Beskerm jou borste

akkreditasie
Of jy borskanker gaan kry of nie, hang van baie dinge af... jou gene, jou omgewing, jou optrede, jou leefstyl. Van dié dinge is beslis in jou beheer, maar ander is nie. Die oorsaak van borskanker is ’n raaisel, maar gelukkig is baie risikofaktore al geïdentifiseer. Beskerm jouself met inligting.

Wat jy KAN DOEN...

Jou gene

Jy kan nie jou gene verander nie. Wat jy kan doen is om seker te maak dat jy jou familiegeskiedenis ken. Vra jou ma en jou pa oor albei kante van die familie, sover terug as wat hulle kan onthou. Was daar enigiemand in die familie wat borskanker gehad het?

Maak seker jou dokter het ook dié inligting. Dit kan beteken dat jy vroeër met roetine-mammogramme begin, of dat jy moontlik vir die borskankergeen getoets word. Dit verdubbel jou risiko as jou ma, suster of dogter borskanker het. As twee van hulle dit het, verdriedubbel dit jou risiko.

Maar wees gewaarsku: Die feit dat daar geen gevalle in jou familie was nie, beteken nie dat jy borskanker vryspring nie. ’n Genetiese band kom net in 10 tot 15 persent van gevalle voor.

Jou omgewing

Westerse vroue in ontwikkelde lande kry meer dikwels borskanker as Oosterse vroue of vroue in ontwikkelende lande. Daar is baie spekulasie oor hoekom – alles van dieet tot besoedeling tot hormone en gifstowwe in die water en omgewing het al die skuld gekry. Talle chemiese stowwe word tans bestudeer om te kyk of daar werklik ’n verband is tussen hul voorkoms en ’n kankerrisiko.

Jou optrede

Weet dít: Jy is nooit te oud of te jonk om borskanker te kry nie, en al doen jy alles reg om die risiko te verminder, kan dit jou steeds oorkom. Dit is hoekom álle vroue, ongeag hul risikoprofiel, hul borste moet leer ken, die vroeë tekens van borskanker moet ken en ook moet weet hoe om elke maand ’n selfborsondersoek te doen.

Borskanker wat vroeg ontdek word, kan met groot sukses behandel word. Borskanker wat baie laat ontdek word, kan noodlottig wees. Wees op die uitkyk vir knoppe, kuiltjies, velveranderinge, veranderinge in jou tepel, afskeidings uit jou tepels, ’n tepel wat skielik instulp en veranderinge in jou borsvorm. Spreek jou dokter dadelik as jy enige van hierdie tekens bespeur.

Jou leefstyl

As jy oorgewig is, rook, as jy gereeld twee of meer alkoholiese drankies per dag drink, geen oefening doen nie en ongebalanseerd eet, is jou risiko groter. Daar is bewyse dat vroue wat omega 3-aanvullings gebruik of olierige vis by hul dieet insluit, se risiko minder is.

Wenke

  • Daar is vroeër aanbeveel dat jy jou borste een keer per maand op dieselfde tyd van die maand ondersoek – gewoonlik kort ná jou maandstonde – en dis steeds ’n goeie idee. Maar deesdae beveel medici ook aan dat jy jou borste baie beter leer ken deur elke dag bewustelik na jou borste te kyk in die spieël en daaraan te vat en voel terwyl jy staan en terwyl jy lê. Dit sal jou beter help om agter te kom as iets verander. Onthou ook om rondom jou bors te voel, onder jou sleutelbeen en in jou armholte.
  • As jy voor 30 ma word, is jou borskankerrisiko laer. As jy ’n baba geborsvoed het, is jou risiko laer, veral as jy langer as ’n jaar geborsvoed het.
  • Hopelik het jy nog nooit gerook nie, want dit plaas jou in ’n laer risikogroep. As jy rook, doen moeite om op te hou.

Borsondersoeke

Ondersoek jou borste een keer per maand 15 minute lank. Ondersoeke is dieselfde vir nie-swanger vroue, swanger vroue en vroue wat borsvoed. Ondersoek jou borste direk nadat jy geborsvoed het.

Hande op heupe

  • Staan kaal voor spieël met hande op heupe
  • Kyk na voorkoms van borste
  • Kyk na grootte en vorm
  • Soek na veranderinge in vel en tekstuur
  • Kyk hoe gesond tepels en areolas lyk

Arms bo kop

  • Staan kaal voor spieël en lig arms bo kop
  • Beweeg borste op dieselfde manier?
  • Kyk na grootte, vorm, hoe borste hang en of hulle simmetries is
  • Het tepels en areolas kuiltjies of knoppe, is dit iewers ingeduik?
  • Soek in jou laer armholte na swellings by

Staan en streel

  • Lig arm oor kop, gebruik regterhand se vingers om ligte druk op linkerbors uit te oefen
  • Streel bors van bo na onder en beweeg van binnekant oor bors na armholte-area. Maak ook sirkelbewegings
  • Maak seker jy voel hele borsarea
  • Is daar verandering in tekstuur, kleur en grootte?
  • Ondersoek ander bors ook

Ondersoek tepels

  • Staan kaal voor spieël en laat sak albei arms
  • Knyp tepel saggies met wys- en middel-vinger van regterhand en trek vorentoe. Spring die tepel terug? Trek die tepel in die bors in?
  • Kyk ook of daar vloeistof lek
  • Ruil hande en ondersoek ander tepel

Leun terug en voel

  • Lê agteroor
  • Plaas kussings onder kop en skouers
  • Plaas linkerhand agter jou kop
  • Voel aan bors en onderarm met regterhand
  • Enige verandering in tekstuur, kleur of grootte?
  • Ruil kante en herhaal
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees