Dis normaal as ’n kind net elke tweede of derde dag ’n stoelgang het, solank dit sag is. ’n Teken van hardlywigheid is dus nie ’n dag of wat sonder ’n poef nie, maar eerder dat jou kind kwaai moet druk en selfs huil wanneer hy op die toilet of potjie sit en druk. Kyk ook na die stoelgang – as dit hard en droog is, is hy hardlywig. Hardlywigheid is dikwels die onderliggende rede van herhaaldelike blaasinfeksie, veral by dogtertjies. As jou dokter dit vermoed, sal hy moontlik x-strale van jou kind se buik wil sien. Die verstopte stoelgang sal daarop sigbaar wees.

Hoekom gebeur dit?

Dr. Bernard Linde, ’n pediater van Stellenbosch in die Wes-Kaap, sê een van die mees algemene oorsake is kinders se eetgewoontes. ’n Kombinasie van kos met te min vesel (omdat jou kind dit so verkies), spesifieke kosfiemies en te min vloeistof en vry water is dikwels die sondaar, sê Bernard.

Dit kan egter ook gebeur dat daar fout is met die peristaltiese bewegings van die dermkanaal – met ander woorde die onwillekeurige spiersaamtrekking wat die stoelgang deur die derm stoot. Let ook op of jou kind genoeg oefening kry. Gereelde oefening stimuleer die derm om te beweeg. Hoe minder ’n mens beweeg, hoe luier word die derms.

Nog ’n algemene oorsaak van hardlywigheid by kinders is as die derm nie heeltemal leeggemaak word nie, wat gebeur omdat die ontlastingsrefleks nog nie ten volle ontwikkel het nie. Dit word gelukkig mettertyd ontgroei. Wag met potjielesse tot jou kind se ontlastingsrefleks volledig ontwikkel het. Dié refleks is soggens ná ontbyt op sy sterkste. Beplan dus om in dié tyd rustig by die huis te wees sodat jou kind die geleentheid het om op die toilet te gaan ontspan. Moedig hom aan om te gaan sodra hy ’n drukking voel sodat hy nie daaraan gewoond raak om dit uit te stel nie. Veral baie bedrywige kinders is soms net te aan die gang om nog toilet toe ook te gaan.

Die laaste moontlike oorsaak is ’n gebrek aan vesel in jou kind se dieet. Kos wat ryk is aan vesel moet ook baie pektien bevat. Sluit dus by jou kind se dieet kosse in soos bruinrys, growwe grane, sade, hawermeel, aspersies, boontjies, Brusselse spruitjies, wortels, kool, ertjies, patats en bone. Vrugte wat goed teen hardlywigheid werk sluit in pruime, appels, piesangs, tamaties, vye, appelkose, bessies, druiwe en perskes. Moedig jou kind aan om die vrug met skil en al te eet.

Daarby moet hy baie en gereeld water drink en sy kos stadig en goed kou.

Vermy melk, vleis, witmeel, sout, koffie, suiker, gaskoeldrank en verwerkte kos – die laaste vyf hoort in elk geval nie in ’n kind se dieet nie. Jy kan gerus dagboek hou van wat hy eet en wanneer hy hardlywig word, en kyk of jy ’n verband kan sien tussen wat hy geëet of nie geëet het nie en die hardlywigheid.

Wees ook geduldig. As die hardlywigheid chronies is, kan dit ’n ruk duur voor die dermpie weer doeltreffend aan die werk is en sal julle waarskynlik aanvanklik lakseermiddels en gliseriensetpille moet gebruik om dinge aan die gang te kry. 

WAT KAN NOG HELP?
Vra jou apteker oor ’n aanvulling wat vriendelike bakterieë in die dermkanaal terugplaas. Daar is verskeie soorte spesifiek vir kinders op die mark. Jy kan vir jou kind ’n lakseermiddel soos Lacson-stroop – ’n laktulosestroop vir kinders – gee as hy hardlywig is. Volgens dr. Bernard Linde van Stellenbosch is ouers dikwels bekommerd dat laksering gewoontevormend is. “Maar anders as by volwassenes, word daar nooit vir kinders gewoontevormende middels voorgeskryf nie. Jy hoef dus nie bang te wees as jou dokter in sekere omstandighede langtermynlakseermiddels voorstel nie,” sê Bernard.
Dankie aan dr. Bernard Linde vir sy hulp met hierdie artikel.