Verkoue en griep: Gepantser teen winterkieme

akkreditasie
Nare kieme kan ’n gesin in die winter gou plattrek. Hier’s ons raad om julle gesond deur die snuifseisoen te kry.

Eers ’n bietjie slegte nuus ... Daar is geen medisyne wat verkoue en griep kan genees nie. Nog ’n bietjie slegte nuus ... Kinders kry baie meer verkoue en griep as volwassenes. Dis heel normaal dat ’n kind tot 7 lugweginfeksies per jaar opdoen, en die outjies by dagsorg tot 14 per jaar.

In die eerste plek is dit omdat kleingoed se immuunstelsel nog nie heeltemal ontwikkel het nie. En in die tweede plek gebeur dit omdat kinders nog nie die gewoontes aangeleer het wat grootmense help om kiemoordrag te vermy nie. Verkoue en griep is baie aansteeklik en kleintjies wat alles in hul mond druk, baie aan mekaar vat, speelgoed deel en nie higiëniese hoes- en niesgewoontes ken nie, loop dus deur.

Behandeling vir beter voel

Koors is die liggaam se manier om te wys hy veg teen infeksie. Beskou dit as ’n goeie ding en moenie te gou na iets gryp om dit af te bring nie. As die koors egter bo 39°C styg, kan jy ingryp. Kies ’n parasetamolstroop of -setpil wat spesifiek vir babas of kinders ontwikkel is.

Moet nooit aspirien gee nie.
As jou kind griep met ’n hoë koors het, kan jy help om sy koors te beheer deur sy klere uit te trek en hom in ’n louwarm bad te sit. Hou jou kind rustig en sorg dat hy genoeg drink.

Toe neusies kan baie ongemak veroorsaak, veral by ’n klein babatjie wat sukkel om te drink of slaap as die neusie verstop is. Neussproeie is baie doeltreffend – hou net presies by die aanwysings. Sommige sproeie kan net ’n paar dae aaneen gebruik word, ander is weer veilig vir langdurige gebruik.

Daar is ook toestelle op die mark soos die Nosefrida, waarmee jy die slym veilig en higiënies uit jou baba se neus kan suig om onmiddellike verligting te bring.

As jy nog borsvoed kan jy ’n paar druppels borsmelk voor ’n voeding in elke neusgat drup. Borsmelk het antibakteriese eienskappe.

Smeer gerus ’n salfie soos Oleum Rhinale aan as jou kind se neusie al rou is.

Loopneusies kan gehelp word as jy jou kind vroeg leer om neus te blaas. Medisyne soos Coryx kan help om dit op te droog, maar as dit nie werk nie het jou kind dalk eintlik ’n keelinfeksie of sekondêre bakteriële infeksie. Laat die dokter ondersoek instel.

Toe borsies is gevaarlik. As jou kind hyg, baie hard en baie vinnig asemhaal, of as jy kan sien hoe sy borskas op- en afbeweeg, moet julle dadelik dokter of hospitaal toe.

Hoes jou kind? Dokters is meestal gekant teen oor-die-toonbank-hoesstroop omdat dit nie juis doeltreffend is nie en boonop newe-effekte het. Dis maklik om jou kind met oor-die-toonbank-medisyne te oordoseer; wees dus baie versigtig.

’n Minder ernstige hoes behoort binne 5 dae te wyk. ’n Akute hoes wat met griep of verkoue gepaardgaan, moet deur ’n dokter behandel word. Pediaters skryf tipies twee soorte hoesmedisyne voor: een wat slym losmaak (soos Mucospect of ACC200) en ’n ander wat die spiertjies wat tydens ’n hoesbui saamtrek, laat verslap (soos Bronchoped).

Wees bewus van die verskillende soorte hoes, en as jy twyfel, gaan dokter toe. ’n Blaffende hoes en hees stem, chroniese hoes en brongitisverwante hoes moet alles verskillend behandel.

Seer keeltjies moet in ’n ernstige lig be­skou word. ’n Rooi, eina keel dui waar­skynlik op ’n bakteriese infeksie, waarvoor antibiotika sal help. ’n Kwaai keelseer kan egter mangelontsteking wees.

Voorkoming: Jou 6-punt-plan

Drink water

Dis maklik om met die koue weer jou dors te verloor, maar dis baie belangrik vir die liggaam se optimale funksionering om genoeg water te drink. Slymvliese wat nie uitgedroog is nie, is plomp en meer weerstandig teen infeksie. Water help die liggaam ook om van skadelike stowwe ontslae te raak. Moedig jou kinders aan om heeldag bietjies-bietjies te drink.

Slaap

Wanneer jou kind slaap, is haar liggaam besig om beskadigde selle te herstel. Babas, peuters en jong kinders moet 12 tot 15 uur nagrus kry. Die ure voor middernag tel die meeste, so kruip vroeg in.

Oefen

Gesonde, uitgeruste kinders is vol energie, en dis wonderlik, want oefening verbeter ’n mens se immuniteit. Maak seker jou kinders lê nie die hele winter voor die televisie nie. Trek reg aan en laat hulle steeds buite kerjakker.

Was hande

Die eenvoudigste wapen in jou arsenaal is om seker te maak jou hele gesin was gereeld en deeglik hande. Was elke keer as jy nies, neus blaas of hoes, en as jy uit was en weer huis toe kom. Moedig die huiswerker of kinderoppasser ook aan om dit te doen. Hou antibakteriese vogdoekies in jou handsak en gebruik dit.

Kry die griepinspuiting

Vat jou hele gesin vandag nog op ’n uitstappie om die griepinspuiting te kry. Dit is heeltemal veilig en is tussen 70 en 90% doeltreffend. Dan’s dit nog bekostigbaar ook. Babas kan vanaf 6 maande ook die inspuiting kry. (En natuurlik is al jou kinders se ander inentings op datum, nè?)

Eet vitamien C

Probeer elke dag ’n kos wat ryk is aan vitamien C by jou gesin se maaltyd insluit. Vars vrugte, lemoene en nartjies wat nou so volop is, en ook koejawels, bessies, broccoli en patats is alles goeie bronne.

Wat nog op die spyskaart hoort is wortel, pampoen en papaja (vitamien A), avokado’s en sade (vitamien E), asook vis en ertjies (sink). Bly hierdie winter weg van soetgoed, want navorsing wys suiker onderdruk die immuunstelsel. As jou suikertand die oorhand wil kry, beproef xylitol.

Antibiotika

Antibiotika baklei teen bakterieë, nie teen virusse nie. Daarom is dit nie die antwoord op verkoue en griep nie, maar dit kan wel ingespan word teen longontsteking, mangelontste­king en brongitis, wat alles deur bakterieë veroorsaak word. Gebruik dit regtig net wanneer dit nodig is, want bakterieë raak gou weerstandig teen antibiotika. A

s jou dokter lyk of hy aandele in ’n antibiotikavervaardigingsfirma het, soek ’n ander dokter wat meer oordeelkundig te werk gaan. Onthou om altyd ’n probiotiese aanvulling te gebruik tot minstens ’n week ná die antibiotika-kursus.

Oordosis

Baie verkouemedisynes (soos Coryx, wat deur baie aptekers aanbeveel word) bevat iets van alles om ver­kouesimptome te verlig: parasetamol vir pyn en koors, antihistamien vir die neus en vitamiene vir die immuunstelsel. Wees dus versigtig om nie nóg medisyne daarby te gee nie, want netnou oordoseer jy. Lig altyd die dokter of apteker in oor wat jy reeds gee of beoog om te gee. Sommige bestanddele kan bots!

Wenk

Probeer die hele winter lank borsvoed as jy kan. So nie, hou met minstens een borsvoeding per dag aan as jy kan.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees