Vrugtesap: goed of sleg?

akkreditasie
Ek het al dikwels gelees dat ek nie vir my baba van onder 'n jaar vrugtesap moet gee nie. Ander mense reken weer dat 'n mens dit kan gee, maar moet verdun. Waarom mag ek dit nie gee nie? En indien ek die sap mag gee, moet ek dit verdun?

Anel Kirsten (kliniese dieetkundige) antwoord:

As jou baba jonger as ses maande is, moet jy vrugtesap heeltemal vermy. Vrugtesap binne perke is piekfyn vir die meeste kinders van ses maande en ouer. Ons raai ouers inderdaad aan om die vrugtesap te verdun.

Daar is egter ’n paar faktore wat in gedagte gehou moet word:

1. Water is die beste drankie om dors te les.

2. Onlangse navorsing wys dat daar ’n verband is tussen jong kinders wat meer as 360 tot 900 ml vrugtesap per dag drink en ondergewig/wanvoeding of oorgewig/vetsug. Vrugtesap bevat energie (kilojoules) en suiker. Net soos enige ander energiebevattende drankie soos koeldrank, kan te veel daarvan tot gewigstoename lei.

Beperk die vrugtesap dus tot een klein glasie (120 tot 150 ml) per dag. Oormatige vrugtesapinname kan jou baba se klein magie ook vol maak en dan is sy te versadig om genoeg melk en kos in te neem, wat kan bydra tot vertraagde groei, wanvoeding en voedingstoftekorte, veral ’n ystertekort.

3. Vrugtesap is ’n beter keuse as koeldrank. As jy vir jou kind vrugtesap gee, kies suiwer vrugtesap pleks van versoete sap, koeldrank of aanmaakkoeldrank. Hoewel dit net soveel kilojoules as versoete sap of koeldrank het, bevat suiwer vrugtesap ook vitamiene en minerale wat jy nie in koeldrank sal kry nie. Veral tamatie-, granaat-, druiwe-, bessie- en lemoensap bevat baie vitamiene en antioksidante.

4. Vars, heel vrugte is ’n beter beste keuse as vrugtesap. Vrugtesap bevat minder vesel en ander noodsaaklike voedingstowwe as vars vrugte. Verdunde vrugtesap binne perke is piekfyn vir die meeste kinders, maar maak ook seker dat jy wel heel, vars vrugte aan jou kind beskikbaar stel. So sal hulle meer voedingstowwe en vesel inkry, asook minder suiker.

5. Vrugtesap kan bydra tot gereelde los stoelgange en sogenaamde kleuterdiarree, veral druiwe- en appelsap. Vrugtesuiker (fruktose) word stadig geabsorbeer en kan soms die spysverteringskanaal irriteer, wat dan bydra tot los stoelgange en diarree.

Praktiese riglyne

1. Vrugtesap moet verdun word met water in 'n verhouding van 1 tot 10.

2. Gee vrugtesap in ’n bekertjie en nie in ’n bottel nie om tandbederf te voorkom. Die fruktose (vrugtesuiker) in die vrugtesap beskadig die emalje van jou baba se ontwikkelende tande.

3. Vrugtesap moet verkieslik gegee word as deel van ’n maaltyd pleks daarvan dat jou kind in die loop van die dag daaraan drink. As jou kind ’n swak eter is, is dit beter om vloeistowwe 30 minute voor etes of peuselhappies te beperk.

4. Hou porsiebeheer in gedagte: 120 ml suiwer vrugtesap is gelyk aan een vrugteporsie.

5. Verseker dat jou kind nie te veel vrugtesap drink nie met die Amerikaanse Academy of Pediatrics se riglyne:

- Geboorte tot ses maande: Vermy alle vrugtesap, tensy dit nodig is om hardlywigheid te beveg, en dan moet jy dit verkieslik in oorleg met 'n dieetkundige gee.

- Ses maande tot ses jaar: Beperk vrugtesap tot 120 tot 180 ml per dag.

Sewe jaar en ouer: Beperk vrugtesap tot 240 tot 360 ml per dag.

Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees