Kinders wat te veel voel

akkreditasie
Oorreageer jou kind op aanraking? Hier's hulp!

Skram jou kind weg van aanraking? Kla sy gedurig oor klere-etikette wat haar krap? Gril sy as sy op gras loop of aan modder vat? Haat sy dit as jy onverwags aan haar raak?

Tasdefensiwiteit is ’n abnormale oorreaksie op alledaagse aanraking en aanrakingservarings wat die meeste mense as normaal en onbeduidend sal ervaar, sê dr. Annemarie Lombard, ’n arbeidsterapeut, stigter van Sensory Intelligence Consulting en skrywer van Sensoriese intelligensie: waarom dit belangriker is as IK en emosionele intelligensie (Metz Press).

“Dit word gewoonlik verbind met tasdrempels, wat beteken dat die kind se brein hierdie soort insette meer intens en meer gereeld verwerk – vandaar die oorreaksie.”

Daar is dikwels ’n verband tussen sensoriese oorreaksie en vrees, angstigheid of aggressie omdat die kind se brein na ’n veg-of-vlug-staat oorskakel om haarself te beskerm wanneer sy aangeraak word.

“Dit gebeur outomaties en intuïtief sonder dat jou kind oor die saak dink of die reaksie kan beheer,” sê Annemarie. Die reaksie op ligte aanraking is dikwels hewiger as op dieper, fermer aanraking. Onverwagte aanraking van agter is gewoonlik die ergste.

Annemarie onderskei tussen drie vlakke van tasdefensiwiteit.

Matige tasdefensiwiteit is net ’n liggiese sensitiwiteit vir aanraking. Baie van ons is effens kieskeurig oor hoe ons aangeraak wil word en deur wat. Dis taamlik normaal en kom algemeen voor.

Medium tasdefensiwiteit is sterker en het ’n invloed op jou kind se ontwikkeling en leervermoë.

Kinders met ernstige tasdefensiwiteit word gewoonlik as tasdefensief gediagnoseer en hul probleme is intens, gereeld en veroorsaak dat hulle nie na behore kan funksioneer nie. Hulle het terapie nodig omdat tasdefensiwiteit ’n reuse invloed op hul lewe het.

Pla dit regtig?

Tasdefensiwiteit veroorsaak baie angs en gewoonlik ook sosiale probleme, sê Annemarie. As babas heg hierdie kinders moeilik aan die bors en selfs hul binding met jou word aangetas.

Dis vir hulle moeilik om aangeraak te word, ’n skoon doek te kry, klere te dra, te voed en later na vaste kos oor te skakel. Dis omdat al dié omstandighede verskeie vorms van aanraking behels waarvoor baba sensitief is en waarop sy oorreageer.

Tasdefensiwiteit word ook verbind met prikkelbare of koliekerige babas.

Wanneer hulle ouer word, kan hulle sukkel om aan te pas, hou hulle dikwels nie van sosiale interaksie en verhoudings met kinders van hul eie ouderdom nie, en vermy hulle groep- en kontaksport.

“Dit beperk dus hul ontwikkeling, sosiale leervermoë en latere skoolprestasie,” sê Annemarie.

Waar kry ek hulp?

Arbeidsterapeute wat spesifiek opgelei is in sensoriese-integrasieterapie en -beginsels sal jou kind beoordeel en ’n deeglike geskiedenis saamstel om vas te stel of sy tasdefensief is, sê Annemarie.

Daar moet ’n algemene patroon wees wat in verskeie omgewings te sien is, soos by die huis en by die kleuterskool.

Hoekom mý kind?

Dit lyk of tasdefensiwiteit meestal oorerflik is, sê Annemarie. “Dikwels is die ouer ook sensitief vir aanraking.”

Nog ’n faktor is dat kinders so oorbeskerm word dat hulle nie genoeg sensoriese ervarings kry nie. Hulle word byvoorbeeld nie toegelaat om vuil te word of in modder of water te speel nie. Hoewel so ’n “sensoriese dieet” nie tasdefensiwiteit veroorsaak nie, kan dit die toestand vererger.

Omstandighede kan ook soms ’n oorsaak wees. Sommige kinders word tasdefensief as hulle nie aangeraak word nie. Dis omdat die brein nooit die geleentheid kry om deur die sintuie te ontdek en leer nie. Fisieke en seksuele mishandeling kan ook tasdefensiwiteit veroorsaak of vererger.

Annemarie vind dat tasdefensiwiteit ál meer voorkom. Sy meen dit het te doen met die manier waarop kinders deesdae speel en leer.

“Hoewel tegnologie die wêreld vir ons oopgemaak het, het dit ook veroorsaak dat ons kinders in baie kleiner ruimtes beweeg en speel.

“Sensoriese spel – soos om met modder te speel, vuil te word, rond te kruip, vreemde dinge in jou mond te sit, kaalvoet te loop en met jou kos te speel – is noodsaaklik sodat jou kind se brein al die prikkels deur die sintuie kan verwerk. Dit vorm die hoofpaadjies vir leer in die brein,” sê Annemarie.

“Maar baie babas word nie meer neergesit om vrylik te beweeg, te kruip en vuil te word nie, en baie sensoriese ervarings gaan dus verlore juis wanneer die breinpaadjies daardie blootstelling nodig het om te vorm en ontwikkel.

“Dis asof die ‘outydse’ maniere van speel en kind grootmaak nie meer bestaan nie, en dit beperk normale ontwikkelingspatrone wat eintlik ingebore is en net die ruimte en aansporing nodig het om te ontwikkel,” sê Annemarie.

Sy sê sy lê gedurig klem op die gevare van oorbeskerming en te veel tegnologie. Dit geld nie net vir die dinge waaraan jou kind raak en wat aan haar raak nie, maar ook vir hoe sy beweeg.

Annemarie wonder selfs of daar nie soms ’n verband is tussen die diagnose van aandaggebrek-hiperaktiwiteit, outisme, angssteurnisse en leerprobleme aan die een kant en swak sensoriese diëte aan die ander kant nie. 


Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees