Geel, geler, geelste

akkreditasie
Het jou pienkvoet oornag 'n geel mensie verander? Geelsug kom by 50 tot 80 persent van pasgeborenes voor. Lees hier wat die toestand behels, hoekom jou baba dit opdoen en hoe jy kan help.

Wat is geelsug? 

Geelsug of hiperbilirubinemie ontstaan wanneer daar te veel bilirubien in jou baba se bloed is. Bilirubien is ’n geelkleurige afbreekproduk van die rooibloedselle.

Dit word in die gal deur die lewer uitgeskei, maar in pasgeborenes se lyfies bou die bilirubien soms vinniger op as wat die lewer dit kan afbreek. Dan bou dit op in die bloed, weefsel en liggaamsvog.

Die geel pigment in die bilirubien veroorsaak dat jou baba geel verkleur en is veral duidelik sigbaar waar wit dele is. Wit babas se vel word geel, en die wit deel van babas se oë word ook geel. Dit duur 10 tot 14 dae voor geelsug opklaar.

Hiperbilirubien is nie skadelik as dit vroeg genoeg gediagnoseer en doeltreffend behandel word nie.

Dit moet egter nie geïgnoreer word nie omdat ’n oormaat bilirubien in die bloed in uiterste gevalle kan lei tot doofheid, serebrale gestremdheid, breinskade en selfs die dood.

Borsvoeding help

As jy jou baba direk ná geboorte begin borsvoed, help die kolostrum (die melk wat jy die eerste drie dae produseer) om geelsug te voorkom. Dis omdat kolostrum ’n uitstekende lakseermiddel is wat jou baba se magie laat werk en so van die bilirubien ontslae help raak.

As jou baba nie genoeg kolostrum inkry nie en min mekonium (eerste stoelgange) uitskei, kan dit meebring dat die bilirubien weer opgeneem word en dit veroorsaak geelsug.

Behandeling

As jou baba geelsug het, moet hy ligterapie ontvang om sy lewer te help om die oormatige rooibloedselle af te breek en die dunderm te help om die gevormde bilirubien uit te skei. Daar is verskeie metodes om van geelsug ontslae te raak.

Sonligterapie

As die bilirubienlesing laag is, kan jy en jou baba heerlik in die son lê om van die geelsug ontslae te raak. Wees net versigtig dat jy en verál jou baba nie sonbrand opdoen nie – jou baba se velletjie is delikaat en kan vinnig brand.

Yolande Maritz van die vroedvroudiens You & Me Midwife Services raai aan dat jy om 11:00 een vyfminuut-sessie en weer om 16:00 nog ’n vyfminuutsessie in die son aandurf.

Plaas jou baba in net ’n doek in direkte sonlig.

Jy kan ongelukkig nie sonligterapie deur jou kamervenster doen nie omdat UVB-strale deur glas gekeer word. Dit is juis dié strale wat jou baba behandel.

Fototerapie tuis

Fototerapie tuis word ál gewilder. Dit is bekostigbaar en help dat jou baba nie so lank in die hospitaal hoef te bly nie, wat vir julle albei minder stresvol is. Dit is in die meeste stede beskikbaar en kos tussen R500 en R1 000 vir 24 uur.

Nog ’n voordeel is dat dit die gevaar van infeksie, wat groot is in hospitale, verminder. Die fototerapie word meestal deur gekwalifiseerde vroedvroue en susters in samewerking met jou pediater behartig. Dit vind plaas op ’n bilibed, wat gemaklik en beweeglik is.

’n Bilibed se UV-strale straal 10 tot 15 cm van jou baba se ruggie af en is dus doeltreffend en veilig. Die bilibed reguleer sy eie temperatuur om oorverhitting te voorkom. Die bilibed word vergesel van ’n jassie wat jou baba met net ’n doek onder kan aantrek.

Die jassie beperk die UV-strale na buite ten einde skade aan die ogies te voorkom. In die winter kan jy ’n mussie op jou baba se kop sit en hom met ’n kombers toemaak.

Die bilibedjies maak ’n suisgeluid wat dien as wit geraas om jou baba te sus.

Fototerapie in die hospitaal

Hospitale het dikwels nie ’n bilibed tot hul beskikking nie en maak dan gebruik van oorhoofse ligte. Jy en baba moet dus ’n bietjie langer in die hospitaal bly. Die UV-ligte skyn van bo af op jou baba.

Jou baba dra oogbeskerming teen die skadelike strale en dra net ’n doek. Ongelukkig word geen mussies en kombersies toegelaat nie omdat dit die behandelingsoppervlak beperk. Oorhoofse ligte het meer tyd nodig om die bilirubien af te breek omdat die afstand tussen jou baba en die ligte groter is: 30 tot 45 cm.

Doen dit tydens terapie

  • Voed jou baba elke twee uur terwyl die fototerapie plaasvind om ontwatering te voorkom en seker te maak jou baba skei mekonium uit. 
  • Babas wat formulemelk drink moet ook meer gereeld gevoed word, byvoorbeeld 50 ml melk elke drie uur pleks van 75 ml elke vier uur.
  • Hardlywigheid by babas wat formulemelk drink is algemeen; vind by jou pediater uit wat jy vir jou baba kan gee om dit te verlig.
  • Hanteer jou baba net tydens voedingen droogmaaksessies.
  • Moenie jou baba bad tydens fototerapiebehandeling nie. Babarome vorm ’n beskermingslagie op die vel en dan dring die strale nie so goed deur nie.
  • Wend petroleumjellie liggies aan jou baba se lippies as dit droog word.

As baba se telling nie daal nie

Soms gebeur dit dat babas baie stadig op fototerapie reageer. Of soms reageer hulle goed, maar dan styg die telling ná ’n dag of twee skielik. Dit gebeur om verskeie redes.

  • As jou baba aanvanklik goed op die behandeling reageer en die telling dan ná staking van die terapie weer styg, kan hy borsmelkgeelsug hê. Dit beteken dat die vetinhoud van die borsmelk hoog is, en dat die bilirubien aan die borsmelkvet gaan “vassit”.
    Behandeling behels dat jy borsvoeding 48 uur lank staak en dat jou baba dan weer minstens 48 uur fototerapie kry.
    Met dié terapiesessies word jou baba formulemelk gegee wat die lewer ’n bietjie “skok” en veroorsaak dat meer ensieme geproduseer word om die bilirubien doeltreffender af te breek. 
  • Soms reageer ’n hoë telling nie op fototerapie nie. Dit kan beteken die oorsaak van geelsug moet by Rh-onverenigbaarheid gesoek word.

Dié toestand ontstaan wanneer ma en baba verskillende bloedgroepe het. Die ma kan dan teenliggaampies vervaardig wat die baba se rooibloedselle vernietig en tot ’n skielike opbou van bilirubien lei. ’n Bloedoortapping is nodig om die baba teen ernstige komplikasies te beskerm.

Rh-onverenigbaarheid het in die verlede tot die ernstige babageelsug gelei, maar kan nou voorkom word deur die ma 72 uur ná geboorte ’n inspuiting te gee wat die vorming van teenbloedliggaampies in toekomstige swangerskappe voorkom.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees