Vat kosallergie só vas

akkreditasie
Al meer kinders is allergies vir sekere kossoorte. Die nuutste navorsing wys mens moet juis vir kinders die kos gee waarvoor hulle allergies kan wees eerder as om daarmee te wag tot hulle ouer is.

Tussen vier en ses maande oud. Dít is volgens sommige kenners die ideale tyd waarin ’n baba paraat gemaak moet word teen kosse wat moontlik allergieë kan veroorsaak.

Doen jy dit vroeër of later, is die kans op ’n allergie groter. Voor vier maande oud is die spysverteringstelsel nog te onvolwasse, en ná ses maande oud begin sekere selle – die sogenaamde T-helpers – potensieel skadelike indringers in die liggaam identifiseer en ’n reaksie daarop veroorsaak.

Wat is ’n kosallergie?

In ’n neutedop is ’n kosallergie ’n ongewenste reaksie van die immuunstelsel wat simptome veroorsaak.
“Ons immuunstelsel beskerm ons teen siektes deur ’n vreemde indringer te herken sodra dit die liggaam binnekom en onmiddellik verdedigende chemikalieë vry te stel,” verduidelik die dieetkundige
en skrywer Jeske Wellmann.

Al die kos wat ons eet, kom van vreemde plantaardige en dierlike bronne af. Gewoonlik beskou jou immuunstelsel kos as vreemd maar veilig weens ’n ingewikkelde proses van verdraagsaamheid wat plaasvind as kos deur die spysverteringstelsel beweeg.

Soms loop iets egter gedurende dié proses verkeerd en word jy sensitief vir ’n bepaalde soort kos. Die immuunstelsel ervaar hierdie kos dan as ’n bedreiging. As jy dit dan weer eet, hanteer jou immuunstelsel dit as iets wat ’n siekte kan veroorsaak. Die simptome wat daaruit volg, word ’n allergie genoem.

Kos is nie die sondaar nie

Dis belangrik om te verstaan dat kos self nie soos ’n bakterie of virus is wat siektes kan veroorsaak nie, sê Jeske. “Daar is nie iets soos verkeerde kos nie. Dis bloot die liggaam wat vyandig reageerop sekere bestanddele in sekere kossoorte, en dit lei dan tot die lastige simptome van ’n kosallergie of -intoleransie.”

Die groot allergene

Beesmelk, hoendereier, soja, graan, grondboontjies en vis is die kossoorte wat die meeste allergiese reaksies veroorsaak. Maar in teorie, sê die slimmes, kan enige kossoort ’n allergiese reaksie aan die gang sit. Tog is die samestelling van sekere kossoorte – soos die ses hierbo – van so ’n aard dat dit heelwat meer allergiese reaksies tot gevolg het.

Hoekom is party kinders allergies en ander nie?

Daar is verskeie redes waarom een kind dag vir dag eiers kan eet en ’n ander nie eens ’n kriesel oor hul lippe kan kry sonder om uit te slaan nie, sê Jeske. Dit sluit in:

  • Jou kind se genetiese samestelling;
  • Die omstandighede waarin sy die eerste keer aan die spesifieke kossoort blootgestel is;
  • Die mikroörganismes in jou kind se spysverteringskanaal; en
  • Die medikasie wat sy in daardie stadium gekry het of waaraan sy deur moedersmelk blootgestel is.

Hoe weet jy vir watter kos jou kind allergies is?

Daar is ongelukkig geen enkele betroubare toets wat 100 persent kan bewys dat ’n kind allergies of onverdraagsaam is vir ’n bepaalde kossoort nie.

“Daar is eintlik net een akkurate manier om ’n allergie vir ’n spesifieke kossoort te bepaal en dit is uitskakeling,” sê Jeske. “Dit behels dat jy ’n bepaalde kossoort vir ’n bepaalde tydperk uit jou kind se
dieet sluit en dan weer insluit, terwyl jy elke keer sy reaksie daarop neerskryf.”

Dis natuurlik ’n baie tydrowende proses. Daar is ook die gevaar van anafilaktiese skok (’n besonder hewige en selfs lewensbedreigende allergiese reaksie) en dis dus beter om die proses met die hulp van
’n spesialis aan te pak.

Hoe gaan jy te werk?

Die nuutste benadering is om babas met ’n hoë risiko vir allergie vroeg reeds – tussen  vier en ses maande oud – bloot te stel aan die kossoorte waarvoor hulle allergies kan wees. ’n Baba het ’n hoë risiko as een of albei haar ouers allergies vir kos of omgewingsfaktore is.

Hier is Jeske se raad:

Gee kossoorte ‘skoon’

Moenie ryspap en koeimelk vir ’n eerste maaltyd gee nie. Gee die pap eers met
die melk wat jou baba in daardie stadium drink, hetsy moeders- of formulemelk. As jou baba geen reaksie toon nie, kan jy koeimelk begin gebruik.

Hou altyd in gedagte dat wanneer kosse gemeng word, dit moeilik is om die sondaar op te spoor in die geval van ’n allergiese reaksie.

Hou dit min

Babas eet baie klein hoeveelhede kos en jy hoef dus nie baie van die kos wat die allergie veroorsaak, te gee nie. ’n Halwe teelepel aan die begin saam met die ander kos is gewoonlik voldoende.

Sagmaker

Gebruik koeimelk om kos sag te maak. Meng dit byvoorbeeld by pap, aartappels en patat in. Gee gerus graan Stel graan bekend deur babapap. Tasty Wheat kan byvoorbeeld maklik sag genoeg gemaak kan word vir babas.

Wat van soja?

Om soja by baba se dieet in te sluit, is nie altyd so maklik nie, want dit is nie iets wat ons gereeld gebruik nie. Voeg dit liewer van so ses maande af by haar kos. Die meeste brood het soja as ’n bestanddeel.

En eier?

Eier het ’n growwe tekstuur en kan dalk ook eers ná ses maande gegee word, sê Jeske. Daar is studies wat wys dat eier eers op agt maande gegee moet word omdat die tekstuur voorkom dat jy dit vroeër gee, veral as jou baba eers teen ses maande oud vaste kos begin eet het. (Lees hier onder om vas te stel wanneer jou baba gereed is vir vaste kos.)

“Maak gerus vir jou kleinding roereier en meng dit met groente of pap,” sê Jeske.

Lus vir ’n stukkie vis?

Vis, soos eier, word eers later in die kosbekendstellingproses gegee. Sardientjies, stokvis en tuna is almal goeie eerste keuses.

Grondboonbotter

Bied hierdie lekkerte só aan: Roer dit deur warm kos sodat dit nie aan jou kind se verhemelte vassit nie. Soos met vis en eier kan jy ’n rukkie hiermee wag, maar moet dit nie later as agt maande bekendstel nie.

En baie belangrik ...

Die dieetkundige Madeleine de Villiers sê ma’s word ook sterk aangeraai om:

  • ’n Wye verskeidenheid kosse tydens swangerskap en borsvoeding te eet, want dit sal hul baba help om verdraagsaamheid vir daardie kos te ontwikkel. Ma’s moet wel die kossoorte vermy waarvoor hulle self allergies is; en
  • Babas met ’n hoë allergie-risiko vier tot ses maande lank net te borsvoed. Hou toleransie in stand deur voort te gaan om jou kind aan die potensiële allergene bloot te stel, anders kan sy die toleransie verloor.
  • Potensieel allergiese babas moet van vier tot ses maande af geleidelik aan gluten en koring blootgestel word terwyl hulle nog twee tot drie maande lank geborsvoed word.

Hoe werk desensitisering?

Voorheen het kenners gedink dit is beter om te wag tot ’n kind se verteringstelsel meer volwasse is voor jy hom aan die algemeenste allergene blootstel. Nou reken hulle klein lyfies se immuunstelsel kan liefs vroeër gewoond gemaak word aan hierdie kossoorte as later.

So leer hul liggaam om meer verdraagsaam teenoor alle kos te wees en nie sommer oorlog te verklaar teen kos soos eier en koeimelk nie.

Een van die redes vir dié nuwe benadering is dat dokters vandag meer op hoogte is van die behandeling van allergieë. Heelwat meer navorsing is egter nog nodig om die onsekerhede oor desensitisering
uit te skakel, sê die dieetkundige Jeske Wellmann.

Met die ou benadering, waar kinders met ’n hoë risiko vir allergieë tot op twee en selfs drie jaar oud weggehou is van allergene, het allergieë steeds toegeneem, sê die dieetkundige Madeleine de Villiers.
’n Nuwe benadering waar die immuunstelsel “opgevoed” word om vreemde stowwe te herken en ’n verdraagsaamheid daarvoor te ontwikkel, het dus noodsaaklik geword.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees