VRAAG: Watter inentingskedule is die beste – privaat of die regeringskedule?

ANTWOORD: Die Suid-Afrikaanse regering se Uitgebreide Immuniseringsprogram(Expanded Programme on Immunisation of EPI) laat toe dat alle kinders gratis teen die volgende siektes ingeënt word: polio, tuberkulose, witseerkeel, klem-in-die-kaak, kinkhoes, siektes wat veroorsaak word deur Haemophilus influenzae B (Hib), rotavirusinfeksie, pneumokokkus-infeksie en masels.

In 2014 is die inenting teen die menslike papilloomvirus (MPV) wat servikskanker veroorsaak, by die staatskedule vir negejarige meisies gevoeg.

“Die regeringskedule is omvattend en een van die bestes in die ontwikkelende wêreld,” sê die Kaapstadse pediater dr. Paul Sinclair. In die privaat sektor kan kinders bykomende inentings kry teen waterpokkies en hepatitis A. Die MMR-inenting (teen masels, pampoentjies en Duitse masels) is ook in die privaat sektor beskikbaar, sê Lee Baker van die Amayeza-inligtingsentrum, wat ’n inentingshulp­lyn behartig. 

Jy kan hierdie diens tussen 09:00 en 17:00 by 0860 160 160 met enige inentingsvrae bel.

Die privaat skedule bied die ‘luukse’ inentings,” sê Paul. Die Infanrix Hexa-inenting beskerm teen ses siektes (witseerkeel, klem-in-die-kaak, kinkhoes, polio, hepatitis B en Hib) en bevat nie die kwikgebaseerde preserveermiddel timerosal nie. Hoewel daar geen bewys is dat die kwik in party inentings skadelik is nie, kan jy hierdie opsie kies as dit vir jou belangrik is. 

Getty Images
Getty Images

VRAAG: Kan ek van staat na privaatof andersom oorskakel, en wanneer moet ek dit doen?

ANTWOORD: Jy kan beslis die regering se gratis inentings by ’n staatskliniek kry, en hierdie inentings dan aanvul met bykomende inentings wat in die privaat sektor verkrygbaar is. Doen dit egter met die hulp van ’n verpleegster of dokter. 

In die eerste nege maande van jou baba se lewe is die inentings by staats- en privaat klinieke egter identies. 

Privaat inentings teen hepatitis A, waterpokkies en MMR sal nie inmeng met die inentings van die openbare sektor nie en kan dus bykomend toegedien word, sê Lee. 

As jy die MMR verkies, sal dit die masels-inenting vervang wat op 18 maande deur die staat toegedien word.

Paul stem saam dat jy van die een opsie na die ander kan oorskakel, maar waar­sku dat dit nie ideaal is nie.

”Jy gaan klein aanpassings moet maak wat betref die tyd van inenting.”

Bespreek dit egter met jou gesondheidswerker voor jy voortgaan.

VRAAG: Is daar te veel inentings in ons skedule?

ANTWOORD: Al die inentings wat gratis deur die staat aangebied word, is nood-saaklik, sê dr. Rosemary Burnett, ’n senior dosent by die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Inenting en Immunisering by die mediese universiteit Medunsa.

“Die regering het nie geld om te mors nie en Suid-Afrikaanse wetenskaplikes moet onweerlegbare bewyse verskaf voor ’n inenting by die skedule ingesluit word.” 

Die langtermyn-doelwit van ’n inenting is om so goed te werk dat dit nie meer nodig is nie. Dit het gebeur met die entstof teen pokke, wat so doeltreffend was dat die siekte heeltemal uitgeroei is en dit nie meer nodig is om daarteen in te ent nie.

Die volgende siekte wat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) wil uitroei is polio, maar dit kom steeds in ‘n paar lande voor. 

Intussen kan ons verwag dat die staat meer inentings by sy skedule sal voeg namate dit ontwikkel word. Die MPV-inenting is so ’n voorbeeld, en sal dit nie wonderlik wees as wetenskaplikes ’n doeltreffende inenting vir MIV, malaria en Covid-19 kan vind nie?

VRAAG: Krioel inentings nie van die kieme nie en kan ons kinders se lyfie so baie op een slag hanteer?

ANTWOORD: Die aktiewe komponent van ’n inenting word ’n antigeen genoem. Antigene is die aangepaste virus of bakterie in die entstof wat moet beskerm teen die siekte wat gewoonlik deur daardie virus of bakterie veroorsaak word. 

As ’n jong baba tegelykertyd ’n rits inentings teen siektes kry, voel ’n mens bekommerd. Word daar nie te veel antigene op een slag aan jou skapie toegedien nie?

Die goeie nuus is dat die aantal anti­gene per inenting deur die dekades dramaties verminder het namate entstowwe meer gesofistikeerd geword het. 

In 1926 het ’n kinkhoes-entstof sowat 3 000 antigene bevat, sê Rosemary. Die weergawe wat sedert 1991 gebruik word, bevat egter net twee tot vyf antigene.

Met moderne inentings is die algehele uitwerking van antigene op ons liggaam aansienlik kleiner as voorheen. Boonop word babas elke dag aan baie meer anti­gene blootgestel as wat hulle met ’n inenting inkry, sê Rosemary. Dit gebeur byvoorbeeld wanneer hulle kruip of dinge in hul mond druk. Dit help hulle natuurlik ook om immuniteit op te bou. 

VRAAG: Is dit nie vir my kind beter om die siekte te kry as om daarteen ingeënt te word nie?

ANTWOORD: Sommige ouers reken dis gesonder om ’n siekte op te doen en so vanself immuun daarteen te word as om die immuniteit met behulp van ’n inenting te verkry. 

Daar is egter geen wetenskaplike bewys dat inentings jou kind se immuniteit beskadig nie, sê Rosemary. 

“Die immuniteit wat inentings bied is nie vals nie, dit is werklik. En dis nie slegter vir jou kind se liggaam nie. Wanneer jou kind teen ’n siekte ingeënt word, vervaardig sy liggaam dieselfde teenliggaampies as wat sougebeur het as hy die regte siekte sou kry. Met die inenting het hy egter geen simptome nie, of net baie ligte simptome. 

“Daarby kan die werklike siekte jou kind gestremd laat of selfs laat sterf, en dis presies wat die inenting wil voorkom. 

“Onthou, verskeie ern­stige siektes word deur inentings voorkom.”

VRAAG: Ek het my kind laat inent en sy het steeds siek geword. Wat help die inenting dan?

ANTWOORD: Dit is waar. Jou baba kan die siekte opdoen waarteen sy ingeënt is. Inen­tings se suksessyfer is 85 tot 95 persent. 

Hierdie voorbeeld van die WGO verduidelik dit goed: Verbeel jou ’n skool van 1 000 kinders van wie 995 teen masels ingeënt is. Nou word ál 1 000 kinders aan masels blootgestel. 

Die vyf wat nie ingeënt is nie, word al vyf siek. Van die ingeëntes word sewe siek. Met ander woorde: Honderd persent van die kinders wat nie ingeënt is nie, word siek, maar net 0,7 persent van die ingeëntes kry masels. 

As jy die syfers omgooi, klink dit wel vreesaanjaend: Van die siek kinders was58,3 persent (sewe uit 12) siek, al was hule geïmmuniseer. As jy dit so stel, klink ditof baie meer kinders siek geword het as die kinders wat nie ingeënt is nie.

Dié soort syfer, wat dikwels op antivaksinering-webtuistes gebruik word, is egter duidelik misleidend. Die teendeel is waar: inentings beskerm verreweg die meeste kinders. Wat meer is, ’n ingeënte kind word minder ernstig siek as hy wel die siekte opdoen as die kind wat nie ingeënt is nie. 

VRAAG: Sal die MMR-inenting my kind outisties maak?

ANTWOORD: Nee. Tekens van outisme word dikwels vir die eerste keer raakgesien in dieselfde tyd as wat die MMR oor die algemeen toegedien word en die verband wat tussen die twee getrek is, is foutief.

Studie ná studie het bewys dat daar geen verband hoegenaamd tussen die MMR en outisme is nie. 

Andrew Wakefield, die Britse dokter wat aanvanklik die outisme-storie verkondig het, is sedert­dien van die rol geskrap, sy “navor­sing” is as bedrieglik verklaar en dit het boonop uitgekom dat daar vir hom ’n finansiële voordeel in was om die snert­storie te verkondig.

Hy het egter baie skade aangerig omdat MMR-inentings in ontwikkelde lande ge­daal het. Net verlede jaar was daar meer as 20 masel­suitbrake in Amerika, ’n land waar masels in 2000 as uitgeroei ver­klaar is.

Ja, die meeste gesonde en ryk mense oorleef masels, pampoentjies en Duitse masels, maar baie mense is nie so gelukkig nie. Daar­by kan babas wat nog te jonk is om ingeënt te word aan hierdie siektes sterf, en swanger vroue wat Duitse masels opdoen kan hul baba verloor of ’n gestremde kind in die wêreld bring. 

Die MMR-inenting maak nie deel van die staatskedule uit nie, maar is in die privaat sektor beskikbaar en jy kan jou kinders met ’n geruste hart daarvoor neem. 

Inentings se suksessyfer is 85 tot 95%

VRAAG: Moet ek my baba voor sy inenting parasetamol gee sodat hy nie koors kry nie?

ANTWOORD: Dit is normaal om jou baba se pyn te wil verminder deur vooraf ’n pynstropie toe te dien. Onlangse studies wys egter dat dit nie wenslik is nie, sê Paul.

“Selfs die baie matige uitwerking van parasetamol kan jou baba se immuunreaksie deurmekaarkrap. Jy kan die pynmiddel ná die inenting egter met veiligheid gee.”

Onthou dat ’n inspuiting net ’n klein bietjie seer is en dat dit blitsvinnig verby is. As jy jou baba aan die bors laat drink of hom aan sy fopspeen laat suig terwyl hy ingespuit word, sal hy waarskynlik nie eens agterkom wat gebeur nie. 

Met die Suid-Afrikaanse regering se immuniseringsprogram word alle kinders gratis teen ’n hele rits siektes ingeënt.

VRAAG: My baba se inentings het hom siek gemaak. Wat moet ek nou doen?

ANTWOORD: Dit is baie moeilik om te bewys dat ’n inenting ’n daaropvolgende siekte veroorsaak. Siektes het dikwels ’n ontkiemingstydperk en die begin van jou baba se siekte kan dus toevallig wees.

Party babas kry simptome soos koors, rooiheid, swelling, teerheid of knieserigheid ná ’n inenting omdat hul liggaam op die antigene in die entstof reageer en die lewensreddende teenliggaampies begin vervaardig. 

Wanneer die antigeen lewende virusse bevat (soos inentings teen masels en waterpokkies) kan jou kind ’n paar dae later ’n matige vorm van die siekte kry, sê Paul.

Soms kan ’n abses onstaan by die plekkie waar ingespuit is omdat die naald of die plekkie nie heeltemal kiemvry was nie. Dis egter ’n baie seldsame risiko, sê hy. 

Dit gebeur baie selde dat ’n inenting ’n ernstige ongunstige reaksie veroorsaak, sê Rosemary. Die kans is maar een uit ’n paar duisend of miljoen, of so klein dat jy nie eens die risiko kan bepaal nie. 

VRAAG: Ek is aangesê om Vicks op my baba se inentingsplek te vryf. Hoekom?

ANTWOORD: Vicks het ’n verdowende uitwerking, maar dit word nie aanbeveel nie, sê Paul. ”Enige gevryf oor ’n deel waar ’n naald ingesteek kan word, kan ’n infeksie teweegbring of irritasie veroorsaak. Vermy dit dus liewer maar.”

VRAAG: My baba het ’n verkoue. Kan ek hom steeds laat inent?

ANTWOORD: ’n Verkoue word nie beskou as ’n rede om inenting uit te stel nie, sê Paul. Hoewel jy liewer nie ’n inentingsgeleent­heid moet vermy nie, moet jy dit liewer uitstel as jou kind ’n koors van meer as 39 grade Celsius het.

VRAAG: Daar is ’n groot puisie waar my baba haar BCG-inenting gekry het. Moet ek dit uitdruk?

ANTWOORD: Nee. Die meeste kinders kry so iets op hul regter-boarm nadat die BCG-entstof teen tuberkulose toegedien is. “Die BCG-abses sal self oopgaan en ’n bietjie etter sal uitloop,” sê Paul. “Dit moet skoon, maar oop gehou word sodat dit kan dreineer. Moet dit nie uitdruk of oopsteek nie. As jy daaroor bekommerd is, veral as ’n groot klier onder die regterarm of onderarm ontwikkel, kan jy dokter toe gaan.”

VRAAG: Moet ek my MIV-positiewe kind laat inent?

ANTWOORD: Anders as ander kinders moet kleingoed wat MIV-positief is of daaraan blootgestel is, nie die BCG-vaksien met geboorte ontvang nie.

Laat die inenting slegs doen as jou kind ná ses weke ’n negatiewe MIV-toetsuitslag het, sê Paul. Ander lewendevirus-inentings kan vir MIV-positiewe kinders gegee word, maar nie vir kinders wat aan vigs self ly nie. Laasgenoemde groep moet antiretrovirale behandeling ontvang en eers ingeënt word as die vigs onder beheer is.