Oorinfeksie is een van die algemeenste redes waarom antibiotika vir kinders voorgeskryf word en ’n hele 75 persent van kleingoed kry voor hul derde verjaardag minstens een keer oorinfeksie.

Boonop word dit veroorsaak deur dieselfde kieme wat aanleiding gee tot boonstelugweginfeksie.

Wat is oorontsteking?

Die middeloor bestaan uit die trommelvlies, ’n hol ruimte (die trommelholte) en drie klein oorbeentjies (bekend as die hamer, aambeeld en stiebeuel) wat aan mekaar vassit en oor die ruimte in die binneoor strek.

Aan die onderste punt van die trommelholte is daar ’n klein buisie, die buis van Eustachius, wat verseker dat enige vloeistof wat in die trommelholte opbou, na die keel kan afloop.

Oorinfeksie word veroorsaak wanneer hierdie buisie nie werk soos hy moet nie en die vloeistof in die trommelholte begin opbou. Hierdie vloeistof kan ontsteek wees of nie.

’n Kind se buis van Eustachius is korter en meer horisontaal as dié van ’n volwassene en dit is waarom kinders meer geneig tot oorinfeksie is as grootmense.

Boonstelugweginfeksies, sinusontsteking, refluks en allergieë kan alles veroorsaak dat die buis van Eustachius verstop en vloeistof en druk in die binne-oor opbou.

Dit is wat die pyn en ongemak veroorsaak.

As hierdie druk nie verlig word nie, kan die trommelvlies bars en die vloeistof in die buiteoor se kanale beland.

Normaalweg genees ’n gebarste trommelvlies vanself, maar as die buise van Eustachius herhaaldelik verstop word, kan ’n permanente klein gaatjie in die trommelvlies vorm wat gehoorverlies kan veroorsaak.

Simptome van oorinfeksie

Oorinfeksie gaan gewoonlik hand aan hand met boonstelugweginfeksie en simptome soos koors, ’n loopneus, gebrek aan eetlus en lusteloosheid is algemeen.

As jou kind daarby van oorpyn kla, gereeld aan sy ore trek of dit vryf, of as daar bloed of vloeistof uit sy ore kom, het hy waarskynlik ’n akute oorinfeksie.

Dis egter ook moontlik om oorinfeksie te hê sonder duidelike simptome soos koors, slym en pyn.

Dit word chroniese oorinfeksie (otitis media) met uitsypeling genoem en staan ook in die volksmond bekend as gomoor. Dit is wat gebeur wanneer ’n dik vloeistof in die middeloor vassit en nie kan afloop nie.

Dikwels is die enigste simptome daarvan ’n effense of taamlike verlies aan gehoor en ’n swakker luistervermoë. In der waarheid is dit ’n onsigbare oorinfeksie en kan dit baie skade veroorsaak.

Die oorbeentjies kan nie beweeg soos hulle moet nie omdat hulle konstant in ’n dik vloeistof vasgevang is, en dus kan jou kind nie behoorlik hoor nie.

Die oorbeentjies kan ook permanente skade opdoen weens die blootstelling aan die suur in die vloeistof.

Gevolge van oorinfeksie

Al meer voorskoolse kinders sukkel met taal- en spraakprobleme as gevolg van herhaaldelike oorinfeksie, sê Chrisna Oosthuizen, ’n oudioloog by die Carel du Toit-sentrum vir kinders met gehoorprobleme in Bellville, Kaapstad.

Omdat die vloeistof in die middeloor ’n effens tot taamlike verlies aan gehoor veroorsaak, ontwikkel hierdie kinders dikwels onduidelike spraak.

Hulle hoor nie die s-, f- en t-klanke nie en daarom sê hulle dit ook nie. Hulle hoor ook dikwels nie die kort woorde in ’n sin nie en daarom sê hulle dit ook nie.

“Gehoor is een van die sintuie, maar luister is ’n vaardigheid,” sê Chrisna.

’n Kind wat vir aansienlike rukke nie goed kan hoor nie, ontwikkel nie goeie luistervaardighede nie en dit kan later prestasie op skool ondermyn.

Hierdie wisselvallige verlies aan gehoor kan ’n probleem met die verwerking van klanke veroorsaak, wat ’n kind later kan laat sukkel met aandag gee, konsentrasie (veral waar daar baie agtergrondgeraas is soos in ’n klaskamer), lees en spel.

Volgens Susan Strauss, president van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Oudioloë, is dit uiters belangrik om seker te maak dat ’n kind wat oorinfeksie gehad het weer normaal kan hoor, al is die infeksie self iets van die verlede.

’n Oudioloog is spesiaal opgelei om kinders se gehoor te evalueer en kan ’n vinnige, pynlose toets uitvoer om te bepaal of daar vloeistof in die middeloor is.

Geen doktersverwysing is nodig vir ’n besoek aan ’n oudioloog nie.

’n Oudioloog kan ouers en onderwysers ook help om aanpassings te maak in ’n kind se leeromgewing om hom te help om beter te hoor en te luister.

Goeie oorsorg 

Die Pretoriase oor-neus-keel-arts dr. Nisius du Plessis deel wenke vir goeie oorsorg:

  • ’n Kind met dreineringspypies (grommets) wie se ore aanhou dreineer, het ’n opvolgbesoek by die oor-neus-keel-spesialis nodig om die oorsaak daarvan vas te stel.
  • Moenie enige ander middel in ’n kind met pypies se oor drup behalwe dit wat deur ’n dokter voorgeskryf is nie. Sommige druppels is skadelik vir die middeloor.
  • Oorstokkies behoort net gebruik te word om die buitenste oorskulp skoon te maak en moet in geen omstandighede in die oorkanaal gedruk word nie.
  • Moenie probeer om was uit die oor te verwyder nie – dit beskerm die oorkanaal teen infeksie en water. Die meeste pogings om was te verwyder druk dit net dieper in, waar dit ’n prop vorm wat ander probleme kan veroorsaak.
  • Dokters stem nie saam oor of ’n kind met oorpypies sonder oorproppies kan swem of bad nie. In die meeste gevalle is die oorproppies nie nodig nie, aangesien die oorkanaal so ontwerp is dat dit vloeistof uithou.

As hulle ná die swem oorpyn het of daar ’n afskeiding uit die oor is, moet hulle egter liewer oorproppies dra.

’n Algemene reël is dat kinders sonder oorproppies kan swem, maar nie met hul kop dieper as ’n halwe meter onder die water nie.

Seperige badwater kom maklik in die ore en kinders met oorpypies moet hul kop liewer droog hou terwyl hulle bad.

Hoe om oorinfeksie te voorkom

  • Maak seker jou kind se immunisasie-program is op datum. Die Hib- (Haemophilus influenzae B-) en pneumokokkus-vaksien kan oorinfeksie help beperk.
  • Navorsing wys dat kinders wat minstens ses maande lank geborsvoed is, minder geneig is om oorinfeksie op te doen.
  • Hou die kleinspan weg van sigaretrook. Daar is ’n duidelike verband tussen die aantal boonstelugweginfeksies en blootstelling aan rook.
  • Beheer allergieë wat die buise van Eustachius kan laat swel en verstop.
  • Maak seker jou baba word altyd teen ’n hoek van 25 tot 45 grade neergelê as sy ’n bottel drink en lê nie plat op haar rug nie. Omdat bottelmelk makliker in baba se mond opdam as wanneer baba borsvoed, kan van die melk deur die buis van Eustachius na die middeloorholte vloei en ’n infeksie veroorsaak. 
Moenie met middeloor-infeksie speel nie, want dit kan gehoor-verlies en latere leer-uitdagings veroorsaak.

Antibiotika of oorpypies?

Oorinfeksie word gewoonlik met antibiotika behandel, maar soms reageer middeloorinfeksie nie op antibiotika nie as gevolg van ’n weerstandige kiem of omdat die antibiotika-konsentraat wat die middeloor bereik nie genoeg is om die bakterieë dood te maak nie.

As jou kind drie of meer keer binne drie maande oorinfeksie gekry het, kan julle dreineringspypies (grommets) oorweeg.

Dié pypies word gewoonlik van silikoon gemaak en in die trommelvlies geplaas om die werk van die buis van Eustachius oor te neem.

Voor die buisies in die oor geplaas word, moet die oorsaak van die oorinfeksie eers vasgestel word, sê dr. Nisius du Plessis, ’n Pretoriase oor-neus-keel-spesialis.

Tipiese sondaars is vergrote adenoïede (neuskeelmangels) en allergieë. Nisius sê ’n klein snytjie word in die trommelvlies gemaak, waarna die vloeistof uitgesuig en die buisie in die trommelvlies geplaas word.

Die kind word dan ontslaan met antibiotiese oordruppels wat enige oorblywende infeksie behandel en keer dat die vloeistof die pypies laat verstop.

’n Paar weke ná die operasie sal die dokter jou kind weer ondersoek om seker te maak die infeksie is weg en die ore is droog.

Die buisies val gewoonlik self ná ses tot agt maande uit, en tot dan behoort jou kind elke drie of ses maande ’n draai by die spesialis te maak