Tuberkulose (TB) en jou kind

akkreditasie
Tuberkulose – of tering of TB – raak miljoene Suid-Afrikaners, ook ons kinders. En as jy in die voorstede woon, beteken dit nie jou kind word nie daaraan blootgestel nie.

Suid-Afrika is om verskeie redes die middelpunt van die wêreldwyde tuberkulose-epidemie, sê dr. Helena Rabie van die afdeling vir aansteeklike siektes by die departement pediatrie en kindergesondheid by die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad.

Een van die redes is dat tuberkulose (TB) ’n siekte is wat armes tref. Helena sê in die geskiedenis van die siekte is dit oor en oor bewys dat die epidemie afneem sodra die sosio-ekonomiese en algemene lewensomstandighede van mense verbeter.

Die MIV-epidemie in Suid-Afrika is die ander groot rede vir ons hoë TB-syfer. “Mense met MIV is baie meer geneig om TB op te doen en het selfs herhaalde behandelings nodig,” sê Helena.

Laat diagnose veroorsaak daarby dat lyers langer aansteeklik is en dit dra by tot die verspreiding van TB. Juis hierom is vroegtydige behandeling een van die doeltreffendste maniere om verspreiding te voorkom.

Enigeen kan dit kry

Hoewel TB ’n sogenaamde armoede-siekte is, is dit beslis nie net arm mense wat dit opdoen nie. Mense oor alle inkomstegroepe heen kan tuberkulose kry. Helena reken dít is wat jy oor TB moet weet:

TB is ’n aansteeklike siekte wat deur die bakterie Mycobacterium tuberculosis veroorsaak word. Die infeksie versprei luglangs. As jy die organisme uithoes, sweef dit ’n geruime tyd in die lug rond in piepklein deeltjies. Daarom is goeie ventilasie baie belangrik om verspreiding te voorkom.

Tuberkulose verskil in hierdie opsig baie van die griep- en ander lugwegvirusse, wat in heelwat groter deeltjies rondbeweeg en dikwels net daar afsak om op ’n oppervlak te gaan lê.

“Waar virusse soos griep in ’n groot mate voorkom kan word deur gereeld hande te was, kan tuberkulose nie,” sê Helena. “Die oomblik wanneer TB ingeasem word, gaan dit longe toe. Dit kan later die bloed binnedring, en so versprei dit na ander organe.”

Die meeste mense wat TB inasem en opdoen, kan met die infeksie saamleef sonder om siek te word óf ander mense aan te steek. Die bakterie is dus sluimerend en jy weet nie eens jy is besmet nie.

Hoe is dit moontlik? “Soms kan die liggaam die infeksie met behulp van die immuunstelsel beheer, maar ander kere kom die bakterieë verby die liggaam se beheermeganismes en word ’n mens siek,” verduidelik Helena.

’n Sluimerende toestand beteken nie dat ’n mens veilig is teen TB nie. 10 uit elke 100 mense met sluimerende TB sal die een of ander tyd aktiewe TB ontwikkel – hoogs waarskynlik binne die eerste twee jaar ná infeksie.

Wie loop die grootste gevaar?

Hoewel tuberkulose enigiemand kan aantas omdat almal dit inasem as dit in die lug is, het sommige mense ’n groter kans om die siekte te kry. Hulle is:

  • Mense wat die bakterie minder as 2 jaar tevore ingeasem het.
  • Klein kindertjies, veral dié wat 2 jaar en jonger is. Hoe gesond die kind is, is irrelevant.
  • Volwassenes of kinders met chroniese siektes of wat medisyne of terapie ontvang wat die immuunstelsel onderdruk. Dit sluit in toestande soos MIV/vigs, diabetes, kanker en mense wat kankerterapie ondergaan of immuunonderdrukkende medikasie neem.
  • Ouer volwassenes het ook ’n hoër risiko.

 TB kan enige deel van die liggaam aantas en kan selfs ernstige breinvliesontsteking veroorsaak, maar dit begin altyd in die longe.

Só lyk die simptome

’n Kombinasie van die onderstaande 5 faktore dui dikwels op tuberkulose van die long by kinders:

  1. Kontak met iemand wat tuberkulose van die longe het. Alle ander soorte TB is in die meeste gevalle nie aansteeklik nie omdat dit nie uitgehoes kan word nie.
  2. ’n Hoes wat langer as 2 weke duur. Hoewel dokters weet baie kinders hoes nog lank ná ’n virale longinfeksie en dat hulle herhaaldelik daarvan siek word, veral as hulle by ’n dagsorgsentrum is, bly hoes ’n belangrike aanwyser. ’n TB-hoes is ’n hardnekkige een wat nooit verbeter nie.
  3. Koors.
  4. Moegheid en tamheid. Die kind wil dalk nie meer so baie speel nie.
  5. Swak gewigstoename.

Die bevestiging

Daar is hoofsaaklik 4 toetse wat kan bevestig of ’n kind TB het of nie.

  1. Eerstens is daar ’n veltoets.
  2. Daar is ook ’n bloedtoets wat toets vir infeksie.
  3. X-strale is ook baie belangrik as tuberkulose van die long vermoed word.
  4. Dan is daar toetse waar dokters probeer om die organisme in die slym van die kind se longe op te spoor (die kind moet laasgenoemde uithoes óf hulle gebruik ’n pypie om die ingeslukte slym uit die maag te trek) sodat hulle heeltemal seker kan wees dis TB. Helena sê hulle vind hierdie gogga egter net in sowat 25-30% van kinders wat vermoedelik tuberkulose het.

Dokters sal enige of al hierdie toetse versoek as hulle dink jou kind het TB. As TB van ander organe as die long vermoed word, word bykomende toetse gedoen.

As daar ’n sterk vermoede is dat ’n kind TB het, maar dit kan nie met een van die toetse bevestig word nie, sal dokters steeds jou kind vir die siekte behandel. Dokters gee ook soms vir kinders voorkomende antibiotika. Dit gebeur net as die kind gereeld kontak het met ’n volwassene wat aansteeklike TB het, al toon hy self nie simptome nie.  

Die behandeling

Byna alle soorte TB is behandelbaar, sê Helena. “As die siekte egter eers in ’n laat stadium bevestig word of die graad daarvan baie ernstig is, kan daar langtermyngevolge wees.”

Behandeling duur gewoonlik minstens 6 maande. Kinders kry ’n kombinasie van medisynes. As die dokter byvoorbeeld weet die kind is in noue kontak met ’n volwassene wat weerstandige TB het, sal daardie kind meer aggressief behandel word en met ander soorte antibiotika as dié wat normaalweg gebruik word.

Helena sê die meeste gevalle van TB word by staatsklinieke behandel, selfs al het die pasiënt ’n privaat dokter of pediater. Daar is baie TB-klinieke oor die land heen; selfs in kleiner dorpies.

Die pilletjies wat vir kinders voorgeskryf word, is meestal ook net by klinieke beskikbaar. Hoewel hierdie situasie aan die verander is, is dit uitsonderlik dat TB-medikasie by privaat apteke te kry is.

Die meeste TB-pilletjies vir kinders is oplosbaar en kan dus maklik in ’n bietjie water opgelos word sodat klein kindertjies dit kan inneem. “Selfs die pille wat nie-oplosbaar is, kan bloot fyn gedruk en in water gekrummel word. ’n Stropie is nie nodig nie.”

Kinders verdra die medikasie besonder goed. Dis noodsaaklik dat hulle deurentyd gesond eet, vitamien-aanvullings drink en minstens maandeliks ondersoek word. Die newe-effekte van TB-medikasie vir kinders is min. Volgens Helena veroorsaak een van die soorte medisyne dat kinders se trane en urine oranje verkleur. Dit is heeltemal onskadelik.

Gerugte dat sommige soorte TB-medikasie blindheid en doofheid kan veroorsaak is nie heeltemal onwaar nie, maar dié soort medisyne word baie selde vir kinders gegee, en wanneer dit wel in ’n uiterste geval gedoen word, oorskry die risiko wat die TB vir die pasiënt inhou die risiko vir blindheid of doofheid.
Ouers kan egter uitkyk vir ’n veluitslag, gereelde vomering en geelsug. “Raadpleeg jou dokter as enige van hierdie tekens kop uitsteek,” maan Helena.

Terug skooltjie toe

“Kinders met TB is meestal nie aansteeklik nie, wat beteken dat hulle beslis gou kan terugkeer dagsorg of skool toe mits hulle beter voel en goed vaar,” sê Helena. “As jou kind ’n meer aansteeklike soort TB het, sal jul dokter dit spesifiek noem.”

Die grootste mite

TB was ongelukkig vir lank ’n siekte wat in skaamte gehul was. Mense het gedink jy moet geïnfekteerde mense vermy of selfs dat hulle geïsoleer moet word, maar die feit is dat tydige medikasie en die korrekte gebruik daarvan siekes binne ’n paar weke gesond én onaansteeklik maak.

Het jy geweet?

TB is ’n aansteeklike, aanmeldbare siekte wat beteken dokters móét onder meer die naam en woonadres van die pasiënt wat met TB gediagnoseer is, in ’n spesiale TB-register aanteken. Opvolgbesoeke en hoe daar met medikasie gevorder word, moet ook in hierdie register aangeteken word. Die wet vereis dit.

Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees