Met sy welige bos krulle lyk Christopher Visser (2) soos enige ander seuntjie hier waar hy op die mat sit en met blokkies speel. Hy glimlag graag en sy ogies vonkel vrolik elke keer wanneer die spraakterapeut ’n nuwe speelding voor hom neersit.

Al wat op die oog af verraai dat sý “normaal” anders is as ander kinders s’n, is die twee apparate tussen die krulle op sy kop wat met ’n kabeltjie gekoppel is aan die apparate agter sy ore.

“Die spraakterapie is die hoogtepunt van ons week,” vertel mamma Janine oor Christopher se sessie by Barbara Kellett van die Tygerberg Hospitaal en Universiteit Stellenbosch se kogleêre inplantingseenheid. Hulle kom elke week vir terapiesessies hier na die Carel du Toit-sentrum in Bellville, Kaapstad toe.

Janine het ’n normale swangerskap gehad met geen komplikasies nie, hoewel Christopher op 36 weke gebore is en 13 dae in die neonatale eenheid deurgebring het. By sy crèche was hy ’n gelukkige baba, maar kort ná sy eerste verjaardag het die onderwyseres genoem dat hy nie reageer wanneer sy agter hom staan en praat nie. ’n Gehoortoets by ’n oudioloog was nie baie suksesvol nie omdat Christopher nie wou stilsit nie en verdere toetse was dus nodig, vertel Janine.

’n Breinstam-responstoets onder narkose het gevolg by ’n daghospitaal in die Strand, die kusdorp naby Kaapstad waar die Vissers woon. ’n Kind hoef nie wakker te wees terwyl dié toets uitgevoer word nie omdat die oudioloog op haar rekenaarskerm kan sien of sy brein boodskappe ontvang of nie.

“Die oudioloog het onmiddellik gesê Christopher het hewige gehoorverlies en hy kon geen spraak hoor nie. Hy kon slegs baie harde klanke hoor soos ’n vliegtuig wat langs hom opstyg,” vertel Janine. “Toe ons dié nuus kry, het ons dadelik bang en ontredderd gevoel. Doofheid was vir ons ’n onbekende en die onbekende maak ’n mens bang.”

Dokters kan nie sê wat Christopher se gehoorverlies veroorsaak het nie. Hy het nie ’n virus of siekte ná geboorte gehad wat daartoe kon lei nie. Omdat hy nie self kan sê of hy eers kon hoor en toe later nie meer nie, aanvaar hulle hy is van geboorte af doof. Die oorsaak kan geneties wees, maar Janine en Derik het besluit teen toetse wat sal kan bepaal of dit is waar die knoop lê.

’n Sakeman van Kaapstad het binne 60 uur 4 222 km op ’n motorfiets afgelê om geld vir die inplanting in te samel.

Waar kry ons genoeg geld?

Skielik moes Janine en Derik besluite neem oor die beste pad vorentoe vir hul kind. “Ons het heel eerste aan gebaretaal gedink,” vertel Janine. “Maar selfs as ek en Derik dit saam met Christopher leer, sou die res van ons familie en vriende nie met hom kon kommunikeer nie. Hoe sou hy in die samelewing kon funksioneer?”

Hulle het besluit om vas te stel of Christopher ’n geskikte kandidaat vir kogleêre inplantings was. Op 17 maande het hy ’n MRI-skandering by die Panorama Medi-Clinic in Bellville ondergaan om vas te stel of die senuwees en beenstruktuur geskik was vir ’n kogleêre inplanting. Die oudioloog van Deidre Stroebel se praktyk het terselfdertyd afdrukke geneem vir die gehoorapparate wat hy vooraf drie maande lank moes dra, en spraakterapie is begin met die hulp van dié gehoorapparate.

Hoewel die toetse gewys het Christopher is ’n geskikte kandidaat vir ’n kogleêre inplanting, moes hulle eers die nodige geld insamel. “Die meeste mediese fondse betaal net vir een inplanting per jaar en dek net tot ’n sekere bedrag per oor,” sê Janine. “Ons het nog sowat R100 000 per oor nodig gehad. ’n Bilaterale (in elke oor) inplanting kos omtrent R500 000.”

’n Fonds is op Backabuddy.co.za gestig en Janine was verbaas om te sien hoe mense van oor die wêreld heen bydraes begin maak. “Dit was ongelooflik en so ’n emosionele ervaring,” vertel sy. Wayne Bosman van die verhuringsmaatskappy Coastal Hire Constantiaberg het geld ingesamel deur die Iron Butt-uitdaging te voltooi, ’n ekstreme motorfietsrit wat behels het dat hy binne 60 uur 4 222 km moes aflê. “Nie net het hy die eerste Suid-Afrikaner geword wat dit doen nie, mense het ook skenkings aan Christopher gedoen vir elke kilometer wat Wayne afgelê het,” sê Janine.

“Vriende het ook saamgestaan om geld in te samel. My ou matriekklas het ’n video van ons hoërskooljare verkoop,” vertel Janine. “Soms het ek koevertjies met geld in op my lessenaar gekry …” Gou het hulle genoeg bymekaargemaak en Christopher was gelukkig genoeg om ’n bilaterale inplanting te kry. Baie kinders kry om finansiële redes net een inplanting.

Die operasie en daarna

Christopher se kogleêre inplantings is op 21 maande gedoen deur een van die handjievol spesialiste in die land wat die operasie uitvoer, die oor-neus-keel-chirurg dr. Derrick Wagenfeld van Vergelegen Medi-Clinic op Somerset-Wes. Derrick het meer as 30 jaar gelede die heel eerste kogleêre inplanting in Suid-Afrika behartig.

Die operasie duur twee tot vier uur per oor, en Christopher was vier uur lank onder die mes – die langste vier uur in Janine en Derik se lewe! “ ’n Snytjie word agter die oor gemaak en van daar word die elektrodes in die koglea ingeplant asook ’n magneet onder die vel,” verduidelik Janine. “Tydens die operasie word die elektrodes deur die oudioloog getoets. Sy kan sien of die brein die elektriese seine ontvang en dus of die inplanting werk of nie.”

Ná die operasie is Christopher se ore ’n paar weke kans gegee om te herstel. Die groot dag waarop die inplantings geaktiveer moes word, het eindelik aangebreek. “Jy kon aan sy gesiggie sien hy hoor, maar sy reaksie was nie dramaties nie,” vertel Janine. “Maar vir my en Derik was dit baie emosioneel. Dit het al die besluite die moeite werd gemaak.”

Die kogleêre inplantings was wel net die eerste stap in die lang proses om Christopher ’n kans op ’n lewe met gehoor te gee. Volgens Barbara beteken die inplantings nie hy gaan nou dadelik begin praat nie. “Intense terapie is eers nodig om hom te leer luister en verstaan. ’n Tipiese baba luister omtrent ’n jaar lank voor hy sy eerste woord sê. Christopher luister nou eers ses maande lank. ’n Mens luister honderde kere na ’n woord voor jy dit begin gebruik.

“Christopher is ’n baie skrander seuntjie met uitstekende kommunikasievaardighede,” vertel Barbara. “Hoewel hy die inplantings eers op 21 maande gekry het, het hy steeds ’n goeie kans op sukses, maar dit gaan tyd en baie toewyding van sy ouers verg. Hoe vroeër gehoorverlies gediagnoseer word, hoe beter is die kans dat ’n kind sy potensiaal bereik… Die ideaal is goeie tegnologie en ondersteuning teen ses maande oud.”

Janine vertel sy beskou die spraakterapie meer as “luisterterapie”. “Christopher kan ná die inplanting nou klank hoor, maar hy moet nog leer luister. Die weeklikse besoek aan Barbara is meer om my te bemagtig om ons alledaagse roetine in te span om hom te leer luister. “Van leer luister sal Christopher begin woorde sê. Die geheim is herhaling, herhaling en nogmaals herhaling. Ons kry huiswerk en ek gee dit deur aan sy juffrou, wat ons wonderlik ondersteun.”

Volgens Barbara moet Christopher minstens twee jaar lank intensiewe luister- en taalterapie kry. Dit maak deel uit van die rehabilitasieprogram ná ’n kogleêre inplanting. Hy gaan ook nog elke drie maande oudioloog toe sodat sy vordering dopgehou kan word.

Persoonlike lesse

“Ek glo dat elke kind uit eie reg perfek is en dat daar nie iets soos ’normaal’ bestaan nie. Normaliteit is net ’n persepsie,” vertel Janine. “Ons normaal is net anders as ander mense s’n. Hoewel Christopher in ’n rugbymal huis grootword, sal hy nooit rugby kan speel nie omdat dit ’n kontaksport is. Dit beteken nie hy is slegter daaraan toe nie; dis net anders.”

Janine vertel Christopher raak soms gefrustreerd. “Hy wil iets sê, maar het nie die woorde daarvoor nie. Dis baie belangrik dat hy veilig voel en roetine help daarmee. ’n Mens moet baie geduld hê. Soms moet jy sy reaksie ook in perspektief sien: Is hy gefrustreerd omdat hy doof is of omdat hy twee jaar oud is?”

Haar seuntjie het onlangs met swemlesse begin, want danksy nuwe tegnologie kry ’n mens nou waterbestande toebehore. “Ek dink Christopher sal na ’n hoofstroomskool kan gaan, maar ons sal ’n skool met klein klassies kies,” sê Janine. “Ek glo daar is ’n spesiale en spesifieke pad vir Christopher uitgelê nog voor hy gebore is. En om hierdie paadjie te kan stap en ’n verskil te maak, het God besluit hy moet doof wees. Al wat verander het, is my idee van normaal.” 

Kogleêre inplantings in SA

  • Daar is tans agt kogleêre inplantingseenhede in Suid-Afrika, wat die Tygerberg Hospitaal-Universiteit Stellenbosch se eenheid insluit.
  • In 2016 het 91 kinders en 111 volwassenes kogleêre inplantings gekry.
  • Anders as in ontwikkelde lande is dit nie wet in Suid-Afrika dat kinders se gehoor by geboorte getoets word nie – dring dus daarop aan.
  • Die beste tyd vir ’n kogleêre inplanting is voor ’n kind se eerste verjaardag.
  • Geluide klink anders deur die kogleêre apparate. Mense wat voorheen kon hoor, beskryf dit as effens elektronies.
  • Verskeie organisasies in Suid-Afrika help ouers om geld vir die inplantings in te samel. HearUs is ’n liefdadigheidsorganisasie van die Tygerberg Hospitaal-Universiteit Stellenbosch se kogleêre inplantingseenheid (hearus.org.za).
  • Danksy kogleêre inplantings hoef kinders vandag nie meer noodwendig na ’n skool vir gehoorgestremdes te gaan of onduidelik te praat nie, solank hulle nie ander probleme ook het nie. Laasgenoemde is ongelukkig by sowat 40 persent van kinders die geval.
  • Danksy kogleêre inplantings is gebaretaal nie meer die enigste kommunikasie-opsie vir gesinne met ’n gehoorgestremde kind nie – hoewel die enorme koste van die inplantings beteken dat dit nie almal beskore is nie.
  • Gaan na careldutoit.co.za, cochlearimplants.co.za of die nasionale liggaam sacig.org.za vir nog inligting.
Christopher twee dae ná die bilaterale kogleêre inplantingsoperasie.
So lyk een van die snye waar die inplanting gedoen is.
Facebook-steungroepe vir ouers
  • Cochlear Implants Users
  • Cochlear Implant Experiences
  • Decibels of love – parent support group (SA)