Vat asma vas!

akkreditasie
Daar’s min dinge so angswekkend as om in die middel van die nag jou kind in jou arms te hou terwyl hy om asem veg – dié dat ’n asma-diagnose ouers so kan ontstel.

Die slegte nuus is dat daar geen kuur vir asma bestaan nie. Die goeie nuus? Dat moderne medisynes dit maklik maak om jou kind se asma te beheer sodat hy ’n heeltemal normale lewe kan lei, van kattekwaad aanvang en rondhardloop tot eendag in sport presteer.

Kenners reken asma is die algemeenste chroniese siekte by kinders en neem wêreldwyd toe, ook in Suid-Afrika. Minstens een uit tien kinders in Suid-Afrika ly daaraan. Gelukkig is die oorgrote meerderheid se asma matig en kry net sowat 5 % kwaai asma. Maar asma is nie ‘n siekte om mee te speel nie. Dis potensieel dodelik en onbehandelde asma kan longskade veroorsaak.
Die geheim is om asma betyds te diagnoseer en voldoende met die regte medisyne te behandel. Dan kan jou kind ’n normale lewe ly en sy volle potensiaal verwesenlik.

Wat is asma?

Dis ’n chroniese inflammatoriese siekte. Die inflammasie veroorsaak dat die lugweg opswel en te veel dik slym geproduseer word, sodat die lugweg vernou en verstop.

Boonop is die lugweg van iemand met asma hiper-reaktief, wat beteken dit reageer op die geringste stimulasie. So kan iets soos koue of rook die spiere om die lugweg laat saamtrek en ’n lugwegspasma veroorsaak, wat asemhaling nog moeiliker maak. Maar is dit regtig wat my kind het?

Só lyk die simptome van asma:

  • Jou kind se bors fluit wanneer hy uitasem.
  • Hy hoes, veral in die nag of ná oefening. Dit kan ’n droë of nat hoes wees.
  • Daar’s ’n benoude en drukkende gevoel in sy bors.
  • Hy’t ’n asemtekort, veral ná oefening.

Simptome wissel van kind tot kind en selfs van tyd tot tyd by dieselfde kind. Net omdat jou kind hoes of ’n fluitborsie het, beteken nie hy het asma nie. Sowat die helfte van kinders ontwikkel ’n fluitborsie, veral in die eerste twee jaar, maar net 40 % van hulle kry regtig asma.

Dr. Sharon Kling van Tygerberg-hospitaal in Kaapstad se pediatriese afdeling sê hoewel die helfte van asmalyers se asma reeds voor hul tweede verjaardag begin, is dit moeilik om asma in die eerste drie jaar te diagnoseer omdat kinders in daardie tyd soveel ander kwale met dieselfde simptome kry. Tipiese voorbeelde is virusinfeksies wat ’n gehyg of fluitborsie veroorsaak en aangebore longafwykings.

Volgens dr. André van Niekerk, ’n pediater van Ballito in KwaZulu-Natal, word diagnose verder bemoeilik omdat kinders onder vyf nie goed genoeg saamwerk om akkurate toetsuitslae te verseker nie.

As daar egter herhaaldelike episodes van asma-simptome is en jou kind reageer goed op ’n asmapompie, het hy waarskynlik asma.

Sal my kind asma kry?

Sommige kinders het ’n aangebore neiging tot asma. Dis byvoorbeeld meer waarskynlik dat jou kind asma sal kry as jy of jou man asma het. As julle albei asma het, is die kans twee uit drie dat jul kind asma sal ontwikkel.

’n Familiegeskiedenis van allergieë soos hooikoors of ekseem maak ook die asmagevaar groter. Voor twaalf jaar oud is dit hoofsaaklik seuns wat asma kry.

As julle in ’n stad woon, is die kans op asma groter. Sommige kenners meen daar is ’n verband tussen asma en die lugbesoedeling in nywerheidsgebiede soos Mpumalanga en Gauteng, uitlaatgasse van motors en antrasiet- of steenkoolvure.

Ander kenners blameer weer ’n meer binnenshuise leefstyl waar die warm, klam omgewing en matte huisstofmyte, kakkerlakke en swamme laat toeneem – alles goed waarvoor ’n mens so allergies kan wees dat jy asma daarvan kan kry.

Verfynde kos kan ook ’n rol speel en as jy gerook het tydens jou swangerskap, is daar ’n groter risiko dat jou kind se longe abnormaal sal werk, sy lugweg hipersensitief sal wees en hy allergies sal wees.

Jy kan jou kind se risiko vir asma verlaag deur sy blootstelling aan dinge wat allergieë veroorsaak, in sy eerste twee lewensjare sover moontlik te beperk. Moenie rook tydens jou swangerskap nie en keer ook dat mense naby jou kind rook. Borsvoed jou baba, hou jou huis so stofvry as moontlik (verkieslik sonder matte) en moedig ’n buitenshuise leefstyl aan.

Hoe om asma te behandel

Asma is nie ’n siekte wat gesond gedokter kan word nie, maar met die regte behandeling kan dit volkome beheer word sodat jou kind ’n normale en simptoomlose lewe kan ly. Dokters pak asma in twee stappe aan:

Stap 1:     Identifiseer die snellers en vermy dit
Verskillende mense is sensitief vir verskillende goed en dis dus belangrik om vas te stel wat asma-aanvalle by jou kind veroorsaak sodat hy dit kan vermy.

Tipiese snellers sluit in:

  • Allergene (dinge wat ’n allergiese reaksie veroorsaak). Dis die algemeenste asmasneller. Dit sluit in huisstofmyte, gras, kakkerlakke, kat- of ander dierhare, stuif-meel en swamspore.
  • Omgewingsfaktore soos rook en lugbesoedeling. Vermy sigaretrook heeltemal.
  • Emosionele spanning, opgewondenheid, woede en selfs ’n lekker lagbui kan aanleiding gee tot ’n asma-aanval.
  • Oefening, veral in koue weer.
  • Dieet. Kosallergene is egter nie ’n groot oorsaak van asma nie. ’n Melkallergie kan wel ’n rol speel by kinders onder twee jaar. Sekere preserveermiddels kan ook ’n asma-aanval meebring. Asmalyers behoort koeldrank met swaweldioksied en natriumbensoaat te vermy.
  • Sommige algemene medisynes kan asma uitlok. Vertel altyd vir jou apteker dat jou kind asma het wanneer jy vir hom medisyne koop.
  • Verkoue of griep kan asmasimptome tydelik vererger.

Stap 2:     Gebruik die regte medikasie

Gereelde, langdurige behandeling kan jou japsnoet se asmasimptome laat verdwyn of tot die minimum beperk. Maar dis belangrik dat hy die regte medikasie kry en leer hoe om dit reg te gebruik. Hy moet ook verslegtende asma kan herken en ’n aanval kan voorkom.

Jou kind moet gereeld deur sy dokter gemonitor word omdat sy graad van asma van tyd tot tyd kan wissel, wat kan beteken sy medikasie moet aangepas word. Vra die dokter vir ’n geskrewe asmaplan en ’n asmadagboek.

Daar is twee soorte behandeling: verligtingsmedikasie en voorkomingsmedikasie.

Verligtingsmedikasie
bied gewoonlik byna onmiddellike verligting van die simptome omdat dit die spiere rondom die lugweë laat verslap, maar doen niks aan die inflammasie nie. Met goed beheerde asma sal jou kind dit selde meer as drie keer ’n week hoef te gebruik. As hy dit meer dikwels nodig kry, moet sy voorkomende medikasie waarskynlik vermeerder word.

Die voorkomende medikasie beheer die inflammasie, maar bied nie onmiddellike verligting van simptome nie. Die geheim is dat dit elke dag gebruik moet word – soos deur die dokter voorgeskryf – selfs al het jou kind nie simptome nie. Dit werk ook nie dadelik nie en moet oor ’n lang tydperk gebruik word sodat die beskermende uitwerking kan opbou.

Die gewildste keuse vir die toediening van asmamedikasie is gewoonlik deur ’n asmapompie of een van die meer moderne inasemtoestelle wat poeiers gebruik. Omdat die medikasie direk na die longe gaan, is baie klein doserings nodig, werk dit vinnig en is die newe-effekte min.

  • Selfs al is jou kind se asma goed onder beheer, bly dit noodsaaklik dat hy áltyd verligtingsmedikasie byderhand moet hê. Maak seker sy versorger of skool is ingelig oor sy asma en weet wat om in ’n noodgeval te doen.


Leer jou kind onderskei tussen sy voorkomings- en verligtingsmedikasie
, hoe om in ’n noodgeval sy verligtingsmedikasie te gebruik en dat hy dadelik by jou, ’n dokter of hospitaal moet uitkom.

Dit bly ’n noodsituasie as jou kind ’n asma-aanval kry. Moenie die gevaar onderskat nie. Simptome van ’n verslegtende asma sluit in ’n groter behoefte aan verligtingsmedikasie, veral as hy ook met moeite asemhaal, praat of loop. As sy vingernaels of lippe blou word, is dit ’n teken van kwaai suur¬stoftekort en moet hy dringend mediese hulp kry.

Asma en jou aktiewe rakker

Jy wonder dalk of jy jou asmalyertjie kan toelaat om te hardloop of aan sport deel te neem. Wees gerus – sowat ’n tiende van Olimpiese atlete ly aan asma!

Kenners reken dis belangrik dat kinders met asma toegelaat moet word om aan sport deel te neem; dit laat hulle hul toestand beter aanvaar en hanteer en is nodig vir hul algemene gesondheid.
Hulle moet egter seker maak dat hulle hul medikasie korrek gebruik (en byderhand het) om te voorkom dat hulle asma kry terwyl hulle oefening doen, en sodat hulle dit kan behandel as hulle dit wel kry. Swem is uitstekend vir kinders met asma en kort afstande is beter as lang afstande.     

‘Hy het nes ’n klein hondjie gehyg’

Elzaan Faber van Kaapstad vertel haar tweejarige Marko was al op vier maande die eerste keer in die hospitaal met asma-simptome.

“Hy het na asem gehyg, sy asemteugies was baie kort en sy borsie het gefluit. Dit klink nes ’n klein hondjie wat hyg. Dit was duidelik dat hy sukkel om asem te kry.
“Sulke kleintjies word nie regtig al met asma gediagnoseer nie, maar hy het al die simptome gehad. Later is hy wel gediagnoseer en ons het asmapompies gekry om sy asma te beheer. Dit was in daardie eerste twee jaar baie waardevol.

“Omdat hy altyd op asma-medikasie was, het hy nooit regtig ’n aanval gehad nie. Ons was gelukkig: Daar was nooit ’n oomblik waar ons bang was sy lewe word bedreig nie. Gelukkig lyk dit nou asof hy besig is om sy asma te ontgroei en deesdae gaan dit uitstekend met hom. Hy kry nog so af en toe mangelontsteking en kroep, maar dis heeltemal beheerbaar.”

Bron:
Die Nasionale Asma-opvoedingsprogram. Kontak hulle by 0861-asthma, asthma@oz.co.za of besoek www.asthma.co.za
Warm webwerwe:
www.AsthmaAndChildren.com?
www.Bubbliboo.com (veral geskik vir
kinders tussen vier en agt jaar oud)
www.NewToAsthma.com

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees