Sproei en my borsbaba

akkreditasie
Ná ‘n onlangse kurses antibiotika het ek sproei (Candida) rondom my vagina ontwikkel. Kan dit my borsbaba aansteek? Ek het gehoor dat sproei in hul mondjies hul voiding beïnvloed. Daar is niks by my borste nie, maar ek wonder steeds.

Dr. Jana Mostert antwoord:

Candida albicans, wat sproei veroorsaak, is ‘n gis wat in klein hoevelhede by meeste mense voorkom.

Die populasie van Candida-organismes word gewoonlik in toom gehou deur die immuunstelsel en goeie bakterieë soos Acidophilus- en Bifidum-spesies. Die goeie bakterieë reguleer Candida-vlakke deur om beskikbare plek en kosvoorrade te kompeteer, en solank die immuunstelsel sterk genoeg is en daar genoeg goeie bakterieë is, word Candida in balans hou.

Jou Candida-populasie kan toeneem en inflammasie veroorsaak as die goeie bakterieë amper uitgewis word, soos gebeur wanneer antibiotika geneem word of as die immuunstelsel afgetakel is weens onder meer vigs, klierkoos, kanker, hewige stress of kortisoonbehandeling.

Die meeste gevalle van Candida-infeksie lei tot oppervlakkige, maklik behandelbare inflammasie (sproei) van die vagina, mond, keel of dikderm, maar in mense met ‘n baie swak immuunstelsel kan lewensgevaarlike infeksies van ander organe soos die longe en brein ontwikkel. Dit gebeur gelukkig selde.

Jou baba het heel waarskynlik ‘n paar Candida albicans-organismes aan boord. As dit nie van jou af gekom het nie, dan kom dit van iewers anders.

Dit is belangrik om aan te hou borsvoed as jy kan, omdat dit jou baba se immuunstelsel aanhelp. Maak ook seker dat jou baba genoeg goeie bakterieë inkry deur Infantiflora of reuteri-kapsules se inhoud vir die duur van een week op jou tepels te strooi elke keer voor jy jou baba voed.

Jy self kan ook baat vind by ‘n mondelikse aanvulling van goeie bakterieë, soos BIOremFERMENT, wat ook vaginaal aangewend kan word om vinnige verligting te bring. 

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees