Oorpypies

akkreditasie
Ek het 'n tweejarige seuntjie wat aanhoudend oorontsteking kry. Wanneer is oorpypies nodig?

Middeloorinfeksie is die algemeenste infeksie by kinders. Tot 70 persent van alle kinders sal voor hulle een jaar oud word ’n episode van middeloorinfeksie hê, en omtrent ’n derde van hulle kan herhaalde middeloorinfeksie kry.

Die infeksie lei tot die opbou van vog in die middeloor, wat pyn en soms koors tot gevolg het. Kinders voel dikwels miserabel en huilerig, hulle kan die seer oor trek, soms het hulle gehoorverlies, vog kan uit die oor loop en verandering in slaap- en eetpatrone kan ontstaan.

Moderne riglyne stel nie altyd antibiotikavoor nie omdat ’n groot persentasie van kinders met middeloorinfeksie sonder antibiotika gesond sal word. Jou dokter sal dit met jou bespreek nadat hy jou kleinding ondersoek het.

Herhaalde middeloorinfeksie is meer algemeen by seuns, kinders in dagsorgsentrums en kinders wat blootgestel is aan sigaretrook. Ook kinders wat lê en bottel drink, kan herhaalde oorinfeksie kry.

Sommige kinders wat herhaalde oorinfeksies kry, herstel heeltemal tussen episodes, terwyl vog in ander se middeloor aanhou opbou. Hierdie vog kan óf geen simptome veroorsaak nie, óf dit kan tot gehoorverlies lei – wat weer spraakontwikkeling kan beïnvloed.

Kinders met langdurige vog in die middeloor kan pypies nodig hê, veral as hul spraak beïnvloed word. Pypies word ook ingespan vir kinders met herhaalde oorinfeksie, veral as hulle nie op antibiotika reageer nie. Oorpypies word ook soms saam met sekere toestande soos ’n gesplete verhemelte en sekere sindrome voorgeskryf.

Omdat oorinfeksie meestal albei ore aantas, word pypies gewoonlik in albei ore geplaas. Dit word onder narkose gedoen en gewoonlik gaan die kinders dieselfde dag huis toe. Die pypies val meestal self ná ’n paar maande uit, maar moet soms chirurgies verwyder word.

Die hoofvoordeel van pypies is dat dit kinders met agterstallige taalontwikkeling se taal dikwels vinnig en dramaties verbeter. Ander wat gereeld antibiotika moes kry, kan dikwels met pypies net met oordruppels behandel word.

Die nadele van oorpypies is hoofsaaklik die risiko van narkose en dat water daarna uit die ore gehou moet word. Jou kleinding sal dus waarskynlik met oorproppies moet swem.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees