Superkos vir kleuters

akkreditasie
Kleuters het gewoonlik sterk kosvoor- en afkeure, sorg só dat jou wysneus genoeg van die regte kosse inkry.

Al ooit gewonder hoekom jy nog steeds so lief is vir jou ma se malvapoeding en net nie boerepatats kan verruil vir gestoomde broccoli nie? Studies toon dat eetgewoontes wat in ’n mens se kinderdae aangeleer is, oorgedra word in volwassenheid.

Gesonde eetgewoontes is nie net belangrik vir die optimale fisieke en kognitiewe ontwikkeling van jou kleuter nie, dit kan hom ook beskerm teen hartsiektes, diabetes, kanker, osteoporose en vetsug later in sy lewe. As jy jou kleinding dus wil help, is dit nou die tyd om appels en spinasie sy gunstelinge te maak – en om ook te sorg dat hy gereeld ’n bal gaan skop.

Meneer Fiemies

Om die regte kos in ’n kleuterlyfie te kry is ’n kuns. In die grootwordproses ontdek jou kind dat hy self kan kies en gebruik die etenstafel om sy onafhanklikheid te wys. Hy kan besluit om net een soort kos te eet of om glad nie te eet nie. Hy kan selfs besluit om skielik sy gunstelingkos te weier net omdat hy kán en gewoonlik ook omdat hy weet hy kry dan meer aandag as wanneer hy stroopsoet sit en eet.

Vir party kinders mag die verskillende soorte kos op hul bord nie aan mekaar raak nie, en as die broodjies “verkeerd” gesny is, kan jy maar vergeet dat hulle dit sal eet. Snaakse reuke kan jou kleuter afsit en louwarm kos word verkies bo baie warm of baie koue kos.

Kleuters se belangstelling in kos verminder om plek te maak vir interessanter dinge in die wêreld om hulle. Hulle kan maklik verveeld word met dieselfde kosse, maar is ook meer versigtig vir nuwe kosse as hul bababoeties.

Gee bekende kosse op verskillende maniere en hou aan om nuwe soorte te gee, selfs al wil hy dit aanvanklik nie eet nie. Sommige kinders moet ’n nuwe kos verskeie kere sien voor hulle sal waag om dit te eet. Moet hom nie dwing nie omdat dit die aanvaarding van die kos in die wiele kan ry.

Kleuters hou van kos wat maklik is om te eet, vingerkos en aparte kos eerder as gemengde geregte. Sit dit voor op prettige maniere met verskillende kleure, geure en vorms. Laat hom toe om te besluit wat en hoeveel hy wil eet. So leer jy hom om na sy liggaam te luister.

As hy iets nie eet nie, moedig hom een keer aan en as hy dit weier, neem dit weg sonder om iets te sê.

Klein kinders wil hul ouers tevrede stel en as hy sien dat jy tevrede is as hy sy kos eet, sal hy dit weer doen. Laat hy hoor hoe jy vir ander vertel hoe mooi hy eet of beloon hom deur tyd met hom deur te bring. Wees egter versigtig vir te veel aandag omdat dit weer kan lei tot ooreet net om aandag te kry, en later kan bydra tot oorgewig.

Moenie kos gebruik om jou kind se aandag af te trek, hom te beloon of te straf nie. ’n Lewenslange positiewe houding teenoor kos is belangriker as wat jou kind vandag eet. Alle kleuters beleef tye dat hulle swak eet; dit gaan weer verby. As jou kind se kieskeurigheid egter sy groei beïnvloed, kan dit help om ’n dieetkundige te raadpleeg.

Lewenslank gesond

Jou kleuter se magie is maar klein en het gereeld ’n klein bietjie kos nodig. Gee dus drie maaltye en twee tot drie gesonde versnaperings wat bestaan uit klein porsies van ’n groot verskeidenheid kosse.

’n Maaltyd behoort te bestaan uit kos uit minstens drie voedselgroepe, en ’n versnapering uit minstens twee. Te groot porsies kan intimiderend wees vir so ’n klein lyfie; hou porsies dus gepas vir sy ouderdom.

As riglyn kan een eetlepel van elke voedsel vir elke jaar wat hy oud is, gebruik word. Jy kan eerder nog gee as hy meer wil hê; laat sy eetlus jou lei.

Kinders doen wat hulle by ouers en ander rol modelle sien. Die eerste stap is dus om jou eie kieskeurigheid te laat vaar en die spinasieblaar te geniet! Moet hom nie dwing om sy kos op te eet of hom beperk as hy nog gesonde kos wil hê nie.

Fokus op voedingstofdigte kosse uit die hoof-voedselgroepe (vleis of melk, vrugte en groente, brood en graan). As hy een maaltyd weier, kan jy rustig wees omdat die ander ook genoeg gesonde kos bevat.

Brood-en-graan-groep

Kies een voedsel vir elke maaltyd. Minstens die helfte moet volgrane wees. Kies moontlik dié met 'n lae of  mediêre glukemiese indeks (GI)

  • Hawermoet
  • Hawersemels
  • Volgraanontbytvesels
  • Lae-GI-volgraanbrood
  • Lae-GI-volgraanbeskuidjies
  • Pasta (durumkoring)
  • Bruinrys
  • Stampkoring
  • Koeskoes
  • Mielies
  • Meiliepap (afgekoel)
  • Patats
  • Aartappels

Vrugte-en-groente-groep

Kies 'n vrug of groente vir elke maaltyd en versnapperings. Minstens vyf vuisgrootte porsies. Gee dit  met die skil waar  moontlik, en wissel gaar en rou  groente af.

Vleis en vleis-alternatiewe

Kies een twee keer per dag. 'n Jong kleuter benodig sowat 2 eetlepels en die oueres 4 eetlepels per dag.

  • Bees-, skaap- of varkvleis
  • Hoender
  • Vis (2 keer per week)
  • Lensies
  • Gedroogde ertjies
  • Droë bone
  • Sojaprodukte
  • Neute

Melk en melkprodukte

Kies drie keer perdag met 'n maaltyd of versnappering gee 500-600 ml in 24 uur.

  • Melk
  • Jogurt
  • Maaskaas
  • Kaas

Lekkerbek

Behalwe kos uit die hoof-voedselgroepe het jou kind ook vette en olies nodig. Kies gesonde kosse hoog in vet soos avokado, grondboontjiebotter, neute en kaas. Vermy liefs hoëvetkosse wat min of geen vitamiene en minerale bevat nie, soos sjokolade, aartappelskyfies, koekies en ander gebak.

Wegneemetes en lekkernye behoort slegs per geleentheid gegee te word omdat dit hoog is in energie, versadigde vette, sout en suiker, en min of geen voedingstowwe verskaf nie.

Moenie lekkernye in die huis aanhou nie, dan sal jou kleuter dit nie uit die koskas krap nie. Sorg eerder dat daar altyd genoeg vars vrugte en groente beskikbaar is.

Iets te drinke

Gee vir jou kleuter met elke maaltyd en versnapering iets om te drink. Die beste drankie is onversoete water en elkeen het ook 500 ml melk per dag nodig. Van twee jaar oud af kan laevet-koeimelk gegee word as jou kind oorgewig is, anders kan volroommelk gebruik word tot sy vyfde verjaarsdag.

100 %-vrugtesap verdun met water kan saam met maaltye of versnaperings gegee word, maar beperk dit tot 125 ml per dag. Versoete drankies soos vrugtesap, koeldrank, sportdrankies of tee met suiker wat tussen maaltye of regdeur die dag gegee word, kan sy gesondheid skade doen. Dit kan sy eetlus verlaag, wat kan veroorsaak dat hy swak eet, voedingstekorte ontwikkel en swak groei. Dit kan ook bydra tot tandbederf.

Groot hoeveelhede vrugtesap kan lei tot oorgewig, en veral appel- en peersap kan diarree veroorsaak. Vermy ook drankies wat kafeïen bevat.

Kos is op die tafel ...

Kinders wat gereeld maaltye saam met hul gesin eet, het beter en gesonder eetgewoontes. Beplan jul dag so dat julle soveel moontlik maaltye saam eet. Jou kleinding moenie moeg wees nie, want dan sal hy swakker eet.

Om sy eetlus te verbeter kan hy baie buite speel, maar voor ete moet hy liefs iets rustigs in die huis doen om kalmer te word. Skakel die televisie af en pak speelgoed weg sodat daar nie iets is wat sy aandag kan aflei nie.

Maak seker dat hy gemaklik sit in ’n eetstoeltjie of ander gepaste stoel vir sy klein lyfie en gebruik kleurryke eetgerei wat kindervriendelik is.

Peuselhappies

Kleuters moet tussen hoofmaaltye eet, maar hou by beplande versnaperings. As jy hom toelaat om heeldag te peusel sal hy nooit honger wees met etenstyd nie en sal sy dieet ongebalanseerd wees.

Moenie versnaperings minder as 90 minute voor sy maaltye gee nie, want dit sal sy eetlus wegneem. Gee slegs skoon water om te drink.

Kies gesonde versnaperings wat ryk is aan voedingstowwe. Hoewel droëvrugte gesond is, kan dit bydra tot tandbederf; gee dit dus net as jy sy tandjies daarna kan borsel.

Doendinge vir beter eet

Maak jou kleuter betrokke wanneer jy kos koop en maaltye beplan. Laat hy byvoorbeeld kies watter vrugte julle koop en watter groente julle gaarmaak. Wanneer jy kos maak, kan hy die groente was, blaarslaai breek, bestanddele byvoeg of tafel dek. Terwyl hy help, kan jy oor gesonde kos gesels en verduidelik hoekom sy lyfie dit nodig het.

Julle kan ook proepartytjies hou waar kinders verskillende groente en vrugte kan proe en smake vergelyk. Vertel stories met groente- en vrugtekarakters en laat elkeen sy eie groentetuin maak of vrugteboom plant.

Aanvullings

Die meeste kleuters het nie aanvullings nodig nie. As jou kind ’n gesonde en gebalanseerde dieet volg, sal hy alles kry wat hy nodig het.

Kleuters wat baat kan vind by aanvullings is dié wat een of meer voedselallergieë het of aan kos- intoleransies ly. Kinders wat sleg eet, aan ’n chroniese siekte ly of streng vegetariërs is, het dikwels ook aanvullings nodig.

Steek kers op by ’n dieetkundige as jy onseker is of jou kind ’n aanvulling nodig het.

Besig besig besig

Ewe belangrik as gesonde eetgewoontes is dat jou kleuter aktief moet wees. Dis gewoonlik nie moeilik nie omdat kleuters van rondhardloop hou. Beperk televisie- en rekenaartyd tot nie meer as ’n uur per dag nie. Moedig minstens een uur fisieke aktiwiteit per dag aan en stel ’n voorbeeld.

Fisieke aktiwiteit behoort pret te wees vir kleuters. Skop bal saam met hom, gaan speel saam in ’n parkie of onderneem ’n stappie voor aandete.

Hoe om teen fiemies te veg

  • Gee dieselfde kos as vir die res van die gesin – moet nooit ’n aparte maaltyd vir haar maak nie.
  • Gee met elke maaltyd minstens een kossoort wat jy weet sy sal eet.
  • Moenie wys dat jy bekommerd of angstig is wanneer sy nie eet nie.
  • Moenie ’n bohaai maak oor snaakse eetgedrag nie.
  • Moenie jou kind beloon met kos, soos nagereg as sy haar groente opgeëet het nie.
  • As jou kind kos weier, moet dit nie wegvat en met ander kos vervang nie.
  • Aanhouer wen! Dit kan nodig wees om nuwe kosse tot 20 keer aan te bied voor jou kind dit eet.
  • Maak seker dat alle versorgers haar dieselfde hanteer.
  • Wees ’n goeie rolmodel.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees