GRIEP

Kinders is tussen een en ’n half tot drie keer meer geneig om griep te kry as volwassenes. Navorsing wys ook dat die virus die ergste toeslaan op kinders tussen ses en 10 jaar oud. Dis omdat hulle nog nie lank genoeg geleef het om genoeg immuniteit teen die influensavirus op te bou nie.

Omdat hulle voortdurend in noue kontak met mekaar is by ’n skool, is die kans boonop groter dat hulle ’n griep- of verkouevirus aansteek.

’n Normale, gesonde kind kan tot sewe boonstelugweg-infeksies in ’n jaar opdoen en kinders wat by dagsorg of in ’n speelskool is, tot 14! Wees op die uitkyk vir dié griepsimptome, veral by jong kinders:

  • ’n skielike hoë koors (wat tot vier dae kan duur)
  • ’n droë hoes
  • koue rillings
  • spierpyn
  • hoofpyn
  • naarheid en diarree
  • ’n toe neus, maar dit loop nie

Verlig die simptome

Osetalmivir (Tamiflu) word gebruik as voorkoming as jy aan iemand met griep blootgestel is en as behandeling omdat dit simptome verkort en komplikasies voorkom. Jy kan wel die simptome verlig met medisyne terwyl jou liggaam teen die virus veg. Dit help ook om jou kind se vitamien C-vlak gesond te hou omdat dit die liggaam help om infeksies te beveg.

Dokters sê baie rus en ’n ligte dieet met baie vloeistowwe is aanvanklik die beste plan, asook parasetamol vir pyn en koors. Maar bly weg van verkoue- en griepmedisyne waarvan die doeltreffendheid nie wetenskaplik bewys is nie. Die meeste dokters glo wel dat die griepinspuiting een van die doeltreffendste maniere is om griep hok te slaan – veral noudat ons nog die koronavirus ook moet hanteer.

Verkoue en griep kan tot allerlei komplikasies lei. In die res van dié artikel volg ’n volledige lys van al die komplikasies wat jou siek kind kan ontwikkel en hoe jy dit kan behandel. Hou egter altyd in gedagte dat simptome, veral koors, wat ná drie dae voortduur, ’n doktersbesoek vereis. Neem jou kind ook dokter toe as hy:

  • ál slegter begin eet en drink,
  • nie kan sluk nie,
  • skielik baie lam en tam en bleek is,
  • ’n baie slegte hoes ontwikkel,
  • ’n fluitbors het, en/of
  • naar is en/of diarree het.

V&A: GRIEPINSLUITING

V: Wat is dit?

A: Daar word elke jaar ’n seisoensgriepentstof ontwikkel om jou en jou gesin teen die algemeenste griepstamme van daardie jaar te beskerm. Statistiek wys dis 70 tot 90 persent doeltreffend.

V: Wie kan die inenting kry?

A: Die inspuiting kan jou nie siek maak nie en kan dus met veiligheid gebruik word vir enigiemand, maar is veral bedoel vir mense met ’n swakker immuniteitstelsel, soos kinders. Die griepinenting word aanbeveel vir alle kinders ouer as ses maande. Babas jonger as dit behoort nie ingeënt te word nie omdat hul immuunstelsel nog te onvolwasse is om doeltreffend te reageer. Die griepinenting word juis vir swanger vroue aanbeveel. Griepinspuitings is ook veilig vir borsvoedende ma’s. Die enigste mense wat dit nie kan kry nie, is dié met ’n eierallergie of dié wat siek is met ’n hoë koors. Kinders wat reeds tekens van griep toon of wat sommer net effens siekerig is, moet liefs ook die inspuiting vermy omdat dit die simptome kan vererger.

V: Wat is die beste tyd om die griepinenting te kry?

A: Griepinspuitings word meestal net een keer per jaar toegedien, gewoonlik kort voor die winter.

V: Waar kry ek dit?

A: Jy kan die griepinenting by jou huisdokter, apteekklinieke soos Dis-Chem en Clicks, of enige apteek kry.

VERKOUE

Mense sê dikwels hulle het griep terwyl die probleem eintlik ’n verkoue is. ’n Loopneus, hoofpyn, seer keel, oë wat traan en miskien ’n gehoes is alles simptome van verkoue. Dié toestand, wat deur die rinovirus veroorsaak word, regverdig nie regtig dat jou kind in die bed bly nie.

Griep, daarenteen, word deur die in- fluensavirus veroorsaak en laat jou kind baie pap en lusteloos voel. Die simptome stem baie ooreen met dié van verkoue, maar as dit eers begin, kan dit ’n kind binne drie tot ses uur sommer baie siek maak.

Anders as die rinovirus, wat meestal net die boonste lugweg aanval, is die influensavirus regtig gevaarlik en is die simptome baie hewiger as met ’n verkoue, veral by klein kindertjies en bejaardes. Geen wonder dus dat talle kinders en ouer mense elke jaar met griep in die hospitaal beland nie.

Verlig die simptome

Geen medisyne kan verkoue genees nie. Verlig die simptome met parasetamol vir pyn en koors. Vitamien C help ook die liggaam om infeksies te beveg.

TOE NEUS

Behandel altyd jou klein baba se toe neus, anders sukkel hy om goed te drink en te slaap. Gereelde druppels soutoplossing sal help. Moet egter nie te veel daarvan gebruik nie, want dan het dit die teenoorgestelde uitwerking.

Verlig die simptome

Baie dokters meen ’n neussproei werk beter as druppels aangesien dit hoër in die neusgang kan bykom. Nog raad is om te sproei in die rigting van die kind se agterkop en nie sy voorkop nie.

Neussproeie soos Iliadin, Salex en Stérimar is almal goeie teenvoeters vir ’n toe neus, maar moenie langer as vyf dae aaneen gebruik word nie.

As die toestand chronies is, moet jy die oorsaak daarvan probeer opspoor. Die oorsaak van ’n neus wat pal toe is, is meestal ’n allergie. Probeer dus vasstel presies waarvoor jou kind allergies is.

Soutoplossing-neussproei is heeltemal veilig vir langdurige gebruik. Homeopate beveel dikwels Weleda se Oleum Rhinale aan.

Beproef gerus ook Bennetts se Saline Nose Drops vir ’n droë of verstopte neus.

As jou baba se neus verstop is, kan jy die slym met ’n spesiale spuit probeer uitkry.

So ’n spuit het ’n bol op die punt wat jy in elke neusgat moet druk en laat los om slym uit te suig. Dis egter nie altyd doeltreffend nie, want die slym sit dikwels heelwat hoër op in die neusgang vas.

Sommige dokters beveel warm drankies en hoendersop aan om die ongemaklike gevoel van ’n toe neus te verlig. En as jy borsvoed, kan jy voor ’n voeding ’n bietjie borsmelk in sy neusie laat drup. Borsmelk bevat probiotiese bakterieë wat ’n toe of loopneus kan help opklaar.

LOOPNEUS

Vir ouer kinders is die goedkoopste en doeltreffendste oplossing om te sorg dat hulle hul neus gereeld blaas en genoeg vloeistowwe drink. As jy reeds medisyne soos Coryx beproef het om die afskeidings op te droog, maar die loopneus wyk nie, moet ’n dokter kyk of daar nie dalk ’n erger keelinfeksie of sekondêre bakteriese infeksie is nie.

Verlig die simptome

Vat ’n botteltjie soos dié wat vir urienmonsters gebruik word, vul dit met ’n soutoplossing soos Salex en voeg ’n knippie koeksoda by. Drup dan gereeld ’n paar druppels daarvan met ’n medisyne-drupper in jou baba se neusgate.

BRONGITIS, MANGEL- EN LONGONTSTEKING

Brongitis is ontsteking van die lugweë in die longe. Dit veroorsaak ’n gehoes, met of sonder koors. Dié hoes is eers droog en word dan ’n aanhoudende slymhoes. Brongitis is bykans altyd viraal en dus is geen antibiotika nodig tensy bakteriese komplikasies voorkom nie.

Dokter toe

Daar is geen wetenskaplike bewys dat hoesmiddels vir kinders doeltreffend is nie. Behandeling kan kortisoon-inhalasies insluit, mits dit tot ’n verbetering van simptome lei. Indien nie, sal jou dokter dit staak. Moet nooit vir jou kind medisyne gee wat sy hoes onderdruk nie, en gee baie vloeistowwe en ligte kos.

Die simptome van mangelontsteking sluit in skielike koors (wat dae kan duur), rillings, hoofpyn en ’n seer keel. Naarheid en diarree is ook algemeen en kinders verloor gou hul eetlus omdat sluk so pynlik is.

Soms stroom die neus en die kliere onder die kaak kan vergroot. Kinders met dié simptome moet dadelik dokter toe, aangesien behandeling binne 24 uur die doeltreffendste is.

Wag jy langer, kan verdere komplikasies soos middeloorontsteking intree. Jou dokter sal waarskynlik penisillien voorskryf. As mangelontsteking keer op keer terugkom, sal jou kind se mangels dalk uitgehaal moet word.

Longontsteking gaan gepaard met ’n matige tot hoë koors en ’n droë hoes. Jou kind kan ook kla van pyn in die bors en naarheid, hy sal swak wees en met moeite asemhaal. In alle gevalle moet jy hom vinnig by jul dokter uitkry. Intussen moet jou kind baie rus, parasetamol vir pyn en koors en baie vloeistowwe inkry.

Longontsteking kan voorkom word deur die entstof Prevenar, wat ook vir die voorkoming van middeloorontsteking gebruik word. Dit word veral aanbeveel vir kinders jonger as twee jaar, kleuters in dagsorg en kinders wat gereeld oorinfeksie kry. Vra jou klinieksuster of pediater meer daaroor.

BENOUDE BORS

’n Kind wat vinnig asemhaal, na asem hyg of baie hard asemhaal, moet by ’n dokter uitkom. Ouers kan self bepaal of hul kind se asemhaling te vinnig is deur die hoeveelheid asemteue per minuut te tel. Asemhalingstempo is ouderdomsafhanklik – onder twee maande is meer as 60 asemhalings per minuut te vinnig, van twee tot 12 maande is meer as 50 per minuut te vinnig en ouer as een jaar is meer as 40 asemhalings per minuut te vinnig. Kyk ook na die gebruik van asemhalingspiere – intrekking onder die ribrand is aanduidend van respiratoriese nood.

Verlig die simptome

’n Koors kan egter die aantal asemstote opjaag. Probeer dus eers om jou kind se koors af te bring en tel dan weer voor jy optree. Maar moet liewer nie sloer voor jy by ’n dokter uitkom as jou kind asemhaal soos iemand wat pas ’n marathon voltooi het, of as jy sy borskas op en af kan sien beweeg nie.

HOES

Wat staan jou te doen as ’n gehoes jou kind nag ná nag wakker hou, of as sy hoes baie sleg klink? As dit ’n akute hoes is wat met ’n verkoue of griep gepaardgaan en al ’n paar dae lank duur, moet julle dokter toe. Vra die dokter om vas te stel hoe ernstig die hoes is. Hy sal dit doen deur die bloedsuurstofvlak te toets en dan die gepaste medisyne voorskryf.

Verlig die simptome

As die hoes nie ernstig is nie, is die beste plan om jou kind se pyn te verminder met ’n middel soos Panado. ’n Minder ernstige hoes behoort binne vier tot vyf dae te wyk.

Daar is nie wetenskaplike bewyse dat hoesmiddels doeltreffend is nie en daar is geen aanduiding dat dit slym by kinders ”oplos” nie. Jou kind sal die slym uithoes of insluk. As hulle dit insluk, kan dit hulle naar laat voel.

Dokter toe

’n Chroniese hoes wat nie met verkoue of griep gepaardgaan nie, is iets heeltemal anders en die moontlikheid van asma, ’n allergie of refluks moet dan ondersoek word. ’n Blaffende hoes wat skielik aankom en gepaardgaan met ’n hees stem terwyl jou kind sukkel om asem te haal, is waarskynlik kroep. Dis ’n baie ernstige toestand wat onmiddellike mediese aandag vereis, ongeag die tyd van die dag of nag. Gee jou kind iets om sy koors af te bring en neem hom hospitaal toe.

MIDDELOORONTSTEKING

Infeksie in die eustachiusbuise wat tussen die keel en die middeloor geleë is, is een van die algemeenste komplikasies van verkoue. Die tekens daarvan is duidelik: Jou kind vat aan sy ore en hou op huil as jy hom optel. Dit is omdat die drukking in sy ore verlig wanneer hy regop is. Skielike gille in die nag, koors en etter wat by die oortjie uitloop is drie verdere simptome van middeloorontsteking.

Dokter toe

Jou dokter sal die infeksie as volg behandel:

  • Antibiotika as die infeksie bakteries is (jou dokter kan dit bepaal). Antibiotiese oordruppels kan ook gebruik word.
  • Pynmedisyne soos parasetamol om jou kind beter te laat voel en sy koors te laat daal.
  • Baie rus As jou kind herhaaldelik oorontsteking kry, sal jul dokter waarskynlik dreineringspypies (grommets) oorweeg.

Dis klein buisies wat deur die trommelvlies geplaas word nadat ’n klein snytjie onder narkose in die trommelvlies gemaak is. Die buisies help om die middeloorruimte agter die trommelvlies te ventileer.

SEER KEEL

Babas en ouer kinders kan dieselfde behandeling hiervoor kry, naamlik ’n antibiotikum – mits daar bewys van bakteriese infeksie is, soos ’n rooi keel.

Verlig die simptome

Phargel of Andolex-jel kan help. Jy kan ook ligte pynmedisyne soos parasetamol gee. ’n Baie seer keel kan ’n simptoom van mangelontsteking wees en moet onmiddellik behandel word.

Oor-die-toonbank-medisyne
Die heel beste oor-die-toonbank- medisyne kan net die simptome van verkoue en griep verlig omdat die meeste van hierdie medisynes ’n mengsel van histamien, soms vitamien C en iets vir pyn of koors bevat. Maar wees versigtig, maan kenners. Juis omdat hierdie soort medisyne dikwels iets van alles bevat, kan jy jou kind maklik oordoseer. Wees dus versigtig en vra liewer ’n apteker of jou dokter as jy twyfel. Vat die medisyne wat jy tans vir jou kind gee saam apteek of dokter toe sodat jy die regte raad kan kry.

ALLES OOR ANTIBIOTIKA

Antibiotika het hul plek. Wees ingelig oor wanneer en hoe dit gebruik moet word.

Antibiotika red lewens – veral as dit kom by ernstige toestande. Dit kan ook langtermyn-skade voorkom.

Maar hoe meer gereeld dit voorgeskryf word en hoe meer onverantwoordelik dit gebruik word, hoe groter word die kans dat selfs lewensbedreigende siektes sal moet swig voor magtige superkieme wat vir antibiotika lag.

Hoe weet ek of antibiotika nodig is?

Die meeste babas en jong kinders doen gemiddeld drie keer per jaar lugwegontsteking op. Soms is die oorsaak ’n virus en dan klaar die ontsteking vanself op. Maar wanneer die sondebok ’n bakterie is (soos wanneer jou kind oorontsteking of ’n “strep”-keel het) is antibiotika al wat vinnig gaan help. Wat meer is, as antibiotika betyds toegedien word, kan dit ernstige komplikasies voorkom.

Daar is deesdae omtrent 60 verskillende soorte antibiotika vir babas en kinders op die mark en in Amerika alleen word sowat 30 miljoen kursusse antibiotika elke jaar vir kinders met oorontsteking voorgeskryf.

Jou dokter moet eers vasstel of ’n siek kind ’n virus- of bakteriese infeksie het. Die reël is eenvoudig: Antibiotika maak bakterieë dood, maar aan virusse doen dit net mooi niks.

Met ernstige bakteriese infeksies soos meningitis, middeloorontsteking en longontsteking het jy nie ’n ander keuse as om antibiotika te drink nie.

As die dokter nie weet of dit ’n virus- of bakteriese infeksie is nie, moet hy liefs die ouers huis toe stuur met die opdrag om hul kind fyn dop te hou. As die kind sieker word, kan hulle mos net bel vir ’n voorskrif antibiotika of hom terugneem dokter toe.

Sodra die dokter weet die sondaar is ’n bakterie, moet hy verkieslik ook ’n toets laat doen om vas te stel presies watter bakterie die skuldige is en dan ’n antibiotikum voorskryf om daardie spesifieke bakterie dood te maak.

In die praktyk is dit egter nie altyd uitvoerbaar nie, en dokters kies dan om ’n wyespektrum-antibiotikum voor te skryf wat ’n hele rits bakterieë teiken, hopelik ook die een wat die probleem veroorsaak.

Hoe werk weerstandigheid?

Volgens die webtuiste mayoclinic.org word die swakste bakterieë doodgemaak elke keer wanneer jy ’n antibiotikum gebruik. Die sterkstes kan egter oorleef en leer om met ’n volgende ontmoeting met dieselfde antibiotikum wéér te oorleef. Hierdie slim, sterk bakterieë versprei gou hul goeie nuus mét aanwysings (’n genetiese kode) na ander bakterieë. En so word nog meer bakterieë immuun teen ’n bepaalde antibakterium. En siedaar, ’n superkiem word gebore.

Die volgende stap is dat ’n sterker antibiotikum ontwikkel word om teen die nuwe superkiem te veg – en dan begin alles van voor af, tot bakterieë ook teen die nuwe middel weerstandig is.

Help só

Met dié stappe kan jy bydra tot die oorlog teen antibiotikaweerstandigheid.

1 BLY BY DIE VOORSKRIF Gebruik antibiotika presies soos jou dokter dit voorgeskryf het. Moet dus nie die dosis aanpas nie en maak die voorgeskrewe kursus heeltemal klaar. Baie mense hou op om hul medisyne te drink wanneer hulle beter begin voel. Die gevolg is die medisyne slaan die kieme net katswink maar maak hulle nie heeltemal dood nie, wat weerstandigheid aanhelp.

2 MOET DIT NIE HERGEBRUIK NIE Moet nooit antibiotika wat om die een of ander rede van ’n vorige voorskrif oorgebly het, later weer gebruik vir ’n ander toestand nie. Dit is dalk die verkeerde antibiotikum en die kursusduurte sal nie reg wees nie.

3 KRY JOU EIE VOORSKRIF Moet nooit iemand anders se antibiotika-voorskrif oorneem nie.

4 LUISTER NA JOU DOKTER Moenie druk op jou dokter uitoefen om antibiotika voor te skryf nie.

5 HOU INENTINGS OP DATUM Van die inentings beskerm jou kinders teen bakteriese infeksies.