Gerber was die eerste aand ná sy geboorte stroopsoet. Maar twee dae later het hy aanhoudend begin skree en gedruk asof hy hardlywig is. Hy het sommer rooi in die gesig geword van die drukkerye en ongemak. Dit het my bekommerd gemaak, want sy magie het sonder enige probleme gewerk – sy poef was sag en sy maag het gereeld gewerk.

Hy was aanhoudend aan die bors, want dit was die enigste tyd wat hy rustig was en nie gehuil het nie. Elke keer nadat hy gedrink het, het hy sy ruggie hol getrek. Hy het nie melk opgebring nie en daarom het ek vermoed hy het stille re¬uks.

Ons is drie weke ná Gerber se geboorte pediater toe. Ons uitstekende pediater het dadelik vermoed dat dit stille re¬uks is, maar hy het ook vertel dat daar in sommige gevalle iets by die blaas rond fout kan wees wat re¬uks kan veroorsaak. Hy het Gerber behandel vir re¬uks en het ’n urientoets laat doen wat nie in daardie stadium op probleme gedui het nie.

Die week daarna is ons talle kere in die nag ongevalle toe weens Gerber se hoë koors. Daar het hulle hom vir oorontsteking behandel. ’n Paar dae later het hy weer koors kry, en terug by ongevalle het die dokter voorgestel ons laat x-strale neem om vas te stel wat fout is.

Die xstrale het gewys dat Gerber se lewer vergroot is en die dokter het voorgestel ons laat doen ’n sonar van die lewer, niere en milt. Dié sonar het gewys Gerber het ’n dubbele kelkstelsel. Pleks van twee ureters (wat urine van die niere na die blaas voer) het hy vier.

Op ses weke het ons ’n uroloog besoek wat Gerber se buiksonarfoto’s ondersoek het. Hy het ons vertel dat baie mense met ekstra ureters leef en dat hy Gerber wil dophou om te kyk of hy infeksie kry. ’n Week later het Gerber ’n hewige koors gekry en ons is terug ongevalle toe. Hy het aanhoudend geskree en gedruk.

Sy urien is getoets en die uitslag het gewys hy het ’n kwaai infeksie. Hoewel dit slegte nuus was, was ek verlig. Ek het geweet dit beteken dat ons op die spoor was van wat ook al Gerber se toestand veroorsaak. Hy het antibiotika gekry en die uroloog het ’n sistogram laat doen.

Dit beteken ’n kleurstof word deur ’n kateter in die blaas gespuit om dit vol te maak sodat die blaas saamtrek om te urineer. Die middel wat deur die blaas en pypies vloei, word dan op x-strale gevolg om te sien watter pad dit volg. In Gerber se liggaampie het die kleurstof pleks daarvan om na die uretra (wat urine van die blaas uit die liggaam voer) te gaan om uitgeskei te word, tot teen sy niere teruggestoot.

Omdat die niere nie weer die urien kan opneem nie, swel die ureters en versamel daar vog om die niere.

Gerber sou dit volgens die uroloog nie ontgroei nie. Hy moes op een jaar oud ’n operasie kry om sy ureters terug in die blaas te plant. Intussen het die uroloog ’n vesikostomie gedoen wat behels dat daar ’n gaatjie net onder die naeltjie in Gerber se maag en blaas gemaak word.

Die blaas word dan na buite getrek en aan die maag vasgewerk. Indien die blaas vol word en die urien opstoot, loop dit by die gaatjie uit. Ek het doeke se kernvoerings afgesny, dit oor die gaatjie geplaas om die urien op te vang en dan ’n nuwe doek aangesit wat die gesnyde doek vasgehou het.

Gerber het skielik bitter siek geword. Die pediater het bloedtoetse gedoen wat bevestig het dat daar fout was met sy nierfunksie. Ons is na ’n kindernierspesialis verwys.

Sy het opgelet dat Gerber baie seer by sy niere en nierpype het en het nierontsteking gediagnoseer. Sy was ook bekommerd dat Gerber se niere dalk nie ewe groot is en dus nie op hul beste werk nie.

Sy het ’n renogram gedoen waar ’n radioaktiewe stof in die are gespuit word om te kyk hoe vinnig die niere die stof opneem en ook teen watter tempo die nier dit uitskei.

Die uitslag was nie goed nie: Gerber se regternier dra 75 persent van sy liggaam se totale nierfunksie by, en die linkernier net 25 persent. Dit behoort 50 persent elk te wees.

Teen daardie tyd was Gerber reeds sewe maande oud, en vir die laaste vyf maande daarvan moes hy twee keer per dag antibiotika drink.

Toe hy amper agt maande oud was, het hy hewige diarree gekry wat aan al die antibiotika toegeskryf is. Die nierspesialis het besluit die operasie moet liewer dadelik gedoen word sodat hy die gebruik van antibiotika kon staak.

Groot operasie

Die operasie is vroegoggend uitgevoer en het twee en ’n half uur geduur. Al vier die ureters is in die blaas herimplanteer en nuwe kleppies is gevorm sodat urien van die niere na die blaas kon deurvloei en nie weer sou terugstoot nie.

Dit sou 6 weke duur voor die verskuifde ureters sou herstel; daarom het die dokter ’n rekspalkie ingeplant wat intussen die werk van die ureters sou doen.

Ná die operasie het Gerber se bloeddruk buite beheer geraak. Hy is in die kinder-intensiewesorgeenheid opgeneem en het mor¬en ontvang. Sy maag het ’n dag later begin opswel en hy het gebraak. Hy het aarvoeding gekry en ook ’n buis deur sy neus wat sy maag leegsuig sodat hy nie braak nie.

’n Week ná die operasie is hy ontslaan. Die tweede oggend by die huis het hy weer onophoudelik begin braak – die braaksel was grasgroen.

Hy is weer eens in die intensiewesorgeenheid opgeneem. Hy het omtrent drie keer x-strale laat neem waar alles op ’n obstruksie gedui het, maar niemand kon presies sien waar dit is nie.

Gerber is op dieselfde plek as voorheen oopgesny en die spesialiste het ’n breuk in sy buik oopgespoor waarin ’n lus van sy dunderm vasgesit het. Dit is onmiddellik herstel.

Ná die tweede operasie was hy sewe dae in die intensiewesorgeenheid. Sy bloeddruk wou net nie daal nie. Ons pediater en nierspesialis het vasgestel dat die sondaar die kleiner nier was wat renien afskei, ’n ensiem wat die bloeddruk kan verhoog.

Gerber het medisyne gekry wat sy bloeddruk laat stabiliseer het. Drie weke later het hy weer ’n verskriklike koors gekry en het ons by die hospitaal uitgevind dat hy blaasinfeksie het. Hy was sewe dae lank in die hospitaal en het antibiotika deur ’n drup gekry.

Ons was skaars by die huis, toe kry hy weer ’n infeksie. Die skuldige bakterie, Pseudomonas aeruginosa kleef aan die wand van sy blaas vas en veroorsaak die infeksie weer en weer. Dié slag het hy darem antibiotika gekry wat ons by die huis kon toedien.

Laaste toetse

Gerber is nou een jaar oud en het pas weer ’n sistogram en renogram ondergaan om te kyk of die klein nier nog werk en of dit verwyder moet word. Ná ’n hele string toetse, naalde en narkose kon hulle bevestig dat Gerber geen re¬uks in enige van sy vier ureters oor het nie.

Sy slegte linkerniertjie se funksie was 22 persent, wat beter is as die 20 persent van Junie. Ons is baie bly en dankbaar daaroor. Ons kon nie vir ’n beter uitkoms gevra het nie. Ons kan uiteindelik die hoofstuk afsluit en ons gesonde seuntjie geniet!

As ons terugkyk

Dit was vreeslik sleg om Gerber se pyn te aanskou en magteloos te wees. Die afgelope jaar was uitputtend. Jy as ma is bang jy mis iets belangriks wat jou kind benadeel. Dit voel of dit jou verantwoordelikheid is om alles raak te sien. ’n Ma ken haar kind. Jy is die spreekbuis vir jou kind en dit plaas ontsettende druk op jou. Dis veral moeilik wanneer jy as ouer nog ’n ander kind by die huis het, en een verg al die aandag.

Ons het geen idee wat ons sonder ons wonderlike ondersteuningstelsel sou doen nie. Ons ouers, broers en susters was ons steunpilare. As ons die dag gevoel het dat ons nie meer kans sien nie, het al hierdie mense se ondersteuning en gebede ons gedra.