Wanneer gif in die speelgoedkis skuil

akkreditasie
Elke keer wanneer ’n speelding van die mark onttrek word omdat dit skadelik is, kan ’n mens nie help om te wonder hoe veilig jou kind se speelgoed is nie.

Kinders is baie kwesbaar vir swaarmetale soos lood en dis ontstellend om te lees dat sommige vervaardigers kortpad kies en steeds speelgoed verf met stowwe wat dié giftige metaal bevat. Ons het kundiges gevra hoe gevaarvry die produkte in Suid-Afrikaanse speelgoedwinkels is.

Die internasionale speelgoedreus Mattel moes in 2007 16 keer speelgoed met hul naam daarop van winkelrakke regoor die wêreld laat verwyder – meestal weens gevaarlik hoë vlakke van lood in dié speelgoed, waarvan die meeste in China vervaardig is.

Een van die mees onlangse voorvalle was in Augustus verlede jaar toe die Barney Best Manners-telefoon, wat vir die groep se Fischer Price-reeks gemaak is, van die mark Amerika en kort daarna ook hier in Suid- Afrika onttrek is. Die telefoon met die goeie maniere kon slegte gevolge hê vir kinders wat so lekker daarop klets.

Doer Onder het die Australiese regering minder as ’n maand later die Bindeez-krale (wat terloops hul speelding van die jaar was) onttrek. Miljoene van dié kraletjiespeelgoed, wat in die VSA as Aqua Dots bekendstaan, het ’n chemiese stof soortgelyk aan ’n verkragtingsdwelm bevat én potensieel gevaarlike vlakke van lood. Drie kinders in Australië en twee in die VSA het in die hospitaal beland nadat hulle van die kraletjies ingesluk het. Dié produk is kort daarna ook in Suid-Afrika van winkelrakke onttrek.

Die Chinese fabriek wat die Bindeez-krale vervaardig het, het vermoedelik ’n nuwe formule gebruik wat nie in ’n laboratorium goedgekeur of getoets is nie.

’n Woordvoerder van die maatskappy wat die produk vervaardig het, het kort ná die voorval gesê dit is nie duidelik hoe die bestanddele by die punt van vervaardiging omgeruil is sonder hul medewete nie. Dít maak ’n mens benoud. Hoe veilig is die speelgoed op ons winkelrakke? En wat gebeur in China? Gee die vervaardigers enigsins om oor veiligheid?

Nee, beweer ’n joernalis van ’n groot Amerikaanse nuusagentskap op hul webwerf. Alles gaan oor geld. Verf met baie lood daarin kos ’n derde van die prys van verf met minder lood. Sommige vervaardigers sê ook reguit dis net soveel makliker om verf wat lood bevat, op ’n harde oppervlak te kry. Boonop gee loodbelaaide verf ’n mooier, helderder kleur.

Ja, die regulasies is daar. En hulle is almal nogal besonder streng, maar of dit toegepas word, is die vraag wat ons moet vra. Volgens Maurice Sacher, uitvoerende hoof van die Redgwoods-groep wat Toys “R” Us, Babies “R” Us, Reggie’s, Baby & Company en Little People insluit, is die Chinese regering ernstig oor die toepassing van strenger veiligheidstandaarde wanneer dit by kinderspeelgoed, stootwaentjies, ensovoorts kom.

Maurice sê bykans 80% van alle speelgoed word in China gemaak. “Die feit dat Mattel vrywilliglik van hul produkte wat potensieel gevaarlik was, uit die mark onttrek het, bewys dat hulle die produkte gereeld toets en besorg is oor die veiligheid daarvan.” Soos die ander groot speelgoedvervaardigers in China, waaronder Hasbro, gebruik Mattel ook die EN 71-sertifisering. Dít verwys na die loodinhoud van produkte, sê Maurice.

“Ons het in 2007 tussen 18 en 20 produkte van die winkelrakke in Suid-Afrika afgehaal as gevolg van die potensiële gevaar daarvan soos ’n uitermatig hoë loodinhoud. As jy egter in ag neem hoeveel derduisende nuwe speelgoedprodukte jaarliks vervaardig word, is 20 eintlik baie min.”

Feite oor lood

  1. Hoekom lood in verf? Lood word as kleurmiddel en stabiliseerder in veral helderkleurige verf gebruik. Dit kan ook roes keer.
  2. Loodvergiftiging kan lei tot onder meer ’n laer IK, gesondheids-, leer- en gehoorprobleme, verkorte aandagspan, belemmerde groei, hiperaktiwiteit en bloedarmoede.
  3. Kinders absorbeer lood makliker as volwassenes en loop dus ’n groter gevaar om loodvergiftiging op te doen. Kinders wat ondervoed is, is veral vatbaar. Swanger vroue is ook sagte teikens, aangesien die fetus ook looddeeltjies kan absorbeer wat sy ontwikkeling kan benadeel.
  4. Nadat die VSA in 1978 die gebruik van lood in huisverf verbied het, het die loodvlak in hul kinders se bloed met 85 % gedaal. In Suid-Afrika is daar nog geen wetgewing waaraan plaaslike verfvervaardigers moet voldoen nie. Dit is wel oppad. Dit is ook verblydend dat lede van die Suid-Afrikaanse Verfvervaardigersvereniging SAPMA), wat tot 70 % van alle plaaslike verfprodukte vervaardig, nie meer lood in hul verf gebruik nie. En as dit lood bevat, sal hulle so sê. Besoek SAPMA se webwerf om uit te vind wie dié vervaardigers webwerf om uit te vind wie dié vervaardigers is. Die verfvervaardiger KV Art, wat in klei, kryte en gom spesialiseer, is een van die SAPMA-lede wat veiliger kinderprodukte verseker.

Die Redgewood-Group toets nie self die speelgoed vir gevaarlike vlakke van lood nie. “Ons is deel van ’n groot internasionale groep en alle toetse word op een sentrale plek gedoen. Ons is daagliks met mekaar in verbinding en reageer bykans onmiddellik op enige nuus van produkonttrekkings in ander lande.”

Maurice dink nogtans al die voorvalle het net goeie gevolge gehad. Dis byna soos ’n spoedkaartjie. As jy een kry, weet jy jy moet versigtiger wees en stadiger ry. Só is almal nou skielik baie meer bewus van die gevare wat in sekere speelgoed kan skuil. “Dit is baie belangrik dat ma’s die regte speelgoed vir die regte ouderdom koop,” sê Maurice.

As ma sal jy egter weet dat dit nogal moeilik is om jou vierjarige se speelgoed uit kleinboet se handjies (en mondjie) te hou. Dan is daar ook die kwessie van speelgoed, veral die buite-speelgoedtoerusting, by die speelskool. Voorheen was dit veral die verf waarmee houtklimrame en ander buitespeelgoed geverf is, wat ma’s besorg had.

Al die produkonttrekkings verlede jaar het egter gewys dat plastiekspeelgoed ook skadelike hoeveelhede lood kan bevat. Die vraag wat jy sekerlik nou wil vra, is hoe weet jy die verf op die speelgoed wat jy koop (of waarmee jou kind reeds alte lekker speel) is loodvry? Tensy jy elke speelding toets met ’n loodverklikker-toestelletjie, wat jy van die buiteland sal moet invoer, sal jy nie weet nie.

Wat loodvergiftiging doen:

Jy sal ook nie sommer agterkom jou kind het loodvergiftiging nie. Dié toestand is ’n
stille epidemie.

“Lood is ’n giftige stof wat die brein teiken,” sê dr. Angela Mathee, direkteur van die Mediese Navorsingsraad (MNR) se eenheid vir omgewings- en gesondheidsnavorsing. “Wanneer iemand ’n loodvoorwerp insluk of loodstof inasem, kan van die lood in die liggaam agterbly en allerlei probleme veroorsaak, waaronder laer IK, gesondheids-, leer en gehoorprobleme, verkorte aandagspan, belemmerde groei en bloedarmoede.

Loodvergiftiging bou stadig op as jy herhaaldelik aan klein hoeveelhede blootgestel word. “Laat doen ’n bloedtoets as jou kind sommige van bogenoemde simptome het en jy bekommerd is. Doen dit gerus ook as daar met lood by jou huis gewerk word, soos wanneer loodsoldeersel gebruik word om elektriese toestelle reg te maak,” sê Angela.

Kinders doen meestal loodvergiftiging op weens die inname van looddeeltjies. Laasgenoemde kan egter op selfs meer onskuldige plekke as hul gunsteling-speelgoed voorkom.

Hoeveel lood is te veel?

Lood is giftig. “Ongelukkig is dié metaal nie soos koper of sink waarvan sekere vlakke in die liggaam wel aanvaarbaar is nie. Selfs ’n bietjie lood in jou bloed is te veel,” sê dr. Angela Mathee van die MNR.

En as die skade eers gedoen is, kan jy nie die horlosie terugdraai nie. Jy kan wel die loodvlak in die kind se bloed verminder deur blootstelling aan lood te probeer beperk of deur medikasie wat die lood verwyder.

Angela sê egter dié medikasie word net toegedien wanneer iemand eenmalig aan uiters hoë vlakke van lood blootgestel is. ’n Kind wie se ma byvoorbeeld juweliersware by die huis maak of waarvan die pa elke aand terugkom van ’n batteryfabriek, sal voortdurend aan lood blootgestel word, wat medikasie sinneloos sou maak.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê daar moet opgetree word as kinders se bloedloodvlak (BLV) enigiets bo 10 mikrogram per desiliter (µg/dL) is. Dit is sowat 100 dele per miljard. Maar, sê Angela, die afname in IK-tellings, hoewel gering, kan al begin by ’n vlak so laag as 3 mikrogram per desiliter.

Resultate van ’n ses jaar lange studie deur navorsers aan die Cornell-universiteit in die VSA wys dat BLV ’n groot rol speel in kinders se nie-verbale IK. Kinders wat aan hoër
vlakke van lood blootgestel is, se IK was wel sowat vyf punte laer as dié van kinders wat aan laer vlakke blootgestel is, maar almal se intelligensie het ’n knou weg.

In die VSA word bloedtoetste gedoen sodra die vlak van 10 mikrogram/desiliter oorskry word, en as die vlakke wissel tussen 20 en 25 mikrogram/desiliter, doen die owerheid huisbesoek om die huis te fynkam.

Resultate van die jongste peiling wat die BLV van Suid-Afrikaanse kinders gemeet het, sal binnekort beskikbaar wees. Dié uitslag sal bepaal of daar enige verandering in die loodvlak in kinders se bloed is sedert die vorige studie vyf jaar gelede gedoen is (ook deur die MNR) en loodvlakke van ’n groot persentasie kinders wel bo die internasionaal aanvaarbare vlak van 10 µg/dL was.

Hoe veilig is speelgoed in SA?

Maar is daar dan geen regulasie wat jou as ouer kan help om blootstelling aan lood te beperk nie? Wat sê ons eie Buro vir Standaarde, die SABS?

Volgens Alan Cohen van dié organisasie se afdeling regulatoriese sake en verbruikersbeskerming het die SABS lank gelede al ’n standaard opgestel. Maar sonder wetgewing en iemand wat polisieman daaroor speel, beteken dit ongelukkig nie veel nie, sê hy.

Hierdie standaard vir speelgoed, die ISO 8124, is ’n vrywillige standaard wat die maksimum vlakke en metodes van toetsing vir onder meer chroom, lood, kwik en selenium in speelgoedmateriaal en dele van speelgoed spesifiseer. Alan se raad aan enigiemand wat speelgoed koop, is om gerespekteerde handelsname by verantwoordelike verspreiders te koop.

Angela stem saam. “Jy moet die verskaffer van die speelgoed vertrou. Kyk ook uit vir etikette of plakkers wat sê die spesifieke speelding voldoen aan ISO-standaarde.” Maurice sê die speelgoed wat die Redgwood- groep invoer, is almal EN 71-gesertifiseer. Dié sertifisering is nie altyd sigbaar op die verpakking nie, maar hy gee verbruikers die versekering dat al die speelgoed op Toys “R” Us, Babies “R” Us, Reggie’s, Baby & Company en Little People se rakke daaraan voldoen.

’n Soortgelyke standaard, die CE-merk, geld in Europa. Kyk uit vir hierdie merk op die verpakking van die speelgoed wat aan hierdie veiligheidstandaard voldoen. Hoewel niemand dit prontuit sê nie, skemer dit tog deur dat jy mooi moet dink voor jy goedkoop, naamlose speelgoed op vlooimarkte en straathoeke koop.

Die groot sondebokke

Lood skuil nie net in die verf – veral geel, rooi en groen – van legkaarte, boublokkies, plastiekspeelgoed of plastiekborslappe uit China nie. Die gevare van loodvergiftiging is meestal reg onder ons neus, naamlik in ons eie huise en by skole. Dr. Angela Mathee sê die MNR het bevind dat tot 20 % van die huise en skole in Suid-Afrika se mure nog geverf is met verf wat te veel lood bevat. In ’n ander studie wat in 2004 deur die raad gedoen is in huise van hoë-, middel-, en laeinkomste-groepe in Johannesburg is gevind dat daar steeds lood in baie van die verf is wat gebruik word om huise te verf.

Tot wetgewing om loodvlakke in verf te beheer aanvaar word, is daar nie veel wat hieraan gedoen kan word nie. Boonop is die proses om loodbelaaide verf te verwyder, byna gevaarliker as om dit op die mure te los. Dit verg ’n baie spesiale proses – en hope geld – om dit veilig te doen. En om speelgoed met loodverf te verbrand, is heeltemal taboe. Wat jy wel kan doen, is om uit te kyk vir verf wat afdop. Verf wat lood bevat, is geneig om dit te doen en beland dus maklik in nuuskierige mondjies.

Kinders kan ook met lood besmet word as hulle buite die huis of op die skoolspeelgrond speel. Loodpartikels is geneig om in stof – soos dié op jou vensterbanke – of grond te konsentreer, maar kom ook in die lug voor. Lood kan ook in sekere plastiekprodukte en lood-geglasuurde erdewerk voorkom.

Dan was daar natuurlik ook vir jare baie lood in ons petrol. Volgens die MNR was die loodinhoud in Suid-Afrikaanse petrol van die hoogste ter wêreld. In die vroeë 1990’s is bevind dat die loodvlakke in die bloed van 90 tot 100 % van alle stedelike kinders in Suid-Afrika onaanvaarbaar hoog was. Sedert minder lood in petrol gebruik word en loodvrye petrol in Suid-Afrika beskikbaar is, het dié vlakke dramaties afgeneem. Kenners se raad is om liewer jou kinders op die gras as in grond te laat speel.

Ander raad sluit in:

  1. Hou jou kinders se leef-, leer en speelruimtes en veral hul geverfde speelgoed skoon en stofvry. Die MNR beveel onder meer aan dat jy liefs ’n klam lap as ’n besem of stowwer gebruik om vloere en ander items skoon en stofvry te kry
  2. Maak seker jou kinders was hul hande gereeld en hou hul vingernaels kort en skoon. Die looddeeltjies gaan sit graag onder die naels en beweeg van daar maklik na die mond
  3. Sorg dat jou kinders gesond en gebalanseerd eet. Kinders wat nie al die nodige voedingstowwe inkry nie, se liggaam sal makliker lood opneem aangesien lood die liggaam kan bedrieg en hom as kalsium voordoen en só kortpad na jou bene toe kies
  4. Hoewel dit makliker gesê as gedaan is, probeer tog keer dat jou kinders voorwerpe in hul mond sit
  5. Bly ingelig en maak seker jy weet watter speelgoed van die rakke verwyder is as gevolg van hul loodinhoud. Die Amerikaanse webwerf www.cpsc.gov (cpsc staan vir Consumer Product Safety Commission) dateer gereeld die lys van taboe speelgoed op.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees