Virusse en bakterieë is verreweg die grootste sondaars as dit kom by dinge wat jou siek maak. Dié twee boosdoeners veroorsaak siektes soos verkoue, griep, pampoentjies, waterpokkies, gastroënteritis en oorontsteking, om net ’n paar te noem. Die hoofrol van ons immuunstelsel is om ons te beskerm teen dié en ander infeksies. Dit doen hy op drie maniere:

  • Hy skep ’n front wat bakterieë en virusse verhinder om die liggaam binne te dring.
  • As die goggas wel op ’n manier in die liggaam kon kom, spring die immuunstelsel onmiddellik aan die werk om die virus of bakterie eerstens te herken (en later te onthou) en daarna uit te skakel.
  • As die kiem egter gemaklik in die liggaam begin raak en reeds begin vermeerder het, begin die immuunstelsel hom uitwis.

Só lyk die weerstand-weermag

Jou immuunstelsel bestaan uit verskeie komponente wat deur jou liggaam versprei is. Elkeen het sy eie, spesifieke funksie. Een van die ooglopendstes is jou vel, wat die hoofgrens tussen kieme en jou liggaam vorm. Net soos kleefplastiek ’n toebroodjie teen goggas beskerm, keer jou vel dat sommige organismes jou liggaam binnekom. Ons neus, mond en oë is ander poorte waardeur kieme maklik toegang tot ons liggaam kan kry. In sulke gevalle is trane en slym die parate soldate wat van dié vyande ontslae raak. Sommige nare kieme kry egter tóg op ’n manier toegang tot ons liggaam. Maar wees gerus, binne-in jou liggaam kry hulle met nóg ’n hele klomp soldate van die immuun-weermag te doen. Hierdie soldate word almal in een van die volgende basisse gebore, versorg of gereed gemaak vir oorlog teen skadelike virusse en bakterieë.

Timusklier Die timusklier sit binne-in jou borskas – min of meer tussen jou borsbeen en hart – en is verantwoordelik vir die vervaardiging van T-selle. Dié selle stel onder meer perforeringsproteïene vry wat aanvalle loods op selle met infeksie, vreemde selle en dié wat kankeragtig is. Hulle maak hierdie selle letterlik vol gaatjies sodat ander komponente van die immuunstelsel dit makliker kan uitwis. Die timusklier is veral belangrik by pasgebore babatjies, want daarsonder sal ’n baba se immuunstelsel platval en die baba doodgaan.

Beenmurg Beenmurg vervaardig nuwe rooi- en witbloedselle (en triljoene daarvan!), waarvan die wittes waarskynlik die belangrikste rolspeler in die immuunstelsel is. Witbloedselle span saam om bakterieë en virusse wat jou liggaam binnedring, te vernietig en is ook verantwoordelik vir die maak van teenliggaampies. Teenliggaampies merk onder meer “aanvallers” in jou liggaam sodat die vegterselle van die immuunstelsel dit kan vernietig.

Milt Die milt is ’n vuisgrootte orgaan (by volwassenes) en lê net links van jou maag. Hierdie orgaan filtreer ons bloed en is gedurig op die uitkyk vir vreemde selle in ons bloed of rooibloedselle wat vervang moet word. Daar is mense wat sonder ’n milt klaarkom, maar hulle is baie meer gereeld siek as mense wat wel een het.

Limfstelsel Die limfstelsel is vir die meeste van ons taamlik bekend omdat dokters dikwels vir ma’s sê om op die uitkyk te wees vir geswelde limfknoppe in hul kinders se nek. Limfknoppe swel wanneer ons liggaam teen sekere bakteriële infeksies baklei – letterlik as gevolg van al die ekstra selle in die knoppe wat teen die bakterieë oorlog voer.

Komplementstelsel Hierdie stelsel werk op sy eie en vervul ’n baie belangrike rol wanneer dit by immuniteit kom. Danksy die komplementstelsel word proteïenmolekules (oftewel komplemente) deur die lewer vervaardig. Dié molekules bind dan saam in verskillende volgordes om verskillende funksies te verrig soos om witbloedselle te help om vreemde selle op te eet.

Hormone Die hormoonstelsel is nog ’n belangrike deel van die immuunstelsel. Die gewas-uitwissingsfaktor is ’n voorbeeld van ’n hormoon wat gewasselle kan uitwis, nuwe are kan skep en genesing kan voortbring.

Van geboorte af?

Normale, gesonde mense word almal met ’n volwaardige immuunstelsel gebore. Al die selle wat jy nodig het vir immuniteit teen spesifieke siektes is daar, maar jy moet eers aan die spesifieke gogga blootgestel word om ’n immuniteit daarteen op te bou. Hierdie proses duur jou lewe lank. Dokters onderskei tussen die weerstand waarmee jy gebore word (natuurlike immuniteit) en weerstand wat met tyd ontwikkel (verworwe immuniteit). Laasgenoemde is wat jy verwerf ná blootstelling aan siektes. Van die soldate in jou immuunstelsel het die vermoë om vreemde selle te herken en onthou ná ’n eerste ontmoeting, en dan by ’n tweede ontmoeting ’n aanval teen hulle te loods, verduidelik dr. Barbra-Ann Saunders van die Universiteit van die Vrystaat se pediatrie-departement. Hoewel ’n gesonde baba met geboorte al die nodige selle vir ’n normale immuunstelsel het, het pasgeborenes almal ’n fisiologiese immuungebrek. “Hoe kleiner of meer vroeggebore die baba, hoe meer uitgesproke is die immuungebrek,” sê Barbra-Ann. ’n Ma dra haar teenliggaampies aan haar ongebore baba oor, maar dit gebeur eers taamlik laat in die swangerskap. Dié oorplasing beskerm die baba in ongeveer die eerste ses maande van sy lewe. As ’n babatjie te vroeg gebore word, het hierdie oorplasing soms nog nie plaasgevind nie. Ná geboorte word ’n baba aan verskeie antigene (stowwe wat ’n teenreaksie in die liggaam veroorsaak, in dié geval kieme) blootgestel. In reaksie daarop word teenliggame vervaardig. “Die teenliggame is aanvanklik nie van ’n goeie gehalte nie, maar babas kan teen ongeveer agt weke begin om teenliggame van ’n goeie gehalte te maak,” sê Barbra-Ann. Teen ses maande sal daar genoeg teenliggame wees, maar immuun-volwassenheid wink nog ver. Die verskillende teenliggame ontwikkel op verskillende ouderdomme tot ’n volwasse vlak: sommiges al op vier of vyf jaar, ander eers teen sewe of agt en ’n hele paar eers in die tienerjare. Dis moeilik om te glo, maar siektes is eintlik ’n goeie ding vir jou klein mensie, want elke keer as hy siek word, word die limfosiete van die immuunstelsel aan nog ’n antigeen (in hierdie geval ’n kiem) blootgestel. Só ontwikkel daar teenliggame teen daardie spesifieke organisme wat jou kind beskerm as die kiem weer tref. Dis presies ook hoekom immunisasie so doeltreffend is – dit stel die liggaam bloot aan ’n spesifieke antigeen sodat teenliggaampies ontwikkel en jou kind teen daardie gevaarlike siekte beskerm is.

Foute in die immuunstelsel

Hoewel dit ’n wonderbaarlike stukkie werk is, swik die immuunstelsel tog soms. Een voorbeeld is outoïmmuniteit – wanneer die immuunstelsel om die een of ander rede jou liggaam aanval op dieselfde manier waarop dit ’n skadelike indringer sou aanval. Daar is verskeie outoïmmuunsiektes waarvan ’n sekere soort diabetes, rumatoïede artritis en veelvuldige sklerose drie is. Allergieë is ook ’n vorm van ’n immuunstelsel-fout omdat allergiese simptome veroorsaak word deur dié stelsel wat heftig reageer op ’n allergeen (soos stof of ’n skadelose kossoort) wat eintlik maar geïgnoreer kon gewees het. 

Gee die immuunstelsel ’n hupstoot

Kan jy jou kind se onvolwasse immuunstelsel ’n hupstoot gee? Ja, sê kenners. Een van die maklikste (en boonop gratis) maniere om dit te doen, is om vir die eerste ses maande van sy lewe eksklusief borsmelk te gee. Borsmelk bevat teenliggame en probiotika (oftewel goeie bakterieë). Jy kan ook die volgende doen:

  • Oorweeg ’n natuurlike vaginale geboorte, wat jou baba aan jou bakterieë blootstel terwyl hy deur die geboortekanaal beweeg.
  • Laat jou kind inent. Immunisasie stimuleer ’n immuunreaksie en ontwikkel ’n “weerstand-geheue” teen siektes sonder dat jou kind die siekte self kry. Al kan jy byvoorbeeld nie ’n baba jonger as ses maande teen die jaarlikse griepvirus beskerm nie, sal hy ’n groot mate van beskerming daarteen hê as ousus of ouboet en sy ouers ingeënt is. Die Bloemfonteinse pediater dr. Barbra-Ann Saunders sê dieselfde geld ’n siekte soos kinkhoes, wat lewensgevaarlik vir babas jonger as ses weke is. As die ouer kinders in die huis egter daarteen geïmmuniseer is, en ma en pa weer as volwassenes geïmmuniseer is (ons verloor ongelukkig mettertyd immuniteit teen kinkhoes), is baba se kans om dit te kry heelwat skraler.
  • Eet gesond. Die algemene aanbeveling is vyf porsies vars vrugte of groente per dag, en dit geld groot én klein mense.
  • Leef gesond. Gaan stap gereeld met jou kinders en laat hulle daagliks dinge doen soos buite bal speel en boom klim.
  • Was gereeld hande.
  • Leer jou kinders van kleins af om nie te veel aan hul neus en oë te vat nie.
Hoewel baie aanvullende middels – soos dié waarin echinacea voorkom – wyd gebruik word, is daar nog nooit wetenskaplik bewys dat enige kruiemedisyne daarvan die immuunstelsel sterker maak nie.
Het jy geweet?
Siek liggaamselle word nooit gesond nie. Die immuunstelsel wis hulle uit om plek te maak vir nuwe, gesonde selle.