Vraag:

Ek het my seuntjie eksklusief geborsvoed tot op vier maande en toe oorgeskakel na formulemelk nadat ek weer begin werk het. Dit was nie die ideaal nie, maar ek kon net nie genoeg uitmelk om aan sy behoeftes te voldoen nie. Hy is nou nege maande oud en weier skielik die formulemelk. Kan ek begin om koeimelk by sy formule te meng om te kyk of hy dit sal drink? Moet ek eers ’n ander soort formulemelk beproef?

Antwoord:

Kinders onder 12 maande behoort nie koeimelk as ’n drankie te kry nie, aldus die Amerikaanse Akademie van Pediatrie (AAP). Koeimelk bevat nie genoeg vitamien E, yster of noodsaaklike vette om aan ’n groeiende baba se behoeftes te voldoen nie.

’n Jong kind se stelsel, veral die niere, kan ook nie die baie proteïen, natrium en kalium in koeimelk hanteer nie. Dis daarby vir jou kind moeilik om die vet en proteïen in koeimelk te verteer.

Die beste voeding vir kinders onder 12 maande is volgens die AAP:

  • Borsvoeding die eerste ses maande van hul lewe waar moontlik (hoewel dit nie altyd moontlik is nie, veral nie vir werkende ma’s nie). Indien borsvoeding nie moontlik is nie, is formulemelk ’n gesonde alternatief.
  • Net borsmelk of ysterverrykte formule in die eerste 12 maande van ’n kind se lewe.

My voorstel is dat jy eers ’n ander formulemelk beproef of die melk in ’n bekertjie pleks van ’n bottel te gee. ’n Klein bietjie vanieljegeursel by die formulemelk help soms ook om die geur nader aan dié van borsmelk te maak.