Skoentjies moet sy dra

akkreditasie
Noeleen Foster
Willem (31) en Chrisna (30) du Toit van Pretoria se dogtertjie, Miné (4 maande), is met 'n klompvoetjie gebore. Chrisna deel hul verhaal

Ek het onmiddellik ná die geboorte gesien dat Miné se voetjie skeef en ingedraai is, maar op daardie oomblik was dit nie vir my belangrik nie. Min het ek geweet watter groot invloed daardie klein voetjie op ons lewe sou hê. Die dokters en verpleegpersoneel het Apgartoetse gedoen, alles was in die haak en niemand het iets oor die voetjie gesê nie.

In ons kamer het ek vir Willem gevra of hy gesien het dat haar een voetjie anders lyk. “Ja, ek het gesien, kom ons wag vir die pediater,” was sy antwoord.

Die pediater het later vir Miné ondersoek en gesê dat sy gesond is, maar ’n klompvoet het. Ek het my koud geskrik - ek het so min daarvan geweet en Willem het nog nooit eens daarvan gehoor nie.

Die onsekerheid wat vloei uit onkunde en vrees vir dit waardeur ons babatjie moes gaan, het ons stomgeslaan. Hoe kon daar iets fout wees, sy was dan vir ons so perfek en mooi? Ná ’n geboorte loop die emosies in elk geval hoog, soveel te meer wanneer daar iets fout met jou kind is.

Later het die ortopedis ons besoek en bevestig dat Miné aangebore talipes equinovarus (CTEV) het. Al is dit die algemeenste geboorteafwyking, was die nuus moeilik om te verwerk. 

Ons was nooit teleurgesteld nie – net geskok. Miné se klompvoetjie het nie die vreugde van haar geboorte van ons weggeneem nie. Ons was dolverlief op haar. Ek het aanvanklik geworstel met skuldgevoelens, al is daar geen bekende rede waarom babas klompvoete ontwikkel nie.

Ek het gewonder of ek dalk die oorsaak was, of dat dit iets was wat ek gedurende my swangerskap gedoen het. Ek weet gelukkig nou dat niks wat ek gedoen het, dit kon verander het nie.

Dit het met Miné gebeur en niks kan dit verander nie – ons kan haar ondersteun en haar probeer dra deur alles waardeur sy moet gaan.

Ons vind hulp

Toe Miné vyf daggies oud was het ons dr. Stefan Colyn, ’n ortopediese chirurg wat in klompvoete spesialiseer, ontmoet. Hy het bevestig dat sy ’n klompvoet het. Dr. Colyn, ’n man met baie empatie en ’n gawe om dinge in perspektief te stel, het al ons vrae beantwoord en aan ons verduidelik dat Miné se voetjie rigied is.

Hy het ons van die Ponsetimetode vertel en hoe hy haar wil behandel. Die Ponseti-metode is ’n manipulerende tegniek wat klompvoetjies met die hulp van gips regstel.

Ons was verlig om te hoor dat Miné nooit ernstige chirurgie sou nodig hê nie. Dr. Colyn het ook gesê dat babatjies met klompvoete soms heupprobleme het, maar Miné genadiglik nie. Sommer daar en dan, met die eerste afspraak, het hy en Willem haar eerste gips aangesit.

Ons het in die eerste nege weke elke week teruggegaan om nuwe gips te laat aanbring. Met hierdie afsprake het dr. Colyn met sagte manipulasie en massering Miné se voetjie uitgedraai.

Voor so ’n afspraak het ek die gips self afgehaal – eers in ’n emmer met warm water en ’n bietjie asyn – voor ek geleer het dat die gips nie die drein sal laat verstop nie. Dit het sowat ’n halfuur geduur voor die gips sag was en daarna het ek dit afgerol, nes jy ’n verband afrol.

Ons het in verwondering gestaan toe ons ná net een week die uitstekende vordering sien! Ek en Willem het albei in trane uitgebars van verligting.

Ons las het sommer ligter gevoel. Ons het besef dat ons groot genade ervaar en dít het ons oorweldig. Van nege weke af het ons net elke tweede week na dr. Colyn gegaan om die gips te laat ruil.

Die klein prosedure 

Op 13 weke moes Miné ’n hakskeenloslating (Achilles-tenotomie) ondergaan.

Met hierdie prosedure het dr. Colyn haar stywe hakskeensening in die skede afgesny sodat haar voetjie uiteindelik heeltemal kon uitdraai en haar hak plat op die grond kon wees. Die sening groei gewoonlik binne drie weke terug. Die prosedure duur sowat ’n halfuur en sy is dieselfde middag ontslaan.

Ek was baie gespanne oor die operasie – sy was nog so klein! Ek is toegelaat om haar in die teater in te neem. Sy het op my skouer aan die slaap geraak, maar toe ek haar op daardie groot, koue teaterbed neerlê, het sy vreeslik begin huil.

Die narkotiseur het dadelik gas begin toedien en sy het stelselmatig minder gehuil en uiteindelik aan die slaap geraak. Ek moes die teater verlaat en my klein babatjie daar los. ’n Mooi gebaar van ’n verpleegster het my getroos – sy het haar sagkens in haar kombersie toegedraai.

Dit was die langste halfuur van my lewe; my hele lyf het gebewe. Selfs al weet jy dat dit ’n veilige operasie is, is jy steeds bang dat iets met jou baba gebeur.

Ná die suksesvolle operasie het Miné drie uur aaneen gehuil – ek dink dit was ’n kombinasie van honger, koue, pyn en verlange na my. Sy was rasend honger, maar te ontsteld om te drink. Die volgende drie dae was besonder moeilik.

Ons baba het ons egter verbaas met haar vermoë om aan te pas en voort te gaan.

Ná die operasie het Miné weer gips gekry wat baie swaarder was as die voriges. Dié gips het haar voet goed vasgehou sodat die hakskeensening korrek kon heg.

Presies een maand later het dr. Colyn die gips met ’n klein sagie verwyder en haar voetjie het mooi gelyk! Sy het net ’n klein snytjie van omtrent 2 mm aan die agterkant van haar enkel gehad.

Miné se beentjie was spierwit, dun en ongelooflik tassensitief. Sy het sommer begin huil wanneer ons aan haar voetjie vat.

Tyd vir skoentjies 

Ons is daarna na die ortotis toe. Hy het Miné se voetjies gemeet sodat sy spesiale skoentjies en ’n staaf wat met skroewe aan die skoentjies vasgeheg word, kon dra. Dié skoene en staaf voorkom dat haar voetjie terugdraai.

Ongelukkig moet ’n kind met net een klompvoet aan albei voete skoene dra omdat die staaf die klompvoet in ’n oorgekompenseerde 60 grade-posisie hou en haar ander voet in ’n normale 30 grade-posisie.

In die eerste maand het Miné die skoene 23 uit die 24 uur in ’n dag gedra. Ná eend maand sou dr. Colyn haar vordering beoordeel en dan die tyd wat sy die skoene moet dra verminder.

Die volgende twee dae was ’n nagmerrie – Miné het bloumoord geskree as die skoene aan was. Dit was vir my en Willem ontsettend moeilik om haar so te sien huil en te weet dat dit wat haar moet help, haar so seer maak.

Daardie eerste nag met die skoene aan was my hart stukkend. Dankie tog vir my oopkop, geduldige man, wat my bemoedig en getroos het, al was hy self seer oor ons kind.

Miné het blase op albei voete en blou hale oor die brug van haar voetjie gekry. Die skoentjie het nie reg gepas nie en sy het dit bly uitskop. Keer op keer moes ons van voor af probeer om die skoen aan te trek. Ek het nie geweet hoe ek deur daardie maand sou kom nie.

Ons is vier keer terug ortotis toe en een keer saam met die ortotis na dr. Colyn voor die skoene en staaf reg gepas het. Dinge het toe begin rustiger raak en Miné het goed aangepas.

Ná ’n maand het ons wonderlike nuus gekry: Miné se voetjie het uitstekend gevorder en sy hoef haar skoentjies net te dra terwyl sy slaap.

Om te keer dat haar voet nie weer terugdraai nie, moet sy die skoene en staaf snags dra tot sy vier jaar oud is. Dis lank, maar ek glo dat ons met ’n positiewe lewenshouding hierdie proses vir Miné kan makliker maak.

Miné se toekoms

Daar lê nog baie uitdagings vir Miné voor. Ek is veral bekommerd oor die groot verskil in die grootte van haar voetjies.

Toe ek dr. Colyn daaroor vra en sê dat ek so graag wil hê dat sy eendag mooi skoene moet kan geniet, het hy dinge vir my in perspektief gestel: “Mevrou, sy gaan die lewe geniet!” Klompvoete wat nie behandel word nie is ’n baie ernstige gebrek, en juis daarom is Miné bevoorreg om ’n wonderlike dokter te hê. Met genade behoort sy normaal te ontwikkel.

Ek het besef dat daar soveel belangriker dinge in die lewe is. Miné is ’n blymoedige, vriendelike dingetjie en haar lewensvreugde is aansteeklik. Sy is lief vir grappies en liedjies sing. Ek sien nie ’n dogtertjie met ’n klompvoetjie as ek na ons kind kyk nie.

Ons het dikwels gevra waarom so iets gebeur en steeds weet ek nie hoekom enige kind met afwykings gebore word nie. Ek weet wel dat God ons tree vir tree dra, bemoedig en ongelooflik seën.

Miné se voetjie is ná behandeling gesond. Ek glo dat haar gees ook gesond hierdeur sal kom; dit is immers sy wat hiermee moet saamleef en dit moet aanvaar.

Vir ons is ons pop perfek nes sy is. Dis my voorreg om in haar lewe te mag deel. In werklikheid was my eerste gedagte toe ek Miné se skuins voetjie gesien het die naaste aan die waarheid – dit is eintlik glád nie belangrik nie.

Is jou kind gebore met klompvoete? Stuur jou stories na web@babaenkleuter.co.za

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees