Waak teen vetsug

akkreditasie
Hoekom is dit dat 75% van die wêrelbevolking oorgewig is? Waarom word ons so vet en hoe kan ons dié skrikwekkende tendens omkeer?

Kitskos propvol suiker, verfynde koolhidrate en vet, koeldrank en sappies vol suiker, te veel tyd voor die TV, te min oefening en ál minder van die goeie ou gesinsetes. Dít alles word aangevoer as redes waarom ons kinders ál vetter word.

En die syfers jok nie: Een uit elke drie kinders wêreldwyd tussen die ouderdom van twee en 19 is oorgewig of ly aan vetsug. In Suid-Afrika is 17 persent van kinders tussen een en nege jaar oud oorgewig. Altesaam 4,2 % is vetsugtig.

Maar is dit werklik iets waaroor ons bekommerd moet wees? Ja, sê dr. Craig Nossel, wat aan die stuur staan van Vitality Wellness, ’n afdeling van die gesondheidsversekeraar Discovery:

  • Vetsugtige kinders is meer geneig om vetsugtige volwassenes te word.
  • Altesaam 52 persent van kinders wat tussen drie en ses jaar vetsugtig is, is op 25 ook vetsugtig, teenoor net 12 persent van kinders met ’n normale gewig tussen drie en ses.
  • As probleme met oorgewig vóór agt jaar oud kop uitsteek, sal vetsug in volwassenheid waarskynlik baie ernstiger wees.

Wanneer is jou kind oorgewig of vetsugtig?

’n Kind wat tussen die 85ste en 95ste persentiel op die gewigsgroeikurwe lê, word as oorgewig beskou, sê Craig. Dié wat bó die 95ste persentiel is, is vetsugtig. Dis makliker vir ’n oorgewig kind om uit sy gewig te groei namate hy langer word as vir ’n vetsugtige kind om dit te doen.

Gesondheidskenners is gewoonlik nie te besorg oor kinders se liggaamsmassaindeks (LMI) onder twee jaar oud nie, want daar is geen verband met hul volwasse gewig nie. Dit beteken egter glad nie dat kinders onder twee jaar nie gesond hoef te eet nie. Gesonde eetgewoontes moet begin sodra ’n kind sy eerste happie kos geëet het, of eintlik selfs vroeër – met borsvoeding.

Jy kan jou kind se liggaamsmassaindeks hier uitwerk en sien of hy 'n gesonde gewig is: Klik hier.

Wie se skuld is dit?

Dis nie net ouers se skuld dat kinders ál vetter word nie. Advertensies op televisie en in ander media waar ongesonde koskeuses aangemoedig word, is ’n groot sondebok. Televisie op sigself is ’n ander reuse probleem. Kenners reken meer as 25 persent van kinders bestee meer as drie uur per dag voor die kassie!

Hoe kan jy help?

Hier is wat Craig sê ouers kan doen om dié enorme probleem te help oplos:

  • Borsvoed jou baba minstens ses maande lank eksklusief en hou aan om hom te borsvoed, selfs al het jy al vaste kos begin gee.
  • Bied aan jou peuter ’n verskeidenheid soorte kos en laat hom toe om self te bepaal hoeveel hy daarvan wil eet.
  • Moet nooit jou kind omkoop of dreig sodat hy sy hele bord kos opeet nie, aangesien hy dan later kan sukkel om te weet wanneer hy genoeg gehad het.
  • Moenie ’n alternatiewe kossoort (soos jogurt) aanbied as jou fiemiesrige peuter nie wil eet wat jy vir hom voorgesit het nie. Lig jou skouers en sê hy moet dan maar honger bly. ’n Kind sal eet wat vir hom voorgesit word as hy honger is.
  • Vermy groot porsies en beperk kalorieryke soet en sout kos, maar moet laasgenoemde nie verbied nie.
  • Kinders se eetlus wissel van dag tog dag, moet dus nie verwag dat hy elke dag sy bord kos gaan verorber nie.
  • As jy wil hê jou kind moet van gesonde kos soos groente hou, het hy herhaalde positiewe ervarings met dié kos nodig, en van ’n vroeë ouderdom af. Hy moet kan sien hoe ander mense gesonde kos eet en geniet.
  • Ouers is baie belangrike rolmodelle; eet dus so gereeld as moontlik saam as ’n gesin. ’n Kind behoort teen eenjarige ouderdom saam aan tafel te sit en by die tafel te eet.
  • Onthou, ’n mollige kind is nie noodwending net “lekker gesond” of “groot gebou” nie.
  • Moedig gedurig fisieke aktiwiteit aan.

Hoe gemaak as jou kind aan vetsug ly?

’n Kind wat aan vetsug ly sal gedurig moeg wees en dus nooit lus wees vir oefening nie. Hy kan ook terneergedruk raak omdat vetsug so ’n slegte invloed op mense se selfbeeld het. Vetsug is immers ’n siekte – dit is in 2009 in Amerika deur die Centers for Disease Control and Prevention (CDC) as een gedefinieer.

Medici sê kinders wat aan hierdie siekte ly, sal sonder drastiese leefstylaanpassings, bykans 10 of 20 jaar vroeër doodgaan. Hulle sal ook in hul twintigs al begin las hê van siektes waaroor gesonde mense eers in hul vyftigs begin kla.

As jou kind aan vetsug ly, is dit belangrik dat julle ’n dieetkundige en moontlik ’n sielkundige ook raadpleeg. Hier’s nog raad vir jou en jou kind:

  • Berei gesonde kos voor.
  • Begin ’n gereelde gesinswandeling, waar almal in die gesin elke aand flink om die blok of in die naaste park gaan stap. Jy sal verbaas wees oor hoe baie kalorieë jou kind gaan verbrand met dié daaglikse oefening. Boonop bestee julle so gehaltetyd saam.
  • Help jou kind om ’n sportsoort te vind waarvan hy hou en moedig hom aan daaraan deel te neem.

Is daar hoop?

Ja, sê Discovery se dr. Craig Nossel, maar die probleem gaan nie oornag opgelos word nie. Dit gaan oor eetgewoontes wat verander moet word en dat mense eenvoudig meer aktief moet raak.

“Daar is juis nou wonderlike geleenthede om veranderinge op ’n individuele én gemeenskapsvlak aan te bring, soos met Discovery wat lede beloon vir die koop van gesonde kos,” sê Craig. “Die kweek van regte gewoontes op ’n vroeë ouderdom is die sleutel.”

Eet gesond!

Discovery Vitality, Discovery se welstandsprogram, het in September vanjaar ’n resepteboek met die titel Simply Good Food bekendgestel. Hulle hoop dit sal die kok in die huis help om gesonde kos vir die hele gesin te berei.

Die dieetkundige Anne Till, wat ook help skryf het aan die boek, sê ons en ons kinders se risiko vir vetsug en die chroniese siektes wat met ’n ongesonde leefstyl verbind word, kan dramaties afneem as ons net gesonder eet.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het beraam dat 80 persent van hartsiektes, 90 persent van tipe 2-diabetes en een derde van kankersoorte heeltemal vermy kan word as mense gesonder eet, meer gereeld oefening doen en ophou rook.

'n Gesonde maal (uit Simply Good Food deur Justine Drake)

Salmkoekies

  • 2 aartappels, geskil en in blokkies gesny
  • 1 x 400 g blik salm, gedreineer
  • 3 sprietuite, gekap
  • 2 e (30 ml) hawermout
  • 1 e (15 ml) suurlemoen skil
  • 2 t (10 ml) suurlemoensap
  • 1e (15 ml) fyn gekapte grasuie
  • swartpeper
  • 1 groot eierwit
  • 60 ml sesamsaad olyfolie

Metode

1. Kook die aartappels tot gaar.
2. Dreineer en behou 125 ml van die kooksappe.
3. Druk die aartappels fyn saam met die kooksappe.
4. Voeg die salm, sprietuie, hawermout, suurlemoenskil en -sap, grasuie en peper by.
5. Meng goed en vorm in koekies. Plaas 10 minute in die yskas.
6. Verf die koekies met die eierwit en sprinkel die sesamsaad oor.
7. Verhit ’n klein bietjie olie in ’n kleefvrye pan. Braai die koekies tot goudkleurig en deurwarm.
8. Dreineer op handdoekpapier en sit voor.

Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees