Een maand toe's hy weg

akkreditasie
Chanelle en Adin (17 maande). Adin was net 10 maande toe sy ouboet Justin oorlede is. Hy het 'n maand lank by sy ouma en oupa gebly tydens Justin se hospitalisasie.
Chanelle en Adin (17 maande). Adin was net 10 maande toe sy ouboet Justin oorlede is. Hy het 'n maand lank by sy ouma en oupa gebly tydens Justin se hospitalisasie.
Lizbe Botha
Aggresiewe bloedkanker het die lewe geëis van Chanelle (31) en Neels (32) Bodenstein van Rustenburg se seuntjie net voor hy drie sou word. Dit was net 'n maand nadat hy gediagnoseer is. Chanelle deel hulle verhaal.

My oudste seuntjie, Justin, het op twee jaar en 10 maande verkoue begin kry – of so het ons gedink. Ons dokter het hom vir mangelontsteking behandel en ons is met antibiotika huis toe.

Justin het egter net weer en weer siek geword en ons is elke keer met sterker medikasie as die vorige keer by die dokter weg. Met elke siekwordslag het hy ’n hewige koors gekry wat ons net-net met medikasie kon beheer.

Ná die vierde doktersbesoek het die dokter hom in ’n hospitaal in Rustenburg laat opneem waar bloedtoetse uitgevoer en x-strale geneem is van sy longe om vas te stel wat die probleem is.

Die toetse het gewys dat Justin se witbloedtelling uiters laag is en ook dat sy beenmurg onder druk is. Die volgende stap was om ’n beenmurgtoets (lumbale punksie) te doen om te kyk wat aangaan.

Neels het snags by Justin in die hospitaal geslaap, terwyl ek by die huis by ons jongste seuntjie, Adin (toe nege maande, hy is nou 17 maande) gebly het.

Die K-woord

Ek het op my verjaardag ’n oproep van Neels gekry om te sê dat Justin bloedkanker het. Ek kan nie beskryf hoe dit voel om so ’n oproep te kry nie. Ons was albei uit die veld geslaan. Dit het nooit voorheen eens in my gedagtes opgekom dat kinders kanker kan kry nie. Dit is net nie ’n siekte wat by kinders hoort nie.

Justin het die volgende dag sy eerste bloedoortapping gekry. Bloedkanker, oftewel leukemie, onderdruk die beenmurg sodat daar nie nuwe rooibloedselle, plaatjies (wat die bloed laat stol) of witbloedselle (die liggaam se weerstand) vervaardig word nie.

Ons het so gou moontlik ’n spesialis op die gebied in Pretoria gaan besoek. Sy wou Justin wéér vir ’n beenmurgtoets stuur om heeltemal seker te maak dat dit kanker is.

Ek en Neels het onwillekeurig hoop gekry en kliphard gebid dat dit enigiets anders as kanker moes wees. Die dokter het ons twee dae later gebel met slegte nuus. Dit wás kanker. En die aggressiewe soort: akute miëloïede leukemie. Die oorlewingsyfer hiervan was volgens haar maar tussen 60 tot 65 persent.

Justin is in Pretoria in ’n hospitaal opgeneem om die eerste fase chemoterapie van agt dae te begin. Ek is sak en pak saam Pretoria toe. Justin het kort daarna begin hoes en ná x-strale het die dokter bevestig dat hy ’n ontsteking in sy linkerlong het. Twee dae later het die dokter hom na die intensiewe eenheid van ’n ander hospitaal laat oorplaas.

Ek kon toe nie meer by Justin in die hospitaal slaap nie en was sonder heenkome.

Vriende van my ouers se vriende – mense wat ons glad nie eens ken nie – was gaaf genoeg om vir my en Neels met oop harte in hul huis te verwelkom. Dit was ideaal, want hulle het slegs 3 km van die hospitaal af gewoon. My ouers, wat ook in Rustenburg woon, het na Adin omgesien terwyl ons in Pretoria vir die behandeling was.

Justin se longinfeksie het verbeter en die dokters was gelukkig met sy vordering. Ná 11 dae in die intensiewe eenheid is Justin na die onkologiesaal geskuif.

Justin veg

Justin het die chemo goed hanteer en glad nie newe-effekte gewys nie. Ek moes meestal alles self doen, want hy wou nie hê dat die “tannies” aan hom moet raak nie. As ek nie daar was nie, was hy egter heeltemal gelukkig met die “tannies” om hom. Hy het kort-kort gevra “wat die tannie nou gaan doen”.

Ná die chemo het sy hare begin afbreek en toe hy eers agterkom dat hy dit kan uittrek, het hy dit in sulke klosse uitgetrek en vir my aangegee, en dan daaroor gelag. So siek soos wat hy was, het hy nooit gesê dat hy sleg voel of seer het nie.

Hy het altyd gevra vir sy klei en gewere, en dat ek vir hom ’n storie moes lees. Wat my hart gebreek het, is dat hy seker maar gedink het dat al dié gebeure normaal is vir ’n driejarige.

Ek het vir een aand Rustenburg toe gery om ’n bietjie te rus en om net weer vir Adin te sien. My suster het by Justin in die hospitaal gaan sit. Ek het net in Rustenburg aangekom toe ek ’n oproep van die hospitaal kry. Dit was slegte nuus. Ná ses dae in onkologie het Justin se suurstofsaturasie verswak en hulle moes hom terugskuif na die intensiewe eenheid en hom onmiddellik aan ’n ventilator koppel.

Ons dokter was bekommerd en het gesê dat Justin se longe verswak. Hy het nie eens geweet of Justin die nag sou oorleef nie. Ek en Neels het onmiddellik teruggejaag Pretoria toe en ons het die familie laat kom om te groet. Ons het langs sy bedjie gaan sit en vir hom gesê: “Mamma en pappa is hier.” Dit was die laaste keer dat hy wakker was.

Justin is onder verdowing geplaas sodat hy nie onnodige suurstof verbruik deur te beweeg nie. Ons het gehoor wat die dokter sê, maar wou dit nie glo nie. Dit was amper asof alles om ons stil staan. Ons het die volgende oggend omtrent drieuur gaan slaap en Justin was teen daardie tyd stabiel verklaar.

’n Paar dae later het Justin begin verbeter en het hulle hom van die suurstof begin speen. Ons was opgewonde, al was hy steeds in ’n kritieke toestand. Ek het elke dag vir hom stories gelees en langs sy bed gesit en net met hom gesels. Ek glo hy het geweet ek is daar.

Biddag vir Justin 

Familie en vriende het die nuus van Justin se kanker versprei en wou ’n biddag vir hom hou. Ek was uit my vel van opgewondenheid, want ek het geglo dat Justin op daardie dag verbetering sou toon.

Ons was die dag voor die biddag gou weer in Rustenburg toe die dokter bel. Sy het gesê dit lyk of ons vir Justin gaan verloor. Die suurstof in sy bloed was baie min. Ons het terug hospitaal toe gejaag.

Ons het geweet dat Justin baie siek was, maar ek het diep binne my gedink dat alles sal regkom, dat hy wéér sal wakker word en met my sal gesels. Ek het geglo dat hy sou leef. Dit was toe nie die geval nie.

Twee uur later, op sy eie biddag, het Justin op twee jaar en elf maande die stryd teen bloedkanker verloor – presies ’n maand nadat hy siek geword het.

Ons leer bid

Justin het geweet sy bloed is siek, maar ons het hom die heeltyd verseker dat Jesus hom gesond sou maak. Hy het gesê hy weet en dat hy ook weet wie Jesus is. Wat óns net nie geweet het nie, is dat hy nie vir hierdie aarde gesond gemaak sou word nie.

Ons is nog nie seker wat ons hieruit moes leer nie en miskien sal ons ook nooit weet nie, maar een ding is seker: Ons het leer bid.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees