oorsake van spanning. By sommige kinders verminder spesiale binnesole die groeipyne, wat vir ons wys dat struktuurprobleme soos plat voete of oorbeweeglikheid van gewrigte ’n rol kan speel – ten minste by sommige kinders.

Hoe dit ook al sy, vinnige groei kan nie die skuld kry nie – bêre dus maar die maatband en berei jouself liewer beter vir die volgende nag voor.

Moet ek dokter toe?

Alle beenpyn in kleuters moenie ligtelik afgemaak word as groeipyne nie. Dit kan ook ’n teken van ’n ernstige siekte soos kanker, artritis of fibromialgie wees, wat so gou moontlik mediese behandeling vereis.

Groeipyne kan ook verwar word met krampe, maar met ’n kramp sal jy die spierballetjie duidelik kan voel. Daar is ’n klompie tekens dat jy liefs so gou moontlik ’n afspraak by die pediater moet maak:

1. Pyn wat net in een arm of een been voorkom

2. Swelling van gewrigte

3. Gewrigspyn

4. Mank stappie

5. Pyn as hy loop

6. Seerheid met aanraking

7. Rooiheid

8. Hy kneus of bloei maklik

9. Nagsweet

10. Koors, swakheid of gewigverlies saam met die beenpyn

Die dokter sal ondersoek instel en toetse uitvoer om te kyk waar die knoop lê. As jou kind se ongemak aan groeipyne te wyte is, moet jy maar uithou en die beentjies met baie liefde vryf. Voor jy weet het jou kleuter in ’n tiener verander en moet die groeipyne plek maak vir puisies, groepdruk en “los my uit”.

Voorkoming

Omdat ons nie regtig weet wat groeipyne veroorsaak nie, is dit moeilik om te weet wat om te doen om hierdie aaklige pyne te voorkom. Dit lyk wel of jou kind se kans effens kleiner is om groeipyne te kry as jy geborsvoed het – hoe langer, hoe beter.

Een studie het getoon dat babas wat geborsvoed is, se kans kleiner is om met groeipyne te sukkel as dié wat nooit geborsvoed is nie. Dié wat langer as 40 dae borsmelk gedrink het, se kans is ook kleiner as babas wat minder as 40 dae lank geborsvoed is. As jou kind egter groeipyne het, sal die feit dat jy geborsvoed het ongelukkig nie help dat die pyne minder gereeld of minder intens is nie.


Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees