Op die ouderdom van 16 is ek ná ’n jarelange stryd teen depressie met bipolêre gemoedsversteuring gediagnoseer. En toe ek omtrent nege jaar gelede ses weke swanger was met ons oudste, Storm, het ek my gemoedstabiliseerder ophou drink. Ek was bang dat dit hom skade sou doen.

’n Week voor Storm se verwagte datum is ek geïnduseer weens hoë bloeddruk. Dit was ’n lang en moeilike bevalling, maar ek was dankbaar dat ek natuurlik die lewe kon skenk. Storm het 3,82 kg geweeg. Ek en sy pappa, Francois, was in ekstase.

Die goedvoelhormone het my heeltemal hoog laat voel. Ek was ’n bondel energie en het min slaap nodig gehad. Ná twee weke het die manie uitgewoed en ek het in ’n diep, donker put geval. Dié patroon van manie en depressie is tipies van bipolêre steurnis. Obsessiewe gedagtes het by my gespook. Daar was geen ander genade nie: Toe Storm vier weke oud was, moes ek ophou borsvoed en my medikasie weer begin gebruik.

My hart was stukkend. Voedingstye was ’n oase in daardie weke van hel, die enigste tyd wanneer ek kalm en tevrede gevoel en my baba werklik geniet het.

'n Tweede kans?

Aan die begin van 2014 was ons gereed vir nog ’n baba. Hierdie keer het ek alles haarfyn beplan. Ons het die dokter gevra hoe veilig my gemoedstabiliseerder is en saam besluit om dit tydelik te staak. Ek het verbasend goed gevoel en net 10 weke later was ons swanger.

Die swangerskapshormone het my reeds onstabiele emosies egter laat wipplank ry. Toe ek ses weke swanger was,
het ons besef dat ek nie langer sonder medikasie kon klaarkom nie. Teen hierdie tyd was die risiko van geboorte-afwykings minimaal aangesien baba se organe reeds gevorm was.

Boonop word die betrokke middel algemeen deur swanger vroue gebruik. Dis nie net ’n gemoedstabiliseerder nie, dis ook ’n antikonvulsant wat swanger epilepsielyers ook drink. Nie ons of die dokter was bekommerd oor geboorte-afwykings nie – met hoeveel mense gebeur so iets nou werklik?

Daardie klein binnestemmetjie...

Twee of drie weke voor ons 4D-sonar het ek ’n vreemde voorgevoel begin kry. Dis moeilik om te verduidelik: Dit was asof ’n stem die woorde “gesplete bolip” herhaaldelik in my oor gefluister het. Ek het my probeer oortuig dis normale paranoia, maar tog het ek onrustig gebly.

Francois en my ma het my na die sonar vergesel. Skaars ’n paar minute nadat die radioloog begin kyk het, is my vrese bevestig. “Ek is nie gelukkig met baba se bolip nie,” het sy gesê. Dit was ’n skok, maar danksy die voorgevoel was ek effens voorbereid.

Die res van die sonar was maar ’n bekommerde besigheid, glad nie die gelukkige ervaring wat dit veronderstel
is om te wees nie. Phoenix se neusie was normaal – ’n brokkie goeie nuus – maar die dokter kon nie sy verhemelte sien nie.

Ons was dus nie seker hoe ernstig die probleem was nie. Ek het dwarsdeur my swangerskap gebid en in my hart vertrou dat net sy bolip betrokke was.

Vasberade om te borsvoed

Toe ek my vroedvrou van die diagnose vertel, het sy begin gesels oor ’n spesiale voedingsplan. “Net vir ingeval kan ons ’n plan B uitwerk,” het ek gesê, “maar ek gáán borsvoed.” Dit was die een ding wat ek vir Phoenix kon doen. Hoekom sou ons dit nie regkry nie? Borsvoeding is die beste en ons is albei geskep daarvoor.

Ek het navorsing gedoen op die internet. Soms het die foto’s my ontstel, maar ek het nooit toegelaat dat dit my
moed breek nie. As ek eers ’n besluit geneem het, bring niks my van stryk nie – dis wie ek is.

Die groot dag

My water het drieuur die oggend die dag voor Phoenix se verwagte datum gebreek. Vier-en-twintig uur later het die kontraksies begin en daarna het dinge vinnig verloop. Toe ons om 07:20 by die Vincent Pallotti-hospitaal aankom, was my serviks reeds 9 cm ontsluit.

Ons is reguit kraamkamer toe. Daar was nie plek vir ’n muis nie: behalwe vir Francois en die vroedvroue het my ma, tannie, beste vriendin en ons ouer seuntjie my ook kom ondersteun.

Ons wou Storm graag sover moontlik by die geboorte betrek. Met my swangerskap het ek vir hom verduidelik dat sy boetie aanvanklik anders as ander babas sou lyk omdat die bene in sy gesiggie nie aan mekaar gegroei het nie.

Ek het ook vir hom ’n foto gewys van ’n cleftie om hom voor te berei. My tannie het saamgekom hospitaal toe om na Storm om te sien. Net voor die geboorte het sy hom uitgeneem – ingeval sy ma dalk ’n gil of twee gee.

Om 08:45 het Phoenix sy eerste asemteug gegee. Dit was 18 Januarie, sy verwagte datum. Storm het dadelik teruggekom om sy boetie – wat toe nie heeltemal so klein was nie – te ontmoet.

Phoenix het ’n gesonde 4,2 kg geweeg. Ouboet was in sy noppies – sy teenwoordigheid het die geboorte ekstra spesiaal gemaak.

En Phoenix se verhemelte?

Ons het ons asem opgehou terwyl die vroedvrou haar vinger in ons pasgebore baba se mondjie sit. Tot almal se verligting was sy verhemelte intakt. Ek het my pragtige seuntjie aan die bors gesit en hy het onmiddellik soos ’n pro gesuig.

Dikwels moet ’n cleftie se mamma die spleet in sy bolip met haar vingerpunt toehou tydens voedings, maar dit was nie nodig nie. Deur ’n wonderwerk is die gleufie in Phoenix se tandvleis effens links van die een in sy bolip. Hy kan dus die spleet perfek seël en só die vakuum skep wat nodig is vir borsvoeding.

Die hospitaalpersoneel was geweldig ondersteunend. Aanvanklik was almal stomverbaas – omdat ek graag wou borsvoed, maar veral omdat ons dit reggekry het. Ek glo nie ek het besef hoe ongewoon dit is tot ek die pediater en susters se gesigte gesien het nie. Vir my was dit bloot die natuurlike manier om my baba kos te gee.

Groeipyne

Borsvoeding was nie sonder uitdagings nie. Omtrent ’n dag ná die geboorte het my linkertepel gebars. Wanneer Phoenix gedrink het, is dit tussen sy bolip en tandvleis ingesuig. Ek het vasgebyt, al was dit ontsettend seer.

’n Paar dae lank het ek salf en ’n tepelskerm aan die linkerkant gebruik. Ek het meestal regs gevoed – iets waaroor ek nou spyt is, aangesien daardie bors steeds groter is.

Ek en Phoenix het hard aan die vashegting gewerk. Elke keer wanneer hy nie reg vasgesuig het nie, het ek hom afgehaal en weer probeer. Geleidelik het ons geleer. Ek kan nog nie gemaklik in die openbaar voed nie, ons is nog nie diskreet genoeg daarvoor nie, maar dis ook oukei.

Ek is mal oor borsvoeding; ’n mens kan nie nader aan jou baba kom nie. Dis amper soos meditasie: Ek geniet dit om so rustig na Phoenix te sit en kyk. Die band tussen ons is ongelooflik. Hy het reeds soveel gegroei; my hart wil bars van trots as ek dink dis alles danksy my melk.

Ons was almal bang dat ek weer so terneergedruk sou raak soos ná Storm se geboorte, veral Francois. Dit was ’n nagmerrietyd wat ons nooit weer wil oorhê nie. Gelukkig werk die gemoedstabiliseerder uitstekend. Francois is dierbaar en behulpsaam en dit help ook dat Storm nie meer so klein is nie.

Slaap is onontbeerlik as jy bipolêr is. Ons is werklik geseënd met Phoenix, hy was van die begin af ’n goeie slapertjie. Tans word hy net twee keer ’n nag wakker en slaap doodtevrede verder sodra sy magie vol is. Soggens knip ons saam ’n uiltjie wanneer ouboet by die skool is.

En die toekoms?

Ek beplan om minstens ses maande te borsvoed, wat aansienlik langer is as my aanvanklike verwagting. Voor Phoenix gebore is wou ek net borsvoed, maak nie saak hoe kort of lank nie. Daarna het ek my doelwit na ses weke verskuif.

Ons is by daardie mylpaal verby en hierna hang alles af van Phoenix se behandeling. Ons is dankbaar dat sy verhemelte piekfyn is, aangesien dit minder en kleiner operasies beteken.

Ons het ’n afspraak by ’n plastiese chirurg en ek sal hom vra hoe gou ná die prosedure Phoenix kan borsvoed. As ons moet wag, gaan ek uitmelk sodat hy steeds moedersmelk kan kry.”

Probeer is die beste geweer

Toe Phoenix vier weke oud was, het ek op ’n Facebook-ondersteuningsgroep vertel dat ek my cleftie borsvoed. “Ek wens ek het geweet dis moontlik,” het een mamma geskryf. “Niemand het my aangemoedig om eens te probeer nie.” My hart het uitgegaan na haar.

Miskien sou borsvoeding nie vir haar en haar baba gewerk het nie. Miskien sou sy haar baba moes bottelvoed, soos ek vir Storm. Maar minstens sou sy kon berus in die wete dat hulle hul bes gedoen het.

Dis my boodskap aan ander mammas: Moenie net aanvaar jy kan nie borsvoed nie, al is dit ’n dokter of suster se mening. Luister na jou hart en kry die nodige inligting. Wie weet, dalk is jy en jou baba die uitsondering op die reël.

Het jy enige stories wat jy met ons wil deel? Stuur dit aan web@babaenkleuter.co.za