Help spysvertering met prebiotika en probiotika

akkreditasie
Ons maak nader kennis met pre- en probiotika- aanvullings wat noodsaaklik is vir jou baba se spysverteringstelsel.

Vir jou kleinding se liggaam om optimaal te werk, is ’n gesonde spysverteringskanaal absoluut noodsaaklik. Meer as 500 verskillende soorte bakterieë woel en werskaf in die spysverteringstelsel.

Hul hoeveelheid en eienskappe wissel van plek tot plek. Die vestiging en handhawing van ’n gesonde balans van bakterieë in die dermkanaal is ’n ingewikkelde proses wat selfs wetenskaplikes nog nie heeltemal verstaan nie, sê prof. Renée Blaauw van die Universiteit van Stellenbosch se voedingsinligtingsentrum (Nicus).

Pre- en probiotika is al ’n geruime tyd gonswoorde, maar wat beteken dit nou eintlik?

In eenvoudige taal is probiotika ’n aanvulling wat natuurlike, lewende mikroorganismes bevat wat normaalweg in die spysverteringskanaal voorkom, verduidelik Renée. As jy sekere hoeveelhede van hierdie voedselaanvullings inneem, help dit die mikrobiotiese balans in die ingewande aan en gee dit jou gesondheid ’n hupstoot. Daar is baie verskillende soorte probiotika.

Prebiotika, daarenteen, is ’n natuurlike stof wat in voedsel voorkom. Dit word nie deur die liggaam verteer nie en is dus ’n vorm van vesel. Dit verbeter jou algehele gesondheid deur die groei van sekere “goeie” bakterieë in die ingewande te stimuleer.

Dis meer doeltreffend om pre- en probiotika saam in te neem as afsonderlik.

Hoe dit help

Prebiotika en probiotika dra by tot die vorming van organismes in die dermkanaal met positiewe of beskermende eienskappe, verduidelik Renée. “Die balans tussen ‘goeie’ en ‘skadelike’ organismes
word dus verander ten gunste van die goeies.”

Dit lyk asof verskillende soorte prebiotika in verskillende dele van die dermkanaal aan die werk is. Talle studies is reeds gedoen oor die voordele van pre- en probiotika, maar baie meer navorsing is nog nodig.

Die volgende voordele is ontdek:

  • Dit help met verbeterde dermbeweging en help so met die behandeling van sowel diarree as hardlywigheid.
  • Dit versterk die dermwand en beskerm so teen infeksie.
  • Dit help met absorpsie van voedingstowwe, veral minerale en spesi­fieke kalsium.
  • Dit versterk die immuunstelsel.
  • Dit help om inflammatoriese spysverteringsiektes te voorkom.
  • Dit sorg vir minder koliek en gesonder babas: Nicus sê in een studie oor die gebruik van sekere lewende probiotiese bakterieë (Bi­fidobacterium lactis en Streptococcus thermophilus) in formulemelk, het die babas op formulemelk wat met probiotika aangevul is beduidend minder koliek gehad en ook minder antibiotika nodig gehad as dié wat formulemelk sonder probiotika gedrink het.
  • Dit wil lyk asof sekere probiotika babas met ekseem kan help. In een studie het dit gelyk of die probiotikum Lactobacillus rhamnosus GG ekseem by hoërisikokinders help voorkom. Hierdie verband moet egter nog verder ondersoek word voor enige aanbevelings gemaak kan word, sê Nicus.
  • By vroeggebore babas met ’n baie lae geboortegewig het die toediening van probiotika (Bi­fidobacterium en Lactobacillus) vir 6 weke die aantal sterftes weens nekrotiese enterokolitis (NEK) beduidend verminder. NEK is ’n toestand waar die dermkanaal ontsteek en van die weefsel doodgaan.
  • Probiotika help met beter vertering van laktose in kos.

Hoe kry my baba dit?

Probiotika:

Gesonde bakterieë kom reeds vanaf geboorte in ’n baba se spysverteringskanaal voor, sê Renée. ’n Paar faktore beïnvloed watter soort en hoeveel daarvan in die dermkanaal woon:

’n Baba kry tydens ’n normale geboorte in die geboortekanaal van sy ma se goeie bakterieë, teenoor keiserbabas wat nie hierdie kontak het nie.

Baba se ouderdom met geboorte (hoe nader aan voltermyn hoe beter) en of hy borsmelk kry, speel ook ’n rol. Borsmelk stimuleer die groei van gesonde bakterieë.

Goeie bronne van probiotika:

  • Suiwelprodukte soos jogurt en kaas
  • Gefermenteerde kos soos suurkool

Prebiotika:

Die belangrikste bron is aanvanklik borsvoeding. “Borsmelk is ’n goeie bron van oligosakkariede, ’n vorm van prebiotika,” sê Renée. “Dit gee die baba ’n natuurlike beskerming en bevorder die balans van organismes in die spysverteringskanaal.”

Later, as jou baba begin vaste kos eet, kan hy prebiotika inkry deur natuurlike bronne of deur kos te eet wat met prebiotika aangevul is.

Goeie bronne van prebiotika:

  • Piesangs
  • Hawermout
  • Koring
  • Uie
  • Aspersies
  • Preie
  • Tamaties
  • Peulgewasse
  • Spinasie

Kunsmatige bronne:

Probiotika is teenwoordig in jogurts wat noem dat dit lewendige kulture bevat. Formulemelk en opvolgmelk asook sekere babapappe het bygevoegde pre- en probiotika. Ander kosse waarby probiotika dikwels gevoeg word sluit in vrugtesappe, energiestafies en ontbytgrane.

Kos wat daarop aanspraak maak dat dit prebiotika bevat, behoort die besonderhede op die etiket aan te dui.

Probiotika is te kry in kapsule- en poeiervorm, as koutablette en selfs in strooitjies. Die beste resultate word verkry met simbiotika, ’n kombinasie van pro- en prebiotika. Dit is dus beter om jou kind ’n kombinasie te gee deur byvoorbeeld ’n piesang (vir prebiotika) in jogurt (vir probiotika) op te sny.

As jy jou kleinding ’n aanvulling gee, hou by die voorgeskrewe dosis, aangesien te veel prebiotika kan lei tot opgeblasenheid en winderigheid.

Gee dán probiotika

As ’n kind antibiotika drink, is dit ’n slim idee om ekstra probiotika te gee, aangesien antibiotika die balans van die organismes in die dermkanaal verander sodat skadelike bakterieë oorheers.

As jou kleinding diarree het, veral weens die rota virus, sal probiotika ook help. Studies het getoon die probiotikum Lactobacillus rhamnosus GG help akute diarree by babas met sowat 50 persent verminder.
Bi­fidobacterium bi­fidum in kombinasie met Streptococcus thermophilus in formulemelk verminder ook die voorkoms van diarree weens die rotavirus.

Kinders met ’n familiegeskiedenis van allergieë kan ook baat vind by aanvullende probiotika in hul dieet.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees