Hoe veilig is hoesmedisyne?

akkreditasie

Vraag:

My seuntjie van ’n jaar is in die kleuterskool. Hy is gereeld siekerig en hoes dan, maar is nie regtig siek genoeg om dokter toe te gaan nie. Ek sien ’n mens kry deesdae ’n groot verskeidenheid hoesstrope. Watter hoesstroop sal jy aanbeveel? Het dit enige newe-effekte?

Antwoord:

Ek dink jou vraag raak ’n paar fasette aan. Eerstens: Wanneer moet ’n mens dokter toe gaan as jou kind hoes? Gevaartekens is asemnood, ’n kind wat baie vinnig asemhaal (kinders haal gewoonlik vinniger asem wanneer hul koors hoog is; kyk dus hoe vinnig hy asemhaal nadat hy koorsmedisyne gedrink het) en kinders wat te kortasem is om te eet, drink of vol sinne te praat. As die kuiltjie tussen die ribbes intrek, dui dit ook op asemnood. In hierdie gevalle moet jy dokter toe gaan.

Gaan ook dokter toe as die hoes nie ná ’n paar dae verbeter of die koors nie breek nie. ’n Kroephoes slaan skielik toe, klink soos ’n blaf en as die kroep erg is, sukkel die kind om in en uit te asem – dit is ’n noodgeval en jy moet dadelik mediese hulp soek. Kry ook onverwyld mediese hulp as jou kind se lippe en veral tong blou lyk.

Tweedens: Jy is reg, daar is verskeie hoesstrope op die mark en dis moeilik vir ’n leek om die regte een te kies. Daar is weinig bewys dat hoesstroop wat ’n mens oor die toonbank koop, die hoes te wyte aan ’n boonstelugweginfeksie verbeter. Die meeste kinders is binne vyf dae beter met of sonder medikasie.

Daar is trouens wêreldwyd nuwe regulasies om die verkoop van hoesstrope en verkouemiddels vir kinders jonger as twee (vier in sommige lande) te beperk. Dis omdat baie van dié strope meer as een bestanddeel bevat en omdat dit in kombinasie met ander verkouemiddels tot oordosering en selfs die dood kan lei.

Newe-effekte is meer algemeen in die hoesstrope wat antihistamiene en ontstuwers as deel van ’n kombinasie bevat en moet vermy word.

As jou kind hoes weens ’n verkoue, kan jy die koors probeer beheer, die neus met soutoplossing spoel en die neusie skoonsuig as dit baie verstop is. Gee genoeg vloeistof en oorweeg ’n bevogtiger as die lug droog is waar julle bly.

Verskeie studies wys dat heuning hoes goed behandel by kinders wat ouer as een is. Gee ’n halwe teelepelvir kinders tussen een en vyf en ’n volle teelepel vir kleingoed tussen ses en 11. Kinders jonger as een moenie heuning kry nie; dit kan die infeksie botulisme veroorsaak.

Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees