Aktiwiteite vir kleintjies

As jou kind van die fliek Smurfs and the Lost Village gehou het, sal hierdie aktiwiteitsboeke ’n wenner in jou huis wees. Die Smurfies se Aktiwiteitsboek 1 en 2 gaan vir ure se pret sorg. Jou kleuter kan tonele skep met plakkers, kyk wie pas in en wie nie, soek-en-kry-prente aandurf en deur doolhowe werk. Dit gee fyn motoriese en konsentrasievaardighede omtrent goeie oefening. Human & Rousseau, R90 elk.
Die Smurfies se Aktiwiteitsboek 1 en 2

Lig op en loer

Lig-en-loer-Bybelstories is ’n oulike dikkartonboek met 32 lig-en-loer-deurtjies wat jou kind vreeslik gaan geniet. Die boek bevat talle Bybelstories met ’n Skrifverwysing wat jy kan naslaan. Daar is ook lieflike illustrasies in volle kleur. Dis ideaal vir voorlees en beginnerlesertjies sal dit maklik vind om te lees. Christelike Uitgewersmaatskappy, R150.
Lig-en-loer-Bybelstories

Avonture in droomland

Mattie se magiese diere-droomwêreld #3: Die ongelooflike talentkompetisie deur Lynn Bedford Hall is ’n verbeeldingryke boek waaroor vyf- tot agtjariges gek sal wees. Net voor sy Droomland toe gaan, word Mattie na die diere se talentkompetisie genooi. Alles verloop nie soos dit moet nie ... en Mattie gryp in! Die groot teks en pragtige illustrasies deur Jane Heinrichs maak dit beslis ’n lekkerlees-boek. Struik Kinders, R80.
Mattie se magiese dieredroomwêreld #3: Die ongelooflike talentkompetisie

Unieke Bybelstories

Diere van die Bybel, Kinders van die Bybel en Engele van die Bybel is drie unieke Bybelboeke. Elkeen bevat afsonderlike stories oor net die diere, engele of kinders in die Bybel. Daar is tussen 19 en 30 stories in elke boek wat deur Wendy Maartens geskryf en deur Catherine Groenewald geïllustreer is. Jou kind sal hierdie boeke baie geniet en baie leer. Christelike Uitgewersmaatskappy, R110 elk. 
Diere van die Bybel, Kinders van die Bybel en Engele van die Bybel