Dalk ken jy ook so iemand: Haar rug is lank gestrek, sy dra haar kroontjie trots op die hoogste deel van haar kop, haar nek is lank en slank, haarskouers is fier na agter, die magie is plat en die sitvlak ingetrek. ’n Mooi, regop postuur sê iets. Dit weerspieël ’n innerlike selfvertroue, selftrots, ’n bereidheid om die lewe vierkant in die oë te kyk. Maar postuur gaan nie net oor voorkoms nie. Dis ook belangrik vir jou kind se gesonde ontwikkeling ...

Vroeg begin is half gewin

’n Goeie postuur behels dat jy regop kan loop en sit, ’n goeie balans handhaaf en fyn aktiwiteite weg van jou af kan uitvoer. Dit beteken dat liggaamsgewrigte in ’n byna neutrale posisie gehou word sodat jou spie­re, gewrigte en ligamente eweredig bydra tot die handhawing van jou liggaamsposi­sie.

Swak postuurontwikkeling is oral om ons sigbaar, sê prof. Kitty Uys, hoof van die Universiteit van Pretoria se departement arbeidsterapie.

“Ons sien dikwels hoe jong kinders met geronde skouers sit, soos ’n sak aartappels op die bank lê en TV kyk, en dan met elmboë op die tafel rus sodat hul ‘swaar’ koppe ondersteun kan word.

“Ook in die klaskamer sien onderwyseresse dat kinders potlode op ’n snaakse manier vashou, hul skouers tot onder die ore optrek, stadig werk, gou moeg word en nie goed vaar in sport nie.”

Dr. Sam Westbury, ’n chiropraktisyn van Johannesburg, sê ’n goeie postuur is baie belangrik vir klein kinders omdat dit juis in die eerste sewe jaar – maar veral die eerste vier jaar – is dat die meeste “opleiding” daarin plaasvind.

“Spanning op die lyf of ruggraat as gevolg van swak postuur kan slegte postuurgewoontes veroorsaak, wat ’n invloed kan hê op hoe jou kind groei en op sy langtermyn-postuurontwikkeling.

“Studies het getoon dat laerugpyn dikwels al in die kinderjare begin. Altesaam 10 persent van nege- tot tienjariges ly daaraan – en ’n swak postuur is een van die grootste oorsake. As ’n mens jou liggaam in ’n verkeerde posisie hou, kan die spiere op party plekke verswak,” verduidelik Sam.

Studies het ook gewys dat die regte “oefening” in goeie postuur vanaf ’n jong ouderdom die voorkoms van laerugpyn by kinders verminder.

Marlette Burger en Leoné Smith, twee Kaapstadse fisioterapeute, sê dat as ’n kind tussen twee en vier jaar oud goeie postuurgewoontes leer, die regte spiergroepe in sy lyfie ontwikkel en versterk. Dis weer belangrik vir ’n goeie postuur in later jare.

“As ’n goeie postuur nie van jongs afgehandhaaf word nie, kan dit lei tot pyn­like spier- en gewrigstoestande in die tiener- en volwasse jare.”

Kweek so ’n goeiepostuur

Jou baba

Goeie postuurontwikkeling begin op dag een, net ná geboorte. Jou keuses oor hoe jy jou baba hanteer het ’n regstreekse uitwerking op jou kleinding se postuur­ontwikkeling. Ons kenners deel dié raad:

  • Probeer waar moontlik vermy dat jou baba vir lang tydperke in een posisie bly. Moet jou baba byvoorbeeld nie langer as 30 minute in ’n karstoeltjie laat sit nie. Dié posisie vereis dat jou kind sy ruggie rond maak en plaas stremming op sy jong senuweestelsel. Haal dus jou kind elke 30 minute uit die stoeltjie en plaas hom op sy magie om sy rugspiere oefening te gee.
  • Stimuleer die ontwikkeling van goeie kop- en rompbeheer deur jou baba van twee tot vier maande oud af elke dag sowat 60 minute of langer op sy magie te laat lê. Moedig hom met speelgoed aan om sy koppie op te lig en op sy elmboë te druk – so maak hy sy skouer- en rugspiere sterker. Sterk skouer-, maag- en rugspiere is noodsaaklik vir die ontwikkeling van mylpale en ’n goeie postuur.
  • Vermy Jolly Jumpers en loopringe. Dié toestelle ondermyn postuurbeheer. Jong kinders se heupgewrigte het nog nie behoorlik ontwikkel nie en die aanhoudende dra van gewig en springery kan die heupgewrigte skade berokken.

Kinders leer ook nie om teen swaartekrag in te ontwikkel nie omdat hulle kunsmatig in ’n regop posisie gehou word. Daarom kry die spiergroepe om groot gewrigte soos die skouer en heupe nie genoeg oefening om stabiliteit te verseker nie.

Kleuters en ouer

  • Moenie toelaat dat kleuters en jong kinders kruisbeen of in die M-sitposisie (op hul knieë met hulle sitvlak tussen die voetjies) op die vloer voor die televisie sit nie. Dit maak die rug te rond en plaas stremming op die ligamente van die knieë en enkels. Jou kind moet verkies­lik op ’n stoel met goeie rugonder­steu­ning sit.
  • Kies tafels en stoele volgens jou kind se grootte. Jou kind moet sit met ’n hoek van 90 grade by die heupe, knieë en enkels. Die stoel moet laag genoeg wees dat sy voete goed op die grond ondersteun word. ’n Boek of stewige kussing kan vir ondersteuning onder die voete geplaas word as die stoel te hoog is. Die tafeloppervlak moet gelyk met sy elmboog wees. Dis veral belangrik as jou kind skryf of voor ’n rekenaar sit. Hy moet verkieslik elke 20 minute uit hierdie sitposisie opstaan en ’n paar minute rondbeweeg voor hy weer gaan sit.
  • Moedig jou kind aan om fisiek meer aktief te wees deur aan groepspeletjies en aktiwiteite soos swem, fietsry en balsportsoorte deel te neem. Kinders is so geneig om deesdae agter die rekenaar in te skuif en virlang tye rekenaarspele­tjies te speel ofTV te kyk. Hulle moet eerder betrokke wees by aktiewe dinge soos swem,judo, stoei, tuinwerk en ballet, wat alles ’n positiewe invloed op postuurontwikkeling het. Kleiner kinders kan by ’n speelpark op die klouterapparate, rondomtalie, swaaie en glyplanke speel. Hoe meer ’n kind aangemoedig word om aktief te wees, hoe beter word die slegte uitwerking van statiese posisies voor die televisieen rekenaar gekeer.
  • Wees ’n rolmodel deur self ’n goeie postuur te handhaaf en fisiek aktief te bly.
Die gevaartekens

Dis belangrik dat probleme so vroeg moontlik hanteer word om verdere ontwikkelingsagterstande te voorkom.

Ons span kenners sê jy kan op die uitkyk vir die volgende waarskuwingstekens wees.

Rooi ligte by baba

  • Kyk hoe jou pasgeborene sy koppie hou. Sak dit altyd na die een kant toe of verkies hy dit om eerder aan die een kant te voed as die ander? Dit kan ’n teken van proble­me met die gewrigte in die nek wees, wat maklik tydens geboorte ontstaan.
  • Van sowat ses maande af is dit ook goed om op te let hoe jou baba sit en of hy altyd meer na die een kant leun as na die ander.
  • Hou ’n ogie oor jou peuter se stap­patroon wanneer hy begin loop. Plaas hy dalk minder druk op een been as die ander? Hink hy dalk?

Prof. Kitty Uys sê postuurbeheer is ’n funksie wat van baie vroeg af ontwikkel. As iets daar fout is, behoort jy dit taamlik gou op te let.

“Dalk hou jou baba nie daarvan om op sy maag of rug op die grond neergesit te word nie omdat hy nie die swaartekrag kan baasraak nie. Dié posture vereis goeie spierkrag en normale spiertonus. ’n Baba wat daarmee sukkel, sal ookstadiger leer hoe om te rol en van een posisie na die volgende te beweeg. Hy hou daarvan om in ’n regop posisievasgehou te word, want dan het swaartekrag die minste invloed op sy lyfie.”

Rooi ligte by kindersouer as twee

“Kyk of jou kind se skouers vooroor hang of baie ongebalan­seerd voorkom. Dieselfde geld wanneer kinders speel: Kyk hulle heeltyd af terwyl hul skouers vorentoe hang? Leun hulle altyd meer na een kant toe? Dit kan dui op moontlike probleme met die neurospierskeletstelsel en behoort so gou moontlik ondersoek te word,” sê die chiropraktisyn dr. Sam Westbury.

Kitty sê die volgende dui op swak postuurbeheer:

  • Skouers wat gefikseerd is: Dit beteken jou kind het nie genoeg skouerstabiliteit om bewegings met sy arms weg van sy lyf af uit te voer nie. Die skouers word dus opgetrek en aktiwiteite word naby die liggaam uitgevoer. Die skouers en selfs die ruggraat kom gerond voor en daar kan later permanente vergroeiing plaasvind.
  • Kinders met lae spiertonus werk stadig en is geneig om hul kop te ondersteun wanneer hulle by ’n tafel werk. Hulle ry dikwels op hul stoel.
  • Omdat hulle swak skouerbeheer het, word handfunksie beïnvloed. Hul potloodgreep is onderontwikkel en hul hand-oog-koördinasie is swak.
  • Jong kinders wat in ’n M-posisie sit: Dit gebeur gewoonlik omdat hulle ’n wye basis van ondersteuning soek vanweë hul swak balans.
  • Geassosieerde reaksies – soos tong vasbyt – dui daarop dat kinders bui­ten­gewoon hard moet konsentreer om aktiwiteite te verrig.
  • Laat jou skoolkind eerder ’n rugsak dra as ’n tas wat in een hand vasgehou word. Die swaar tasse veroorsaak ’n abnormale postuur omdat die ruggraat skeef na die een kant trek. Met ’n rugsak is die gewig simmetries versprei.