"My baba het TB!"

akkreditasie
'n Ma vertel hoe haar babadogtertjie tuberkulose opgedoen het, ten spyte daarvan dat hulle in 'n goeie voorstad bly. Hier's hulle storie.

Toe klein Chloe Cothill van Kaapstad 10 maande oud was, het sy 3 dae lank koors gehad wat haar ma, Tarryn, nie gebreek kon kry nie. Toe Tarryn (regs) haar dogtertjie op dag drie dokter toe neem, is Chloe onmiddellik in die hospitaal opgeneem. Bloedtoetse het gewys dat daar ’n ernstige infeksie was.

Dokters kon egter nie vir Chloe se ma sê watter bakterie die sondaar is nie. Die pediater besluit toe om ’n x-straal van haar borskas te laat neem – hoofsaaklik omdat klein Chloe 5 maande vroeër die RS-virus (’n kiem wat ook die asemhalingstelsel aantas) gehad het.

Die x-straal wys toe twee klein knoppies wat soos TB lyk in haar borskas. TB-toetse was die logiese volgende stap.

Toetsuitslae

“Die dokter het dooie tuberkuloseselle onder die vel van haar voorarm ingespuit. Dié toets word die tuberkulien-veltoets genoem en ’n mens wag gewoonlik sowat 3 dae op die uitslag. Die toets is positief as daar ’n sirkel of knoppie van ongeveer 10 mm verskyn op die plek waar die selle ingespuit is. Die merk wat op Chloe se armpie verskyn het, was 30 mm,” vertel Tarryn.

Die kombinasie van koors, x-straal-uitslag en die infeksie-merker was genoeg om te weet Chloe het TB.

Die oorsprong

“Ons hele gesin en baba-oppasser moes ons laat toets om seker te maak nie een van ons is geïnfekteer nie,” vertel Tarryn. Almal was kerngesond en Tarryn sê hulle kan net bespiegel oor waar Chloe tuberkulose ingeasem het.

Medisyne moeilikheid

Die pad wat hulle met Chloe se medikasie stap, is maar ’n opdraande, sê Tarryn. Die eerste middels wat hul pediater voorgestel het, word nie meer vervaardig nie. Die volgende middel, wat deur ’n kliniek aanbeveel is, is weer slegs getoets op kinders wat aan tuberkulose blootgestel is en nie self die siekte het nie.

’n Derde soort medikasie wat Chloe kan gebruik, is op die oomblik uit voorraad. “Ons is onaangenaam verras deur hoe moeilik dit is om medisyne wat vir kinders geskik is, in die hande te kry. Die medisyne is ook net by klinieke beskikbaar,” sê Tarryn.

Die Kaapse pediater dr. Helena Rabie sê as daar probleme met die voorraad van voorgeskrewe TB-medisyne is, kan ouers gerus wees dat daar altyd ’n alternatiewe middel by die kliniek, en deesdae selfs by sommige privaat apteke, behoort te wees.

Oos, wes, tuis bes

Chloe het pas haar eerste verjaardag gevier. “Ons grootste uitdaging is nou om te voorkom dat sy siek word. As sy veral gedurende die wintermaande siek word, kan daar komplikasies met haar medikasie ontstaan. Haar pediater is wonderlik en verdien ons opregte dank,” sê Tarryn.

Chloe se immuunstelsel is só onder druk dat hulle haar nêrens heen wil neem nie. Sy het ’n oppasser wat by haar bly wanneer haar ouers werk en bly meestal tuis. Die Cothills woon in ’n Kaapstadse voorstad en volgens ma Tarryn is hulle almal oor die algemeen gesond.

“Ek voel baie sterk daaroor om ouers soos ons te help verstaan dat tuberkulose nie net ’n siekte is wat kinders tref wat in dig bevolkte areas bly, wangevoed is of oor die algemeen minder bevoorreg is nie. Dit kan enige kind op enige tyd tref.” 

Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees