Waak teen energiedrankies

akkreditasie
Lees hier hoekom jy eerder nee moet sê vir energiedrankies.

As haar pappa ’n blikkie Red Bull drink om sy moeë lyf reg te ruk, kan jou kleuter dink dis net nóg ’n koeldrank. Dalk dink jy ook dis onskadelik en stem in as sy daarvoor vra.

Daar is geen beperkings op die aankoop van energiedrankies nie en die meeste daarvan het geen waarskuwing op die etiket nie. Dit beloof om moegheid weg te neem, onmiddellike energie te gee,
reaksietyd en uithouvermoë te verhoog en jou verstandelik wakkerder te maak. Die bemarkers is egter stil oor die moont like negatiewe uitwerking.

Energiedrankies bevat onder meer tourien, B-vitamiene en suiker of glukose. Die hoofbestanddeel is
’n hoë dosis ka feïen wat hoofsaaklik verantwoordelik is vir die uitwerking van dié gewilde drankies op jou lyf.

Kafeïen

Kafeïen is die enigste psigoaktiewe middel (’n middel wat die werking van die brein beïnvloed) wat vrylik beskikbaar is en word daarom wêreldwyd die meeste gebruik. Dit het die vermoë om jou wakkerder te maak, in ’n beter bui te kry, angstigheid en spanning te verminder en denke, leer- en geheueprosesse te verbeter.

Dit kom natuurlik voor in onder meer koffiebone, kakaobone en teeblare en word gebruik as geurmiddel in gaskoeldranke soos koladrankies. Wanneer jy kafeïen inneem gaan dit deur die plasenta na jou on- gebore baba of deur jou bloed na jou borsmelk.

Behalwe vir die oënskynlik positiewe uitwerking van kafeïen is daar ook ’n groot negatiewe uitwerking. Dit kan veral skadelik wees vir kinders en swanger vroue. Kafeïen of die onttrekking daarvan is verantwoordelik vir talle hoofpyne. In groter dosisse kan dit newe-effekte soos naarheid, prikkelbaarheid en slaaploosheid of versteurde slaap hê.

Wanneer energiedrankies alleen of in kombinasie met ander bronne van kafeïen ingeneem word, is daar die gevaar van ’n kafeïenoordosis en -vergiftiging, veral vir kinders.

As volwassenes 250 mg kafeïen op een slag inneem, kan hulle kafeïenvergiftiging opdoen met simptome soos senuweeagtigheid, rusteloosheid, maagpyn, braking, vinnige asemhaling, stuiptrekkings
en hartkloppings. Veel kleiner hoeveelhede sal dieselfde uitwerking op ’n kleuter se klein lyfie hê.

Die hoeveelheid kafeïen wat vergiftiging veroorsaak hang van verskeie faktore af en dit is dus moeilik om te bepaal hoeveel te veel is vir jou kleuter. Hoewel energiedrankies omtrent soveel kafeïen het as filterkoffie, word dit soms in groot hoeveelhede verpak, wat maklik lei tot oormatige inname en kafeïenvergiftiging.

Kafeïen is ook verslawend en as jy afhanklik is daarvan kan die onttrekking ’n sindroom veroorsaak van moegheid, depressie, angstigheid en hoofpyn. Dit begin 12-24 uur ná jou laaste inname en kan tot
’n week lank duur. Studies toon dat afhanklike kinders tot ’n week lank ’n verswakte aandagspan het ná onttrekking van kafeïen.

Kafeïenverslawing word ook verbind met rook en alkoholgebruik en dit wil voorkom asof die gebruik
van energiedrankies moontlik ’n voorloper is vir die gebruik van ander dwelmmiddels.

Suiker

Hoewel sommige energiedrankies suikervrye alternatiewe het, bevat die meeste groot hoeveelhede suiker wat verskeie ongewenste uitwerkings kan hê. Drankies met suiker kan veroorsaak dat jou kleuter
nie haar kos wil eet nie omdat dit haar magie vul en genoeg energie gee. Dit verskaf egter geen van die voedingstowwe wat sy nodig het nie. Dit kan ook bydra tot tandbederf, en oorgewig later in haar lewe.

Groot hoeveelhede suiker kom ook in gaskoeldrank, ander koeldranke en sportdrankies voor en selfs ’n oormaat vrugtesap is nie goed nie. Sportdrankies bevat wel minder suiker as ander koeldranke maar bevat ook elektroliete soos natrium, wat verloor word deur sweet tydens lang of intense oefensessies.

Kleuters doen nie soveel oefening nie en as jou kind dit inneem, is dit te veel vir haar liggaam. Kinders wat in warm, bedompige weer meer as ’n uur lank oefen – of sowat drie uur in normale weers- omstandighede – mag sowat 150 ml van ’n sportdrankie drink.

Tourien en ander bestanddele

Tourien is ’n aminosuur wat in kos soos vleis, vis en melkprodukte voorkom en ook in die liggaam gemaak word. Dit is betrokke by verskeie metaboliese prosesse. Ons weet egter nie wat die uitwerking
van hoë dosisse tourien op lang termyn op kinders is nie.

Energiedrankies bevat ook ander bestanddele soos guarana, ginseng en karnitien. Min inligting is beskikbaar oor die gebruik van hierdie stowwe in kinders en dit is dus die veiligste om dit te vermy.

Die beste drankie: H2O

Kenners stem saam dat water die beste vloeistof is wat jy vir jou kind kan gee. Water is noodsaaklik vir lewe en elke stelsel in jou kind se liggaam het dit nodig om te werk. Dit bevat ook geen ekstra energie
nie en skoon water kan geen slegte uitwerking op jou kind se liggaam hê nie.

Moedig haar aan om water te drink as sy dors is. Kleuters het ook twee koppies melk per dag nodig en mag tot ’n halwe koppie 100 persent-vrugtesap, verdun met water, drink.

Kafeien- en suikerinhoud van drankies per 250 ml

Produk   

Kafeien-inhoud 

Suiker-inhoud  

Red Bull-energiedrankie

80 mg

28 g

Power Play-energiedrankie

78 mg

30 g

Monster-energiedrankie

88 mg

27g

Cocao-Cola

23 mg

28 g

Pepsi

25mg

28 g

Filterkoffie

105 mg-gemiddeld

Slegs bygevoegde suiker

Kitskoffie

53 mg-gemiddeld

Slegs bygevoegde suiker

Tee(gebrou)

30 mg-gemiddeld

Slegs byfevoegde suiker

Energade

-

17,5 g

Powerade

-

19 g

Vrugtesap

-

31 g (gemiddeld)

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees