Mens hoor amper nie meer van kinders wat weens siekte sterf nie of wat siektes soos polio, tuberkulose of masels opdoen nie. Dis grootliks te danke aan die Wêreldgesondheidsorganisasie wat so onlangs as 1974 eers met ’n uitgebreide program begin het om siekte deur immunisasie te voorkom.

In daardie stadium was net sowat 5 persent van kinders wêreldwyd ingeënt. Vandag word sowat 80 persent van kinders onder ’n jaar oud geïmmuniseer. Desondanks sterf daar steeds meer as 3 miljoen kinders wêreldwyd elke jaar weens siektes wat eintlik deur immunisasie voorkom kon gewees het.

Immunisasie werk volgens ’n baie eenvoudige beginsel: Die liggaam se immuunstelsel reageer op onbekende kieme deur teenliggaampies te vervaardig om daarteen te veg. Sou die liggaam later weer met dié kiem te doen kry, sal hy dit herken en groter weerstand daarteen hê.

Deur dus ’n baie klein of verswakte dosis van ’n kiem die liggaam te laat binnedring met die hulp van ’n entstof, bou die liggaam immuniteit teen daardie kiem op sonder om werklik bedreig te word.

Dis omdat die hoeveelheid te klein of die ingespuite kiem te swak (soms is hy selfs dood) is om siekte te veroorsaak.

Staat of privaat?

In Suid-Afrika het die staat ’n Uitgebreide Immunisasieprogram (EPI) waarvolgens alle kinders teen sekere siektes ingeënt moet word. Dié inentings is beskikbaar by alle staatsklinieke en die grootste voordeel daarvan is dat dit gratis is.

’n Nadeel is dat sekere inentings, soos dié teen waterpokkies, die MMR-inenting (teen Duitse masels, pampoentjies en masels) en die hepatitis A-inspuiting nie daar toegedien word nie. Afsonderlike masels-inentings is wel beskikbaar. By sommige staatsklinieke is daar lang wagtye, maar kom gerus meer oor die kliniek in jou omgewing te wete – baie van dié klinieke lewer ’n uitstekende diens.

By ’n privaat kliniek (soos by ’n apteek of dokter) sal jou baba teen meer siektes ingeënt kan word omdat nie alle siektes waarteen inentings bestaan by die staatsprogram ingesluit is nie.

Vir immunisasie by ’n privaat kliniek, dokter of hospitaal moet jy betaal. Soms is die inentings wat deel vorm van die staat se program gratis en betaal jy net ’n konsultasietarief en die tariewe vir inentings wat nie deel van die staatskedule vorm nie, maar by ander klinieke betaal jy vir alle inentings.

Hoeveel jy moet opdok kan wissel van bekostigbaar tot baie duur, soms aansienlik meer as R1000 per inentingsessie. Doen maar vooraf jou huiswerk hieroor.

Sommige mediese fondse betaal vir privaat konsultasies en inentings. Inentings deur verskillende vervaardigers teen dieselfde siekte verskil en verskillende klinieke kan dus jou baba op verskillende tye teen sekere siektes inent afhangende van die produkte wat hulle gebruik.

Maak dit so makliker vir baba

  • Bly self kalm en rustig – as jy ontsteld word, sal dit jou baba ook ontstel.
  • Vra die kliniek of jy vooraf vir jou baba ’n pynstiller kan gee.
  • Stel vas waar jou baba ingespuit gaan word en trek vir haar kleertjies aan wat nie sal skaaf nie.
  • Borsvoed jou baba voor en ná haar inspuiting – dit help teen die pyn.
  • Hou haar ferm vas terwyl die inspuiting gegee word en trek haar aandag af met ’n speeldingetjie.\
  • Hou ’n trosie byderhand soos ’n fopspeen of haar trooskombersie.

Moontlike newe-effekte

  • In sommige gevalle kan jou baba agterna effens koorsig wees en verkoue-simptome hê. Bel jou dokter as jy bekommerd is.
  • Die plekkie waar ingespuit is, kan agterna rooi en gevoelig wees.

Waarteen ent jy in?

Sedert die koms van immunisasie het kindersterftes so dramaties afgeneem dat ’n mens soms vergeet hoe ernstig hierdie siektes sou wees as dit nie vir immunisasie was nie. Hier is ’n vinnige kykie na die siektes waarteen ons immuniseer.

Duitse masels (rubella) is ’n virusinfeksie waarvan kinders selde ernstig siek word. Dit hou groot gevaar in vir swanger vroue en kan die fetus misvorm.

Pampoentjies is ’n virussiekte wat veral by kinders tussen vyf en 10 voorkom. Dit laat die nekkliere opswel en het simptome soos koors en hoofpyn. In baie ernstige gevalle kan dit lei tot doofheid, breinvliesontsteking en selfs onvrugbaarheid by seuns.

Die rotavirus is hoogs aansteeklik, die algemeenste oorsaak van hewige diarree by babas en klein kindertjies en veroorsaak elke jaar die dood van meer as 600 000 kinders wêreldwyd.

Hepatitis A of geelsug is ’n lewerinfeksie wat deur besmette stoelgang, water of kos oorgedra word.

Hepatitis B is ’n gevaarlike lewerinfeksie wat lewerskade, lewerkanker en selfs die dood kan veroorsaak.

Haemophilus Influenzae Tipe B (Hib) is ’n ernstige siekte wat hoofsaaklik kinders onder vyf aantas, en dit lei veral maklik tot sterfte by babas jonger as ’n jaar. Komplikasies ná Hib-siekte sluit in blindheid, doofheid, breinskade of verlamming.

Kinkhoes of pertussis is ’n aansteeklike bakteriese infeksie wat veral by kinders jonger as sewe voorkom. Dis veral gevaarlik vir kinders jonger as twee.

Dit word gekenmerk deur ’n kwaai hoes wat mettertyd ernstiger raak. Tydens ’n hoesaanval kan die kind blou in die gesig word, naar word en stuiptrekkings kry. ’n Tydelike suurstoftekort kan ook die brein aantas. Herstel van kinkhoes duur baie lank.

Masels veroorsaak ’n hoë koors en ’n uitslag. Een uit 10 kinders met masels doen oorinfeksie of longontsteking op.

Ander komplikasies is breinvliesontsteking, wat soms kan lei tot doofheid, oogprobleme, breinskade of die dood.

Pneumokokkale siekte Dit beskryf ’n groep siektes wat deur die Streptococcus pneumoniae-bakterie veroorsaak word en breinvliesontsteking, longontsteking, bloedinfeksie, sinusontsteking en middeloorontsteking insluit. Meer as miljoen kinders jonger as vyf sterf elke jaar hieraan.

Polio tas die senuwees aan en kan lei tot permanente verlamming of swakheid van die bene of arms. In ernstige gevalle kan dit die asemhalingspiere aantas.

Tetanus of klem-in-die-kaak kan lei tot spierspasmas, asemhalingsprobleme en hartprobleme. Klem-in-die-kaak is dikwels dodelik.

Tuberkulose is ’n longsiekte wat sonder behandeling dodelik kan wees.

Waterpokkies (varicella) is gewoonlik nie te ernstig nie, maar komplikasies sluit in longontsteking, sekondêre bakteriese infeksie en breinvliesontsteking.

Witseerkeel of difterie is ’n ernstige en hoogs aansteeklike keelontsteking – een uit 10 mense wat dit kry, sterf. Dit kan asemhaling bemoeilik en hartversaking en senuweeskade veroorsaak.

Klik hier om die privaat skedule af te laai.

Klik hier om die staatskedule af te laai.