My triomf oor diabetes

akkreditasie
Mariana Smith is 'n diabeet en ma van vier. Sy deel haar verhaal met ons.

Op 33 jaar oud het Mariana Smith – ma van twee woelwaters, vrou van Shawn, projekbestuurder by ’n ITmaatskappy en al ’n tipe 1-diabeet solank as wat sy kan onthou – by haar dokter se spreekkamer uitgestap. Sprakeloos. Die Smiths gaan nie een nie, maar twee nuwe gesinslede bykry.

Beplan, beplan, beplan

“Ek was 26 toe ek my eerste baba gehad het. Daarvóór was ek baie bekommerd dat ek nooit sou kon swanger raak nie. Daarná, dat my baba misvorm of buitengewoon groot sou wees, soos dikwels die geval is met die babas van diabete. Gerugte van suikersiektelyers se babas wat op 36 weke net doodgaan, het ook in my kop bly maal.

Toe kry ek my kop reg. Ek was oorgehaal om ’n gesonde baba in die lewe te bring. Maar dit het baie beplanning geverg: voor, tydens en ná die swangerskap. “Elkeen van my swangerskappe was beplan (behalwe die derde een wat twee pleks van een baba opgelewer het!). My bloedsuikervlakke moes drie maande lank konstant wees voor ons kon dink aan swanger word. Die ideale vlak is tussen 4 en 6,5 millimol per liter. En om dít te reg te kry, verg baie hard werk!

“Ek spuit my nog altyd met insulien in. Ek gebruik ’n langwerkende inspuiting met die naam Lantus en ’n kortwerkende een, Humelog. Langwerkende medikasie beteken die insulien bly 24 uur lank in jou
stelsel. Die kortwerkende soort spuit jy gou-gou voor jy eet.

“Bloedtoetse is deel van my lewe. Ek doen dit normaalweg 30 minute voor elke ete, anderhalfuur ná ete en voor ek gaan slaap. Ek gaan dus nêrens sonder my getroue bloedtoetsertjie nie, want as ek voel
my bloedsuikervlak daal, moet ek onmiddelik toets en iets daaraan doen as dit te laag of te hoog is.

“Al wat hieraan verander het tydens my swangerskappe, is dat ek alles baie meer gereeld moes doen. Ek moes ook heelwat meer insulien inspuit. Met my laaste swangerskap het ek in die eerste trimester
voor slaaptyd 18 eenhede (oftewel “u”) insulien ingespuit. Toe skuif dit op tot 20 u per aand teen die einde van die eerste trimester. In die tweede trimester het ek by 26 u per aand gedraai, en teen trimester drie het ek 34 u voor slaaptyd ingespuit.

Moeilik, makliker, maklikste

“Met die laaste swangerskap was my vingerpunte voos geprik. In ’n stadium het ek my bloed tot twaalf keer per dag getoets! Desondanks het dit eintlik met elke swangerskap makliker geword om my bloedsuikervlak onder beheer te hou omdat ek so gewoond geraak het aan die roetine van toets en spuit, iets eet, en weer toets en spuit. Dit is asof jou moederinstink om jou baba te beskerm inskop.

“My deursettingsvermoë het my bly dryf. As ek wou hê hierdie babas moet normaal wees, moes ék die opoffering maak. Soms het dit beteken dat ek in die middel van die nag of in die vroeë oggendure moes
opstaan om my bloedsuikervlak te toets.

“Ja, alles het van my afgehang, maar sonder my wonderlike man, Shawn, sou ek dit nooit reggekry het nie. As ek mismoedig geword het of moeg was, het hy my aangespoor. My ma, Martie, sus Karen
en my wonderlike vriendin Johnerika was die ander steunpilare.

Fiks en gesond

“Die regte dieet en om fiks te bly was lewensnoodsaaklik vir my en my ongebore babas. Veral my dieetkundige het my hiermee gehelp. Haar raad was ’n gebalanseerde dieet, baie water en die minimum
vrugte omdat laasgenoemde so baie fruktose bevat. Ek het darem elke dag ’n appel geëet. En tussen my ses gebalanseerde maaltye per dag deur het ek hope kruietee gedrink.

Sy het ook gesê ek moet die meeste wit stysel uit my dieet verban en dit vervang met bruin, lae-GI stysel. “Oefentyd was ononderhandelbaar. Ek het water-aërobiese oefeninge gedoen en elke dag gestap. Laasgenoemde het ek sommer voor werk ingepas deur soggens so ver as moontlik van die kantoor af te parkeer en werk toe te loop.

Ek het my bloedsuiker vlak voor elke oefensessie getoets om seker te maak dis nie te laag nie. As dit onder 4,5 millimol per liter was, het ek gou ’n jogurt, broodjie of beskuitjie geëet.

Die wolk oor my kop “Nie een van my babas of kinders het enige skade of nagevolge van my diabetes
nie. Ek is so dankbaar, want daar kon so baie verkeerd geloop het. Dié goed hang maar altyd soos ’n groot donker wolk oor jou kop. Die baba kan misvorm of gestrem wees of oorgroot organe hê.

Daar is ook die aaklige werklikheid van diabetiese keto-asidose, waar die tekort aan insulien jou liggaam sy noodvoorraad, soos vette, laat begin gebruik. Wanneer die liggaam hom só begin afbreek, ontstaan ketone (vetsure) en word ’n soort gifstof in die liggaam vrygestel. Uiteindelik kan jy dan in ’n koma gaan.

“Ek het dié toestand ’n paar keer met die tweeling gehad. Dit was tussen week 28 en 32. Ek was naar, pap, ontwater. My asem was kort en het na soet appels geruik (die reuk van asetoon word soms ook met dié van perskes vergelyk). Ek het egter gou geleer hoe om te voorkom dat die gif in my bloed my babas bereik: Ek teug bietjie vir bietjie aan ’n Coke Light en spuit aanmekaar insulien.

Die oomblik as ek begin naar voel het, het ek geweet ek moet my ketone toets; diabete gebruik ’n urinetoets hiervoor. Dan bel ek die Sentrum vir Diabetes en Endokrinologie se hulplyn elke uur met die uitslag van hierdie toets én ’n bloedsuikertoets tot hulle tevrede is met albei se vlakke. Hulle was regtig in daardie paar uur my lewenslyn.

Die bevalling

“Met my drie keisersneë het alles elke keerglad verloop. Selfs die geboortegewig van al vier my kinders was taamlik normaal.  Marlize was 4,1 kg en is op 38 weke gebore; Matthew, wat op 36 weke gebore
is, was 3,4 kg. Die tweeling, Luke en Samantha, was onderskeidelik 2,24 kg en 2,14 kg en is op 34 weke gebore.

“Ek moes ná die bevalling steeds voortgaan met die baie streng beheer van my bloedsuikervlak sodat die keiserwond goed kon genees. Wondgenesing duur langer by diabete.

Super C’s vir ’n superma

“Ek was só obsessief dat my suiker nie hoog moes wees nie dat my dokter in ’n stadium vir my gesê het ek moet ’n bietjie ontspan, want as dit te laag daal (onder 4,5 millimol per liter), loop ek weer die gevaar dat ek lomerig kan raak en selfs in ’n koma kan gaan as dit nie dadelik behandel word nie. Ek was dus nooit ooit sonder ’n Super C nie, want soms het ek te veel insulien ingespuit en dan is daar niks soos een of twee Super C’s om dit reg te stel nie.

“Nege maande lank het ek 100 persent van my tyd en energie, eintlik my hele lewe, daaraan bestee om seker te maak dat my kinders so ’n ongekompliseerde lewe moontlik kan lei.”

Dokter oor diabetes

Dr. Hennie Lombaard, hoof van die moederlike- en fetalegesondheid-eenheid by die departement verloskunde en ginekologie aan die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria, sê ’n diabetes-swangerskap is ’n groot uitdaging vir medici.

Die afgelope 20 jaar is taamlik baie vooruitgang in die behandeling gemaak, maar die uitkoms vir ma en baba het ongelukkig nog nie betekenisvol verbeter nie. “Goeie glukosebeheer is iets waarmee dokters en hul pasiënte geweldig sukkel.

As bloedsuikervlakke nie doeltreffend beheer word nie – veral tydens bevrugting en in die eerste ses tot agt weke van swangerskap – kan dit ernstige komplikasies vir die baba beteken.” Van die komplikasies
sluit in vroeë miskrame, afwykings in die struktuur van die hart, nier en bekken, buitengewone groot babas en dat die baba dood gebore word.

Veral laasgenoemde is moeilik om met gewone toetse soos ultraklank te voorspel, sê Hennie. Sommige babas kan kort ná geboorte ’n baie lae bloedsuiker hê omdat hul liggaampie nog steeds ekstra insulien vervaardig weens die ekstra suiker wat hulle van hul ma af gekry het. Dié probleem kan egter gou reggestel word met gereelde voedings en in ernstige gevalle, ’n glukose-oplossing wat binneaars toegedien word.

Babas van diabete of ma’s wat swangerskapsdiabetes gehad het, loop ook ’n groter gevaar om geelsug op te doen. Dis egter nie net die baba van ’n diabeet wat deur risiko’s in die gesig gestaar word nie. Die ma self loop ook die gevaar om vroeg in haar swangerskap baie lae bloedsuikervlakke te ontwikkel en het ’n verhoogde kans om preëklampsie op te doen.

“As haar baba baie groot is, sal die bevalling waarskynlik ook baie dramaties wees, want sulke babas se koppe kom deur die geboortekanaal, maar hul skouers sit dikwels vas, wat alternatiewe maniere van verlossing noop en soms tot ’n suurstoftekort by die baba kan lei.”

Hennie sê diabetes kan wel doeltreffend tydens die swangerskap beheer word. Hy hou veral van ’n spanbenadering waar ’n ginekoloog, internis en dieetkundige saamwerk. Hy sê ook insulienpompies –
wat slegs deur ’n dokter voorgeskryf kan word – maak die beheer van bloedglukosevlakke vandag baie makliker.

Dié apparaatjie het ’n dun naald wat onder die vel van die pasiënt inglip en is met ’n pypie gekoppel aan ’n toestel so groot soos ’n selfoon wat aan jou gordel vasgemaak kan word. Só kan diabete maklik heeldag korttermyn-insulien toedien en hul bloedglukosevlak baie goed beheer.

“Al die insulien in die wêreld en ondersteuning van só ’n span sal egter nie help as die ma nie leefstylaanpassings doen nie. ’n Gesonde dieet en oefening is van onskatbare waarde,” sê Hennie.

Borsvoeding en diabetes

Mandy Marcus, ’n dieetkundige verbonde aan die Sentrum vir Diabetes en Endokrinologie in Houghton, Johannesburg, sê ma’s met diabetes kan net so suksesvol borsvoed as enige ander ma. Volgens haar sal jy tien teen een jou insuliendosis moet verminder terwyl jy borsvoed om lae bloedglukose (hipoglisemie) te voorkom.

“Net soos enige ander ma wat borsvoed is dit nodig om genoeg suikervrye vloeistof te drink om ontwatering te voorkom. Dis ook belangrik dat jy jou maaltye (veral die koolhidrate) balanseer met die insulien wat jy gebruik. Monitor jou bloedglukose gereeld om te verseker dat jou glukose in jou doelwit- vlak bly,” sê sy.

Wat is diabetes?

Diabetes is ’n toestand waar die liggaam nie beheer oor sy suikervlakke het nie. Insulien, ’n hormoon wat normaalweg deur betaselle in die pankreas vervaardig en afgeskei word, help om suiker van die bloed na die selle te vervoer en dit in energie vir die liggaam om te sit. Iemand wat aan suikersiekte ly, het óf ’n tekort aan insulien, óf die insulien wat beskikbaar is, kan nie doeltreffend aangewend word nie.

Drie soorte diabetes

Die drie soorte het soortgelyke simptome, maar het verskillende oorsake en kom in verskillende groepe voor.

Tipe 1 ontstaan wanneer die pankreas nie meer insulien vervaardig nie. Dit kom gewoonlik voor by
jong mense onder die ouderdom van 30 jaar, kinders en babas. (Navorsing toon dat babas wat geborsvoed is, minder geneig is om dié soort diabetes te ontwikkel.) Die aanslag is skielik en dramaties.

Mense met tipe 1-diabetes moet daagliks insulien inspuit om te bly lewe. Die meeste lyers beheer hul toestand met groot sukses.

Tipe 2 ontstaan wanneer daar nie genoeg insulien in die pankreas vervaardig word nie of as die insulien
nie na behore werk nie – sommige lyers se liggaamselle ontwikkel ’n weerstand teen insulien. Bykans
90 persent van alle diabete is tipe 2-diabete. Die toestand kom meestal voor by mense wat 40 jaar en ouer is, maar kommerwekkend genoeg neem dit ook toe onder jong mense en kinders.

Hierdie mense is dikwels oorgewig en doen geen oefening nie. Tipe 2-diabetes kan dikwels sonder medikasie behandel word. ’n Gesonder lewenstyl, wat gereelde oefening en gesonde eetgewoontes
insluit, is hier die oplossing. Kinders wat tipe 2- diabete is, moet egter insulien ook spuit of medisyne
gebruik, of albei.

Swangerskapsdiabetes

is ’n tydelike toestand en kom slegs tydens swangerskap voor – meestal in die tweede trimester – en klaar kort ná die baba se geboorte weer op. Die ma en haar baba loop egter al twee hierna ’n groter risiko om later diabetes te kry.

Swanger en ’n diabeet?

Vanessa Melville, ’n verpleegkundige wat in diabetes spesialiseer en by die Sentrum vir Diabetes en Endokrinologie werk, het die volgende wenke vir swanger vroue met tipe 1-diabetes.

  • Toets jou bloedsuikervlak kort voor en 90 minute ná elke maaltyd. Die ideale vlak voor ete is 4 tot 6 millimol per liter. Ná ete moet die lesing onder 7,5 millimol per liter wees.
  • Bly in noue kontak met die span wat na jou omsien en kies ’n ginekoloog wat diabetes verstaan en bereid is om saam met so ’n span te werk.
  • Raadpleeg ’n dieetkundige oor ’n gesonde eetplan wat ontwerp is vir swanger diabete.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees