Wat jy moet weet van Spina Bifida

akkreditasie
Als wat jy van dié geboorte-afwyking moet weet.

Wat is spina bifida?

Dis een van die algemeenste aangebore afwykings en ook die algemeenste neuraalbuis-afwyking. Daar word geraam dat tussen 5 en 10% van die bevolking spina bifida occulta, ’n skadelose soort spina bifida, het.

Sowat een uit elke 1,000 babas word gebore met miëlomeningoseel, ’n ernstiger soort spina bifida. Dié toestand is ongeneeslik en ontwikkel al binne die eerste 25 dae van swangerskap, dus nog voor baie vroue weet hulle is swanger.

Dokters kan die probleem vroeg al met behulp van ’n sonarondersoek raaksien. ’n Baba wat met spina bifida gebore word – veral ernstige spina bifida – het ’n duidelike opening of gaatjie in die vel wat die ruggraat moet bedek.

Spina bifida ontstaan wanneer iets verkeerd loop met die vorming van een of meer werwels in die ruggraat, gewoonlik dié naby die heup. Dié fout is letterlik ’n gat of spleet in die werwelkolom. Hierdie spleet kan skade berokken aan die sentrale senuweestelsel, wat die brein en ruggraat insluit.

Soos ons weet, ontvang en stuur die brein boodskappe. Die boodskappe ontstaan uit dit waaraan ’n mens vat, voel of ruik; of dit wat jy sien en hoor. Die ruggraat is die weg waarlangs die brein boodskappe ontvang en stuur.

Die sentrale senuweestelsel speel dus ’n uiters belangrike rol in ons liggaam. As dit seerkry, is die gevolge verreikend.

Hoekom gebeur dit?

Wetenskaplikes verstaan nog nie presies hoe die wanvorming ontstaan nie, maar navorsing wys baie duidelik dat foliensuur ’n groot rol daarin speel om die neuraalbuis (die deel van die embrio wat later in die brein en rugmurg ontwikkel) korrek te laat vorm. Omgewings- en oorerflike faktore speel ook ’n rol.

’n Ma wat spina bifida het, loop ’n gevaar van sowat 3% om ’n kind met spina bifida te kry. Daar is ook aanduidings dat ’n ma wat reeds een kind met spina bifida het, ’n groter risiko het om nóg ’n kind met spina bifida te hê.

Drie soorte spina bifida

Daar is hoofsaaklik drie soorte spina bifida: spina bifida occulta, meningoseel en miëlomeningoseel.

Spina bifida occulta

Dis die algemeenste soort en ’n ligte vorm van die afwyking. Dit veroorsaak selde gestremdheid en is net sigbaar in die vorm van ’n kuiltjie of ’n klein bietjie haargroei op die rug waar die werwel(s) nie 100 persent ontwikkel het nie.

Baie mense is heeltemal onbewus daarvan dat hulle spina bifida occulta het en kom dit dalk eers heelwat later agter wanneer X-strale van hul rug geneem moet word. Vroue met spina bifida occulta wat wil swanger raak, moet met hul dokter hieroor praat en sal moontlik ’n hoër dosis foliensuur moet inneem.

Meningoseel

’n Meningoseel ontstaan wanneer ’n baie sigbare gewas of sist wat net uit rugmurgvliese bestaan, deur ’n opening in die ruggraat steek. Hierdie sist op die rug lyk byna soos ’n groot blaas en kan gewoonlik maklik verwyder word, waarna die kind normaal kan ontwikkel. Dis ’n baie seldsame toestand.

Onmiddellike chirurgie is wel nodig omdat daar die gevaar van skade aan die rugmurgvlies en gevolglike infeksie bestaan.

Miëlomeningoseel

’n Miëlomeningoseel kom meer algemeen voor en is die ernstigste vorm van spina bifida. Daar is ook ’n sist op die rug, maar dit bevat bo en behalwe weefsels en rugmurgvloeistof ook nog senuwees en ’n deel van die rugmurg. Soms is daar nie ’n sist nie en is die senuwees en rugmurg net oop.

Daar is ’n hoë risiko van infeksie, en selfs al word die toestand chirurgies behandel hou die kind altyd ’n gestremdheid oor. Dit kan insluit ’n mate van verlamming en gebrek aan gevoel onder die beskadigde deel. Die graad van gestremdheid hang baie af van waar die spina bifida is en hoeveel senuweeskade daar werklik is.

Wat is die komplikasies?

Omdat die senuweestelsel seergekry het, is mense met ’n miëlomeningoseel heeltemal of gedeeltelik verlam, meestal in hul onderste ledemate. Die meeste mense wat met hierdie soort spina bifida gebore word, het ook probleme met derm- en blaasbeheer as gevolg van skade aan die senuwees wat na die derm of blaas lei.

Dis egter belangrik om te weet dat een kind met spina bifida nie noodwendig dieselfde mate van skade aan sy sentrale senuweestelsel opdoen as ’n ander kind met dieselfde afwyking nie.

By party is daar net skade aan die motoriese funksies van die onderlyf; by ander weer net aan die sensoriese funksies van die onderlyf. Party se motoriese én sensoriese funksionering word geraak.

Baie kinders wat met ’n miëlomeningoseel gebore is, moet met ’n rystoel oor die weg kom.

Is daar ander komplikasies?

Tot 70% van kinders met ernstige spina bifida het ook ’n waterhofie of ontwikkel dit binne die eerste paar maande ná hul geboorte.

Kan dit voorkom word?

Omdat spina bifida onder meer verbind word met ’n tekort aan foliensuur, beveel medici aan dat jy reeds ’n maand voor bevrugting elke dag foliensuur inneem en daarmee volhou tot die 12de week van swangerskap.

Tot 70% van neuraalbuisafwykings kan voorkom word deur die regte hoeveelheid foliensuur op die regte tydstip van swangerskap te neem. Die aanbevole inname van dié goedkoop aanvulling, ook bekend as vitamien B9, is 400 mikrogram per dag, mits jy nie in ’n hoërisiko-groep val nie.

Dis noodsaaklik om die vitamien aan te vul, want selfs ’n gesonde en gebalanseerde dieet bevat nie genoeg foliensuur om spina bifida te voorkom nie. Die aanvulling is in pilvorm beskikbaar as ’n standaarddosis van 400 mikgrogram per pil.

As jy in ’n hoërisikogroep val moet jy jou dokter raadpleeg oor hoeveel foliensuur vir jou genoeg sal wees – dit kan tot 5 mg per dag wees. Vroue wat self aan ’n neuraalbuis-afwyking ly, ’n familiegeskiedenis daarvan het of voorheen ’n baba gehad het met so ’n afwyking, val almal in ’n hoërisikogroep.

Bykomend tot ’n foliensuur-aanvulling beveel kenners ’n dieet ryk aan kossoorte met vitamien B9 aan. Volgens die dieetkundige Jeske Wellmann is hierdie vitamien in die meeste groen groentesoorte te vinde, maar jy sal minstens twee koppies spinasie of aspersies moet eet om die aanbevole daaglikse hoeveelheid in te kry.

Jeske waarsku ook dat foliensuur water oplosbaar is en dus in die kookproses vernietig word. Eet dus liewer foliensuurryke groente rou of stoom dit liggies.Voorbeeldesluit in ertjies en kekerertjies, alle groen blaargroente, bok choy en lensies. Verskeie ontbytgrane is ook met foliensuur verryk.

Wat as dit met julle gebeur?

Soos met so baie ander gestremdhede is die eerste vraag van ouers wat nou? En hoekom ek? As jou baba spina bifida het, kan jy steun vind by die Vereniging vir Spina Bifida. Gaan na Facebook en tik in
“Spina bifida South Africa” om met die vereniging in aanraking te kom.

Die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad het ook ’n spesiale kliniek net vir neuraalbuis-afwykings. Bel hulle gerus by 021-658-5033.

Is daar hoop?

Hoewel spina bifida nog beskou word as ’n ongeneeslike toestand, is daar baie wat gedoen kan word om die lewensgehalte van mense met ’n neuraalbuis-afwyking te verbeter. In die meeste gevalle word daar chirurgies ingegryp kort ná die geboorte van die baba.

Spesialiste maak met sulke operasies – meestal binne 48 uur ná geboorte – letterlik die opening in die ruggraatjie toe. Soms word die opening net so gelos om vanself te herstel. Die chirurgie moet dan met fisioterapie opgevolg word. In Amerika word ook ál meer operasies uitgevoer om spina bifida te herstel terwyl die baba nog in die baarmoeder is.

Dié operasies is nog baie eksperimenteel maar die sukses daarvan is aan die verbeter.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees