Speel klaar met spatare

akkreditasie
Wat is spatare, hoekom vorm dit en kan mens dit vermy?

Saam met jou swellende lyf en konstante moegheid is daar dikwels nóg ’n onplesierige swangerskap-simptoom: spatare. Soms is dit pynlik en laat dit jou bene moeg voel; ander kere is dit gewoon onooglik. Maar al kan jy spatare nie altyd heeltemal vermy nie, is daar tog baie wat jy kan doen om dit onder beheer te hou of agterna te laat verwyder, sê ’n chirurg.

Wat is spatare?

Spatare doen hulself in verskillende gedaantes voor: fyn blou aartjies op die onderbene en enkels, of groter, bonkige are op die bobene. Dit kan ook vorm op die vulva, en aambeie is eintlik niks anders nie as spatare om jou anus.

Spatare gaan gewoonlik nie gepaard met enige ander simptome nie, maar soms kan dit pynlik en ongemaklik wees.

Dis ook iets wat van een swangerskap na ’n ander kan verskil. Jy kan dit die eerste keer heeltemal vryspring, maar dit in ’n tweede of derde swangerskap kry. Dis ook algemeen dat spatare ligter word of soms heeltemal verdwyn ná ’n swangerskap, net om weer hul opwagting te maak wanneer jy weer verwag.

Wat veroorsaak spatare?

Volgens dr. Charl Dreyer, ’n vaskulêre en algemene chirurg in Kaapstad, is die verband tussen spatare en swangerskap nie heeltemal duidelik in die mediese literatuur nie.

“Ons is nie seker of swangerskap spatare veroorsaak, of dalk net die voorkoms vervroeg van spatare wat in elk geval later sou ontwikkel het nie,” sê Charl.

Jou are het ’n netwerk van mikroskopiese dun kleppies wat sorg dat die bloed nie weens swaartekrag in die onderste helfte van jou lyf opdam nie. As dié kleppe om die een of ander rede nie dig sluit nie, vloei die bloed terug en word dit vasgekeer. Die aar word vol, die wande rek en poef! ’n Spataar ontstaan.
Swak kleppe kan spatare dus mettertyd laat ontwikkel selfs sonder ’n spesifieke katalisator soos swangerskap, sê Charl.

Oorgewig en swangerskap kan spatare wel aanhelp. As jy swanger is, sit jy gewig aan (wat die are harder moet laat werk), en die baba is boonop ’n vreemde voorwerp wat in die pad van die natuurlike bloedvloei lê en die are se werk nog verder bemoeilik. Nog moontlik oorsake van spatare sluit in hormoonveranderinge, en dat ’n mens se are in ’n mate ontspan terwyl jy swanger is – wat albei ’n invloed kan hê op hoe dig die kleppies sluit.

Hoe kan ek daarvan ontslae raak?

Spatare verdwyn gewoonlik nie heeltemal ná swangerskap nie, maar hulle kan aansienlik beter begin lyk, sê Charl.

As jy wil, kan jy jou spatare ná die geboorte laat verwyder. Van die opsies sluit in:

  • Eksterne laserbehandeling vir fyn aartjies.
  • Endoferiese laser vir groter, meer prominente are.
  • Hitte- of mikrogolf-behandeling.
  • Fisieke verwydering van die aartjies met chirurgie.
  • Skleroterapie: Die spataar word ingespuit sodat dit “sterf” en mettertyd deur die liggaam opgeneem word.

Charl waarsku egter dat daar altyd die kans is dat spatare ná behandeling kan terugkeer omdat soveel faktore by hul vorming betrokke is.

Hoor by jou mediese fonds of hulle die koste van spataar-verwydering sal dek, aangesien baie fondse dit beskou as ’n kosmetiese prosedure waarvoor hulle nie betaal nie.

Hoe kan ek spatare vermy?

Die beste raad is om jou bloedvloei, wat onder druk verkeer, te verbeter.

  • Probeer om jou voete te lig wanneer jy ook al kan: agter jou lessenaar by die werk of saans voor die TV.
  • Probeer volhou met ’n matige oefenprogram om jou bloedsomloop te verbeter. Swem is uitstekende oefening tydens swangerskap.
  • Moenie stywe klere dra wat die bloedvloei verder belemmer nie.
  • Moenie vir lang tye aaneen staan nie.
  • Hou jou gewig dop voor en tydens swangerskap.
  • Fokus op oefeninge wat die kuitspiere versterk, soos stap of enige oefening waar jy ligte gewigte inspan.
  • Elastiese kouse gee gewoonlik onmiddellike verligting.

Ekstra bronne: www.women24.com, www.wikipedia.com

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees