Elke ma wil die beste vir haar kind gee, veral die beste kos. Want soos die spreekwoord sê: Ons is wat ons eet. Volg hierdie wenke om te sorg dat die hele gesin gesond én lekker eet sonder dat die kosrekening julle platsak maak.

1. Drink water

Die gesondste en goedkoopste drinkding vir jou en jou kleingoed is gewone skoon water. Moenie koeldrank en vrugtesap koop nie; gebruik daardie geld liewer vir laevet- of vetvrye melk. Maak seker jy doen dit vandat jou kinders klein is sodat hulle hierdie goeie gewoonte lewenslank volg.

2. Beplan vooruit

’n Saterdagoggend-beplanningsessie vir die week wat voorlê is waar jy begin spaar. Gryp ’n stuk papier wanneer die kroos kom inkruip en beplan jul etes vir die week. As jy hulle betrek, help dit klaar om hulle te laat saameet. Stel jou inkopielysie op en vaar die winkel binne terwyl pappa en die kleinspan by die huis ontspan. Deur net te koop wat nodig is, verminder jy vermorsing. Los die kinders by die huis en jy sal ’n klomp randelas spaar.

3. Koop goedkoper vleis

Hoender en sommige vissoorte is nie net gesonder as rooivleis nie, maar ook goedkoper. Sluit rooivleis slegs een of twee keer per week by jul eetplan in, eet twee of drie keer hoender, twee keer vis en een keer iets vegetaries. Blikkies sardyne is goedkoop en kan vinnig omskep word in kleutervriendelike viskoekies of ’n vistert wat hulle hul lippe sal laat aflek. Hoender is so veelsydig en enigiets van hoenderpasta tot hoenderkebabs of sommer net ’n hoenderboudjie is lekker kleuterkos.

4. Seisoengroente & -vrugte

Groente en vrugte wat in seisoen is, is heelwat goedkoper. Bly liewer weg van eksotiese groente en vrugte as jy nie ’n fortuin wil betaal nie. Kies elke week drie tot vier verskillende groente en vrugte wat jy op verskillende maniere kan voorsit en kombineer. Volgende week koop jy weer ander soorte om seker te maak dat julle nie moeg raak vir dieselfde kosse nie.

5. Organies is onnodig

Organiese kos is duur en nie ’n vereiste vir gesond eet nie. Organies is nie verkeerd nie, maar as jy nét dit wil koop, gaan jy waarskynlik baie minder vrugte en groente kan koop. Koop gewone vrugte en groente en kweek liewer organies by die huis in jou eie tuin.

6. Plant ’n groentetuin

Jy hoef nie ’n hektaar vol groente aan te plant nie. Selfs al het jy net ’n klein stukkie tuin, kan jy steeds daaruit eet. Om ’n verskil aan jou beursie te sien kan jy groente plant wat jy gereeld gebruik soos blaarslaai, tamaties, spinasie, soetrissies, groenboontjies en ook kruie. Hierdie groente groei maklik en het min plek nodig.

Getty Images

7. Plant ’n vrugteboom

Kies ’n somervrug en ’n wintervrug wat aard in jul omgewing en plant ’n boom van elk. Dit maak ’n groot verskil as jy ’n bietjie minder vrugte hoef te koop. Die lekker van bome is dat hulle mettertyd meer vrugte dra. As jy ’n groot tuin het, kan jy sommer ’n klomp verskillende vrugtebome plant waarvan die vrugte op verskillende tye ryp sal wees.

8. Koop grootmaat

’n Groot sak botterskorsies, wortels of lemoenpampoentjies werk meestal heelwat goedkoper uit as wanneer jy dit los koop. As jy groente by die grootmaat koop, moet dit egter so gou moontlik geblansjeer of gekook en dan in pakkies gevries word, tensy jy dit binne so 10 dae opgebruik. So sal jy ook sommer ’n bietjie krag spaar. Koop ’n groot sak beet in seisoen en lê dit dan in – so kan R50 sorg vir ’n hele jaar se beetslaai. As jy ’n goeie vriendin of familie naby het, kan julle ook grootmaatvrugte koop en deel. Koop groot houers natuurlike jogurt pleks van klein bakkies gegeurde jogurt. So spaar jy rande en onnodige ekstra kilojoules.

9. Eet soms vegetaries

Kies ’n vegetariese gereg vir minstens een hoofmaaltyd per week. Vleis is die duurste item op jou bord en deur dit af en toe te vervang met ’n vleisalternatief soos eiers, bone, lensies of kaas kan jy jou rande rek. Behalwe dat jy spaar, is dit ook baie goed vir almal se gesondheid om meer bone en lensies te eet. Soek sommer ’n paar resepte vir geregte met peulgroente op die internet. Beproef ook pasta en gebakteboontjie-slaai, lensiesop, groentelasagne, Franse braaibrood, macaroni en kaas, of ’n piekniek met gekookte eiers en gesnyde groente en vrugte.

10. Kyk uit vir winskopies

As jy items wat julle baie gebruik teen afslag koop, kan jy ook ’n paar rand spaar. Maak egter seker dat jy die gewone prys ken sodat jy presies weet hoeveel jy spaar en nie uitgevang word deur slim bemarking nie.

11. Minder verwerkte kos

Bokse kitspap is wel gerieflik, maar kan jou sak ruk as die hele gesin dit elke dag eet. Beplan gekookte pap soos hawermout vir minstens drie dae per week. Helder dit op deur verskillende vrugte by te voeg. Dis nie net goedkoper nie, maar ook gesonder as bokse kleurryke kinderkitspap. Maak eerder jou eie viskoekies as om te koop. Probeer om geriefskos soos bevrore vis- en hoenderporsies wat jy net in die oond kan druk te hou vir dae wanneer jy onder druk is en gebruik waar moontlik onverwerkte kos. Vars kos is ongetwyfeld goedkoper en gesonder.

12. Bly weg van wegneemetes

Wegneemetes en die meeste restaurantkos is nie net ongesond nie, maar ook duur. Een keer se uiteet kan jou maklik kos wat ’n paar dae se gesonde kos by die huis kos. Pleks van uiteet en wegneemetes koop kan julle liewer iets spesiaals by die huis maak. Jy kan byvoorbeeld gesonde pizzas vir ’n kwart van die prys (en vetinhoud) van gekoopte pizza maak. Beproef ook tuisgemaakte hoenderburgers: ’n heelkoringrolletjie met ’n stukkie hoenderborsie, vars pynappel, tamatie en blaarslaai.

13. Hergebruik oorskietkos

As daar vleis oorgebly het van die hoofmaaltyd, kan jy dit die volgende dag gebruik as toebroodjievulsel pleks van gekoopte kouevleis; dit is goedkoper en gesonder. Slaaie en groente wat oorgebly het, kan met die volgende dag se middagete of aandete weer voorgesit word. Jy kan selfs ’n heerlike souttert maak van die vorige dag se oorskietvleis en -groente.

14. Maak self

Deur beskuit self te bak kan jy nie net seker maak dat die gesondheidsbeskuit werklik gesond is nie, maar ook heelwat geld spaar. Beplan so dat jy bak op ’n dag wanneer jy die oond in elk geval moet aanskakel om kos te maak. Bak jou eie muffins en vries dit sodat jy net kan uithaal en ontvries wanneer dit nodig is. Dit spaar geld, tyd en krag.

15. Vind uit oor mediese fonds-programme

Verskeie mediese fondse en gesondheidsprogramme bied die voordeel van afslag op gesonde kos. Dis dus die moeite werd om gesond te eet, nie net omdat jy minder geld sal uitgee aan dokters en medisyne nie, maar ook omdat jy geld terugkry. 

Voorbeeld van 'n weekspyskaart