Gepla met die dood

akkreditasie
Is dit 'n normale reaksie?

Vraag:

My 5-jarige dogtertjie praat baie oor die dood. Sy sal byvoorbeeld sommer net begin huil en sê sy vra vir Liewe Jesus baie mooi dat sy nie moet doodgaan nie. Sy bid ook in die aand voor ons dat sy nie moet doodgaan nie. Is dit ’n normale reaksie? Wat kan ek doen om hierdie vrees te laat verdwyn?

Antwoord:

Kinders raak bewus van die dood nog lank voor ons dit verwag. Hulle kry blootstelling aan die dood wanneer hulle dooie insekte en diertjies sien. Vir die meeste kinders sal die vrees vir die dood nie patologies wees nie, maar indien dit jou dogter se daaglikse aktiwiteite onderbreek of vir ’n paar maande voortduur, stel ek voor jy soek professionele hulp.

Bly geduldig, vertroos en stel haar gereeld gerus. Gee haar die geleentheid om hieroor te gesels en vrae te vra. Praat met haar oor die dood en die hemel, op ’n feitlike manier, maar hou jou verduidelikings kort en eenvoudig.

Fasiliteer gesprekke oor die dood wanneer sy kalm en nie emosioneel is nie. Moenie hieroor gesels voor slaaptyd nie. Die donker en alleenheid van die nag kan die vrees vererger. Vermy stellings soos “het weggegaan” of “in ’n diep slaap”.

Die assosiasies met slaap of weggaan kan haar vrees vererger. Ons is geneig om die dood en siekte saam te verduidelik en wanneer kinders siek word, glo hulle dat hul gaan sterf. Verduidelik die verskil tussen terminale siekte en gewone siekte.

Probeer verstaan wat van die dood haar bang maak. Miskien is dit die vrees van alleenheid of skeiding van haar geliefdes. Stel haar gerus deur te fokus op die feit dat jy alles in jou vermoë sal doen om haar veilig te hou, jy baie lief is vir haar en dat sy ’n lang lewe voor haar het.

Vertel haar van al die drome wat jy vir haar het en help haar om te fokus op al die mooi dinge wat nog vir haar in die toekoms wag. Skep gereeld geleenthede vir jou kind om aangename ervarings saam met jou te hê, soos fisiese kontak en lag. Rofstoei-speletjies en rolspel (veral as jy die minder kragtige rol inneem) kan haar help om deur hierdie tyd te werk.

Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees