Babas kan nie praat en vertel waar dit seer is nie. Peuters en kleuters sukkel soms om hul ongemak te verduidelik. En daarom is ouers dikwels onseker oor die erns van ’n kind se siekte of wonde.

Jy kan oorangstig wees en met elke skeet dokter toe hardloop, of jy kan jou kind se toestand dophou en dit self probeer regdokter. Maar wat as jy te laat is en jou kind se gesondheid benadeel. Wanneer moet jy die wag-en-kyk-me tode gebruik en wanneer moet jy nie tyd mors nie? Dr. Mel Menelaou, ’n algemene praktisyn van Pretoria, deel riglyne om dié besluit makliker te maak.

Koors

Neem jou kind dokter toe as sy koors vir langer as 12 uur hoër as 37,5°C is en elke keer styg nadat koorswerende me disyne uitgewerk is, al het hy geen ander siektesimptome nie. Koors moet altyd in ’n ernstige lig beskou word.

Kopseer

Neem jou kind dokter toe as:

  • Hy ’n kopseer het wat met koors en braking gepaardgaan – veral as hy ’n onverdraagsaamheid vir lig toon, aptytverlies het en kla van stywe nekspiere. Dit kan breinvliesontsteking of breinontsteking wees.
  • Hy ’n kopseer het en sy visie aangetas is.

Maagpyn

Neem jou kind dokter toe as:

  • Hy huil van maagpyn.
  • Hy maagpyn het en opgooi.
  • Sy magie veral aan die regtersy seer is.

Dit kan blindederminfeksie wees, wat jonger kinders wel kan oorkom.

Keelseer

Neem jou kind dokter toe as:

  • Hy kla van ’n seer keel (klein kindertjies sê dikwels hulle nekkies is seer) en koors het. Sy keel sal rooi wees.
  • Sy seer keel sonder enige ander simptome langer as 48 uur duur.

Groot magie

’n Uitstulpende magie is doodnormaal by alle peuters onder 2½ jaar. Dit neem mettertyd ’n normale vorm aan. Neem jou kind dokter toe as dit met pyn, braking en diarree gepaardgaan, want dit kan ’n
derm ob struksie wees wat gevaarlik is.

Hoes

  • Neem jou kind dokter toe as:
  • Hy hoes en koors het.
  • Hy veral snags met inspanning hoes. Dit kan ’n asmatiese hoes wees.
  • Hy vir ’n taamlike ruk bly hoes en tekens van lusteloosheid toon. Dit kan tuberkulose wees.

Uitslag

Neem jou kind dokter toe as:

  • Enige uitslag met koors gepaardgaan.
  • Jou kind nie koors het nie, maar vir langer as twee tot drie dae ’n uitslag plek-plek of oor sy hele lyfie het. Jy kan dit aanvanklik net dophou en die simptome met ’n antihistamiensalf en -stropie behandel. Dit is dikwels ’n kontak- of middelallergie wat ná ’n dag of drie sal verdwyn.

Oorpyn

Moet nooit oorpyn ligtelik beskou nie. Gaan dokter toe as jou kind langer as 12 uur oor pyn het en dit met koors gepaardgaan. Verwaarloosde middeloorinfeksie kan in ernstige gevalle tot doofheid lei.

Laat jou kind ’n pynstiller drink en drup plaaslik-verdowende oordruppels in sy oortjie as dit in die middel van die nag gebeur en jy hom wil kalmeer en gemakliker maak tot jy die volgende dag dokter toe kan gaan.

Ooginfeksie

Enige oogprobleem moet dadelik deur ’n dokter ondersoek word. Ooginfeksie kan hoogs aansteeklik wees en ’n dokter moet ook ernstiger oorsake so vinnig moontlik diagnoseer.

Diarree en braking

As jou kind vir langer as ses tot 12 uur braak en diarree het, moet jy hom by ’n dokter uitkry. Hoe kleiner jou kind is, hoe vinniger moet jy by die dokter uitkom. Jy kan in die wag-en-kyk-periode by jou apteker ’n maagstopmiddel en ’n middel teen naarheid kry om die simptome te behandel (setpille werk beter veral as kinders baie
klein is).

Kinders ontwater maklik as hulle loopmagies het en opgooi; sorg dus dat jou kind baie helder vloeistof in dié tyd inneem. Water is nie altyd goed nie, want dit maak hulle gewoonlik nog naarder. Energiedrankies en Coca-Cola sonder gas is beter keuses. Moet hom nie melk of melkprodukte gee nie. Gee jou kind ook hidrasiemiddels wat jy by die apteek kan koop, om verlore elektroliete te vervang.

Pyn tydens urinering

Neem jou kind sou gou moontlik dokter toe as hy enigsins kla van pyn of ’n brandgevoel as hy piepie. Neem ’n urienmonster in ’n skoon houertjie saam sodat die dokter dadelik ’n toets kan doen om vas te
stel wat die probleem is.

Pyn in testikels

Maak sonder versuim ’n afspraak by die dokter as jou seuntjie kla van pyn in sy testikels. Hulle is gewoonlik skaam en sal eerder sê hulle magies is seer.

Lusteloosheid

Kinders wat lam en tam voorkom kan ’n infeksie onder lede hê, maar dit is weer eens dikwels ’n simptoom van iets wat emosioneel nie in orde is nie. Hou dit vir ’n week dop en as daar geen verbetering is nie, bel jou dokter.

Stuiptrekkings

Stuiptrekkings is ernstig en kan onder meer veroorsaak word deur koors (dit hoef nie eens baie hoog te wees nie), ’n suikerwanbalans, epilepsie, meningitis of ’n breinbesering. Gaan ongevalle toe.

Bysteke

  • As jou kind deur ’n heuningby gesteek is, skraap die angel versigtig met ’n mes uit (perdebye laat nie ’n angel nie). Moenie dit probeer uittrek nie. Smeer ’n antihistamiensalf aan die wond en gee ’n pynstillende stropie.
  • As jou kind enige geringe teken van ’n toegetrekte lugpyp toon, moet jy hom onmiddellik by ’n dokter kry – hy kan allergies wees en dis lewensgevaarlik. 

Kopbeserings

Kinders stamp gereeld hulle kop teen voor werpe in die huis, of val, en die gevolg is gewoonlik ’n groot, blouerige knop wat amper onmiddellik uitswel; die spreekwoordelike eier. Ysblokkies in ’n vadoek op die knop sal die swelsel effe laat sak en die pyn demp. ’n Pynstillende stropie wat nie-sederend is, sal help.

Hou jou kind goed dop en as hy binne 12 uur lusteloos raak of balansprobleme het, moet jy hom onmiddellik dokter toe vat. Dit kan harsingskudding of breinbloeding wees.

As jou kind sy kop stamp of op sy kop val en daar verskyn nie ’n knop nie maar ’n duik in sy skedel, moet jy summier dokter of ongevalle toe gaan. Dit kan breinbloeding veroorsaak.

Snye en skrape

Dis deel van grootword en oppervlakkige snytjies en skrape is nie ernstig nie. Stop die bloeding, ontsmet die wond, sit ’n salfie op en troos.

  • Lang en diep snywonde moet so gou moont lik deur ’n dokter behandel word en sal waarskynlik met steke geheg word. Gaan ongevalle toe as dit na ure gebeur.
  • As jou kind ’n snywond van enige vreemde voorwerp opdoen, moet hy ’n klem-in-die-kaak-inspuiting kry wat vir vyf jaar doeltreffend is.
  • Kry ook dadelik mediese hulp as ‘n dier jou kind byt.

Ligament- en ledemaatbeserings

Hier moet jy nie eens twyfel nie. Dis dokter of ongevalle toe sodat X-strale geneem kan word om vas te stel of iets nie gebreek is nie, maak nie saak wat die tyd van die dag of nag nie.

’n Vreemde voorwerp is ingesluk, ingeasem of ingedruk

  • Moenie twee keer dink nie – dis dokter toe en gou ook. As jou kind nie asem kry nie, moet jy na die naaste ongevalle jaag. Dieselfde geld wanneer ’n geldstuk ingesluk word.
  • Kinders doen aardige goed en kleintjies druk soms klein balletjies of soortgelyke voorwerpe in hulle neus en ore. Jou dokter sal dit verwyder. Moenie self daaraan karring nie, want die kans is baie goed dat jy dit net dieper gaan indruk en skade aanrig.

Gebrek aan eetlus

Kinders gaan deur fases en hul eetpatrone wissel soos hulle groei en ontwikkel. Dit is nie noodwendig ’n rede tot kommer nie. Hulle vergoed dikwels daarvoor deur eerder meer vloeistof in te neem. Jy kan
jou kind dok ter toe neem as hy vir langer as ’n week nie regtig eet nie. As jou kind vir ’n siekte behan- del word, gaan hy in elk geval nie lus wees vir kos nie. Sorg eerder dat hy genoeg vloei stof inkry en
moenie hom dwing om te eet nie.

Buitengewoon dors

Maak dadelik ’n afspraak by die dokter as jou kind buitengewoon baie vloeistof inneem en kort-kort wil piepie. Dit kan ’n teken van diabetes (suikersiekte) wees.

Stoelgangprobleme

  • Kinders raak van tyd tot tyd hardlywig. Vrugte sal hulle magies laat werk, maar nie alle kinders hou van vars vrugte nie. Gee dan eerder vrugtesap soos pruimsap om die dermpies aan die gang te kry. As die natuurlike manier nie werk nie, sal jou dokter iets voorskryf.
  • Ontwurm jou kinders (en die ander gesins lede) elke ses maande as julle troeteldiere het, veral katte en honde. As julle nie troeteldiere het nie, moet die ontwurming elke jaar geskied omdat kinders by maatjies in aanraking met diere kom. Vra jou apteker.

Gewigverlies

As jou kind gewig verloor sonder om enige ander siektesimptome te toon, moet jy beslis ’n afspraak by die dokter maak. Onnatuurlike gewigverlies kan ’n aanduiding van ernstige siektes soos diabetes of orgaan-kwaadaardigheid wees. Wanneer jou kind ook hoes kan hy tuberkulose onder lede hê. Ge- moedsversteurings kan ook die oorsaak van gewigsverlies wees.