Candida is ’n klein goggatjie wat tot die gisfamilie behoort. Dit kom normaalweg in klein hoeveelhede op ons vel en slymvliese in die mond, slukderm, spysverteringstelsel, neus en vagina voor.

Sekere omstandighede kan veroorsaak dat hierdie goggatjies te vinnig groei en heeltemal oorneem en dan ontstaan ’n Candida-infeksie, oftewel sproei. Gesonde volwassenes kry nie maklik ’n Candida-infeksie nie. Dis meer algemeen by babas, bejaardes en mense met ’n swak immuunstelsel. Gedurige antibiotikagebruik en sekere medikasies kan dit egter aanhelp.

Gis-infeksie in die mond

Wanneer ’n Candida-infeksie in die mond voorkom, noem ons dit mondsproei. Dit kom by volwassenes voor, maar veral ook by babas. Die algemeenste simptoom is wit kolle of lae op baba se tong en veral aan die binnekant van die wange. Dit gaan gepaard met rooiheid en seerheid wat baba moeilik laat sluk en drink.

Elke wit lagie op die tong is nie noodwendig sproei nie. Om te toets, bedek jou vinger met ’n stukkie gaas en vee oor baba se tong. As dit afkom, is dit waarskynlik net melk, maar as dit vasklou of rooi is wanneer dit afkom, is dit sproei. ’n Baba met sproei kan die infeksie maklik na jou tepels versprei.

Mondsproei kan onder meer veroorsaak word deur antibiotika of druppels sterk steriliseermiddels wat aan bottels of fopspene gesmeer word. Dit maak die goeie bakterieë in jou baba se mond saam met die slegtes dood en kan hom meer vatbaar vir sproei maak.

Vaginale sproei

Vaginale sproei is ’n gisinfeksie in die vagina wat gekenmerk word deur ’n gejeuk, irritasie of brandgevoel en ook ’n afskeiding wat wit en krummelrig is. Dit kan ’n bietjie soos krummelrige maaskaas lyk, maar kan ook soms waterig of dik wees.

Laktobasillus-bakterieë is die vriendelike goggas wat in die vagina voorkom en melksuur afskei wat die omgewing suur hou en voorkom dat slegte goggas die oorhand kry. As die suuromgewing verander weens hormoonwanbalanse of versteurings van die goeie bakterieë, kan gisgoggas maklik vermeerder en ’n Candidainfeksie veroorsaak.

Wie kan dit kry?

Byna 75 persent van volwasse vroue kry minstens een keer in hul lewe ’n vaginale gisinfeksie. Dis meer algemeen in die vrugbare jare en is seldsaam voor puberteit en ná menopouse.

Vroue met ’n swak immuunstelsel, dié wat swanger is of diabetes het en vroue wat lank wyespektrum-antibiotika of kortisoon gebruik, is die vatbaarste. Omdat antibiotika goeie bakterieë ook doodmaak, ontstaan daar maklik ’n wanbalans wat sproei die oorhand laat kry.

Mondelikse voorbehoedmiddels, binnebaarmoeder-toestelle en vaginale uitspoeling kan ook ’n mens se kans verhoog om ’n vaginale gisinfeksie te kry.

Sowat 40 tot 45 persent vroue kry dit twee of meer keer per jaar, terwyl 5 tot 8 persent dit vier of meer keer per jaar opdoen.

Diagnose

As jy dink jy het vaginale sproei, moet jy jou huisdokter gaan spreek. Hy sal jou simptome in gedagte hou en kan ook ’n stokkie oor die aangetaste deel trek. Dit sal dan vir ontleding weggestuur word.

Omdat die swam normaalweg in klein hoeveelhede voorkom, het jy nie noodwendig ’n infeksie as spore daarvan in die monster gevind word nie. Die laboratoriumpersoneel sal eerder kyk of hulle ’n buitengewone groot hoeveelheid van die swam vind. Candida-infeksie kan maklik verwar word met ’n urienweginfeksie omdat albei dieselfde brandgevoel veroorsaak.

Behandeling

Sproei kan met verskeie middels behandel word. In die meeste gevalle kan ’n enkele dosis swamdoder dit genees, maar vir vroue wat herhaalde infeksies kry behoort ander behandeling gekies te word. Medikasie kan ook oor die toonbank gekoop word. As jy nog nie voorheen vaginale sproei gehad het nie, is dit beter om dokter toe te gaan om seker te wees van die diagnose.

Navorsing wys dat twee derdes van oor-die-toonbank-swamdoders gebruik word sonder dat ’n mens regtig ’n gisinfeksie het. Sulke onnodige gebruik kan veroorsaak dat die organismes weerstandig word, wat die middel ondoeltreffend sal maak die dag dat jy dit werklik nodig het.

Vaginale sproei kan met omgang versprei en behoort daarom so gou moontlik behandel te word. Medikasie vir sproei is doeltreffend, maar kan tog newe-effekte soos braking, diarree, maagpyn, hoofpyn en bekkenkrampe veroorsaak.

Sommiges mag ook nie meer as twee keer binne ses maande gebruik word nie. Dit veroorsaak dat vroue wat herhaaldelik vaginale sproei kry, alternatiewe soos dieetbehandeling soek.

Candida-dieet

Die internet loop oor van diëte wat beloof om jou van Candida te genees en as jy moeg is vir die ongemaklike gejeuk, het jy waarskynlik al baie ander raad gaan soek.

Dié diëte behels dat ’n mens alle suiker en vrugtesuiker uitsny, en ook nie produkte met gis, soos brood, of kos wat moontlik met swamme besmet mag wees kan eet nie. Die idee is dat gisswamme suikers soos glukose, fruktose en sukrose nodig het om te groei en dat die uitskakeling daarvan hul groei belemmer.

Daarby is die meeste styselryke groente, glutenbevattende kos, mielie- en rysprodukte, kafeïene, kos met ’n hoë glikemiese indeks, bykans alle melkprodukte, die meeste vis- en baie vleisprodukte, voedselbyvoegings en sommige neute en peulgroente taboe.

Mense wat dié diëte volg kry goeie resultate, maar navorsing kon nog glad nie bewys dat die diëte doeltreffend of eens nodig is nie. Alle koolhidrate word deur die liggaam afgebreek tot eenvoudige suikers soos glukose of fruktose en om die suikervry = gisvry-teorie te laat werk, sal álle koolhidrate dus uitgesluit moet word; iets wat selfs vir Tim Noakes onmoontlik is.

Diëte wat ’n groot hoeveelhede kosse uitsluit, kan ook maklik voedingstekorte veroorsaak wat jou immuunstelsel nog meer kwesbaar maak. Dis in elk geval prakties byna onmoontlik om met die diëte vol te hou. Bewerings dat die Candida-dieet chroniese moegheid genees, is nie deur studies bewys nie.

Beste dieet

Die beste manier om seker te maak dat jou liggaam sterk genoeg is om ’n Candida-infeksie te voorkom en te beveg, is om ’n gesonde, gebalanseerde dieet te volg. Dit behels dat elke maaltyd uit drie voedselgroepe bestaan en peuselhappies uit een of twee gesonde kosse.

Maak seker dat jou bord kos ’n boukos (proteïen soos vleis, bone, of melk), energiekos (stysel soos brood, pap, pasta of rys) en beskermkos (vrugte of groente) bevat. Die verhoudings is ook belangrik: ’n kwart bord elk boukos en energiekos en ’n halwe bord beskermkos. Kies hoofsaaklik vars, onverwerkte eerder as verwerkte kosse.

Peuselhappies kan ook bestaan uit vars of bevrore groente en vrugte wat vol vitamiene en minerale is en help om jou immuunstelsel in ’n goeie toestand te hou. Bygevoegde suiker behoort waar moontlik beperk te word, aangesien dit onnodige ekstra energie gee maar geen voedingstowwe bevat nie.

Kosse soos ongegeurde jogurt wat goeie goggas bevat, behoort ook ingesluit te word. Dit kan help om seker te maak dat die goeie goggas elkeen op hul pos is, gereed om die gisgoggas in toom te hou as hulle wil handuit ruk. Laevetmelk, vars vleis, hoender en vis en volgraanstysels verskaf alles belangrike voedingstowwe wat jou liggaam gesond hou.

As jy diabetes het, behoort jy ekstra mooi te kyk na wat jy eet. Wanneer ’n diabeet se bloedsuiker nie beheer word nie, sal die ekstra suiker in die urien uitgeskei word. Omdat gisgoggas suikertande het, sal hulle welig groei waar urien propvol suiker is. Elke diabeet behoort gereeld hul bloedsuiker te monitor en hul dokter en dieetkundige raadpleeg indien hul bloedsuiker gereeld te hoog is.

Probiotika

Die goeie goggas in jou lyf is een van die belangrikste maniere waarop gisinfeksies soos orale en vaginale sproei voorkom en behandel kan word. As jy antibiotika moes gebruik, maak seker dat jy minstens vyf dae nadat jou kursus klaar is, ’n probiotika-aanvulling drink.

Probiotika wat gebruik kan word vir voorkoming en behandeling van Candida-infeksie is Lactobasillus fermentum RC-15, Lactobasillus fermentum B-54, Lactobasillus rhamnosus GR-1, Lactobasillus rhamnosus-GG en Lactobasillus acidophilus. Soek ’n probiotikum wat ’n mengsel van organismes bevat en minstens een van die spesifiekes hierbo.

ProbiFlora Adult Intensive Rescue, ProbiFlora Adult Classic Bowel Support en Pro-B6 is voorbeelde van produkte wat van hierdie organismes bevat. Vir ’n baba met sproei kan jy Pro-B2 of Kiddie-forte gee.

Jy het ’n dosis van 109 tot 1 011 goeie bakterieë nodig wat mondeliks of intravaginaal of op albei maniere gebruik kan word. Beproef gerus eers probiotika as ’n gisgogga krap en as dit nie werk nie, kan jy jou huisdokter raadpleeg. Katoenonderklere kan ook help om vaginale sproei te voorkom.