Hanteer seisoenale allergieë só

akkreditasie
As jou spruit sukkel met seisoenale allergieë, nies sy waarskynlik te veel om die lente te geniet. Ons kyk hoe jy kan help.

Seisoenale allergieë is wêreldwyd aan die toeneem en tot 30 persent van ons bevolking sukkel reeds met allergiese rinitis, oftewel hooikoors.

Soos die naam aandui, kom seisoenale allergieë voor wanneer die seisoene verander, veral aan die begin van die lente en herfs, sê dr. Marilee Kriel, ’n kinderarts by die pediatriese pulmonologieen allergiepraktyk van die Clinton-hospitaal in Alberton.

Stuifmeel van bome, grasse, blomme en bossies laat dan die slymvliese van ons lugweë ontsteek. Hoe dikwels die simptome voorkom, verskil van plek tot plek en die graad van blootstelling aan stuifmeel.

Hoe dit werk

Stuifmeel dring die liggaam binne deur die slymvliese van die oë, neus, keel en lugweg, verduidelik Marilee. “Die slymvliese vang dit vas. Normaalweg reageer die immuunstelsel nie hierop nie, maar sommige mense is meer sensitief daarvoor en hul liggaam herken dit as vreemd, en reageer met ontsteking.”

Die allergiese selle stel dan chemiese stowwe soos histamien vry. Die ontstekingsreaksie laat die slymvliese swel, wat irritasie en ongemak veroorsaak. Die simptome volg gewoonlik kort ná blootstelling aan die allergeen.

’n Oorgeërfde geneigdheid tot allergieë, en blootstelling aan die allergeen in die omgewing maak jou meer vatbaar.

Hooikoors is dikwels net die oortjies van die seekoei. “Die meeste kinders wat daaraan ly, het minstens een ander allergiese toestand ook, soos asma, ekseem of ’n voedselallergie.”

Die simptome

As hooikoors die eerste keer sy opwagting maak, kan dit met ’n verlengde verkoue verwar word, sê Marilee. “Maar as die simptome herhaaldelik hul verskyning maak wanneer jou kind aan die allergeen blootgestel word, kan ’n mens dit later van verkoue onderskei.

Hoe meer ’n mens aan die allergeen blootgestel word, hoe sensitiewer word die neus, sodat net ’n klein hoeveelheid allergeen later nodig is om simptome te veroorsaak. Irritasies soos rook of besoedeling kan simptome veroorsaak of vererger.”

Tipiese simptome sluit in:

  • Jou kind vryf gedurig sy neus. Sy neus loop en hy snuif.
  • Hy nies aanhoudend, veral soggens vroeg.
  • Daar is ’n postnasale drup.
  • Sy neus is toe en sy asemhaling snork.
  • Hy het donker kringe om sy oë.
  • Sy neus, keel, verhemelte, oë of ore jeuk.
  • Sy oë traan of is rooi.
  • Hy haal oopmond asem en sy lippe is droog.
  • Hy’s moeg of lusteloos.
  • Hy maak gedurig keel skoon.
  • Hy’s prikkelbaar.
  • Sy borsie fluit.
  • Hy hoes aanhoudend.
  • Hy doen herhaaldelik lugweginfeksies op.

Seisoenale allergieë vang veral kinders sleg, want ’n toe neus kan lei tot gebrekkige konsentrasie, versteurde slaappatrone, gehoorprobleme en swak aptyt en dus swak groei. Dit kan komplikasies
soos middeloor- of sinusontsteking veroorsaak, lewensgehalte aantas en selfs lei tot skewe tande.

Diagnose en behandeling

“Die diagnose word hoofsaaklik gemaak op grond van die geskiedenis van simptome en die teenwoordigheid van ’n familiegeskiedenis van iemand met allergieë. ’n Kliniese ondersoek deur ’n dokter sal die diagnose bevestig.”

Spesiale ondersoeke sluit in:

  • ’n Velpriktoets (dis betreklik eenvoudig en goedkoop)
  • Bloedtoetse (RAST-toetse)
  • X-strale of longfunksietoetse

Allergieë is ingewikkeld en moet liefs nie met oor-dietoonbankmedisyne behandel word nie, sê Marilee. “Gaan liewer dokter toe en kry die regte medisyne.”

Dit kan die volgende insluit:

  • Antihistamiene: Die nuwe geslag antihistamiene maak ’n mens nie vaak nie en verlig ’n loopneus, gejeuk en genies. Dit help egter nie vir ’n toe neus nie.
  • Masselstabiliseerders: Dit help voorkom dat histamiene vrygestel word.
  • Steroïede: ’n Steroïed-neussproei help die neus oopkry.
  • Hiposensitisasie of immunoterapie: Met ’n hewige grasallergie kan die dokter immunoterapie voorstel. Dit behels ’n reeks inspuitings of druppels wat oor drie jaar toegedien word.

Hoe jy kan help

  • Hou die vensters toe, veral as die stuifmeeltelling hoog is en die wind waai.
  • Hou jou kind verkieslik binne op warm, winderige dae, veral ná donderstorms. Die stuifmeeltelling is gewoonlik op sy hoogste in die middel van die oggend.
  • Ruil haar beddegoed gereeld om.
  • Laat haar saans voor slaaptyd bad – soms sit die stuifmeel of grassade in haar gesig of hare vas.
  • Hou die gras kort en moenie jou kind buite laat speel kort nadat die gras gesny is nie.
  • Hou troeteldiere buite – dikwels kleef die stuifmeel aan hul hare vas. Leer haar om altyd hande te was nadat sy aan ’n troeteldier gevat het.
  • Moenie wasgoed buite laat hang op winderige dae met hoë stuifmeeltellings nie – die stuifmeel kan in die klere vassit.
  • Dis ook belangrik dat jou kind gesond eet, te veel parasetamol vermy, en dat julle nie rook nie, sê Marilee.

Homeopatie

Sanet Heymans, ’n homeopaat van Vanderbijlpark, sê homeopatie kyk na die individu eerder as die toestand. “Twee kinders sal inkom met hooikoors, maar elkeen sal uitgaan met ander medisyne.

Allium cepa is byvoorbeeld uitstekende hooikoorsmedisyne. As jy dié rooi-uitjie opsny begin jou oë traan en jou neus loop, en die water wat by jou neus uitkom sal tipies jou bolip brand, maar die trane sal nie jou oë brand nie.

“As hier dus ’n kind aankom wat nies en sy bolip is rooi gebrand, sal hy Allium cepa kry. As sy oë egter bloedbelope en rooi is, maar die druppels uit sy neus brand nie sy bolip nie, kry hy eerder Euphrasia
offi cinalis. As hy nies en proes en sy keel jeuk, gee ek hom Sabbadilla, en as sy oë bloedrooi geswel is sodat hy amper nie daaruit kan kyk nie, kry hy Apis mellifi ca.”

Daar is ook goeie homeopatiese kombinasiemedisyne oor die toonbank beskikbaar, soos Natura se Mixed Allergens en Luffeel-neussproei.

Het jy geweet

  • ’n Studie het bevind seisoenale allergieë soos hooikoors kan die simptome van aandaggebrek hiperaktiwiteitsteurnis (AGHS) vererger en baie kinders met AGHS het ook allergieë. Die navorsers beveel aan dat kinders met AGHS vir seisoenale allergieë getoets word.
  • ’n Masker soos wat Michael Jackson gedra het, kan die simptome van seisoenale allergieë dramaties verlig as daar baie stuifmeel in die lug is.
  • Mense ontwikkel gewoonlik simptome wanneer die stuifmeeltelling meer as 50 korreltjies per kubieke meter lug is.
  • ’n Ierse studie het getoon kinders wat gereeld in ’n motor aan rook blootgestel word, het beduidend meer dikwels hooikoors as dié wat nie moet “saam rook” nie.
  • Die ideale tyd vir buite speel is kort ná ’n reënbui.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees