Susan Claassen* is in Julie verlede jaar bevorder. “Ek moes skielik ’n geweldige nuwe verantwoordelikheid hanteer – nie net is ek aanspreeklik gehou vir die uiteindelike sukses van die produk waaraan ek gewerk het nie, maar ek moes ook vir die eerste keer personeel bestuur. Voeg daarby ’n veeleisende en woelige kleuter tuis – en jy kan verstaan dat die spanning my heeltemal opgekeil het,” vertel Susan vandag.

Ses maande later het sy by ’n sielkundige gaan aanklop omdat sy die druk nie meer kon hanteer nie. Dit het die sielkundige ’n kort rukkie gekos om agter te kom Susan se groot probleem is nie stres soos sy gemeen het nie, maar depressie.

“Ek was aanmekaar moeg, ek het sleg geslaap en my lus vir die lewe was weg. Ek het oorweldig gevoel deur my omstandighede, mismoedig oor die toekoms en dikwels sommer net tranerig. Ek moes my soggens uit die bed sleep en het geen energie oorgehad om met my seuntjie te speel nie,” onthou Susan.

Sy het skuldig gevoel omdat sy geweet het sy skeep haar kind af, maar sy kon net nie meer nie.

“Die sielkundige het verduidelik dat my simptome tipies van depressie is. Al die skielike nuwe lewenseise het my neerslagtig gemaak. Deur hulp te soek, het ek onwetend betyds die regte ding gedoen om te keer dat my depressie ’n invloed op my kind se lewe het.”

Want dit is inderdaad wat die depressie­wolf doen – hy val nie net vir jou aan nie, maar ook jou kind. Studies het getoon dat kinders van bedrukte ouers wat nie behandeling kry nie, meer geneig tot gedrags- en leerprobleme is. Hulle sukkel ook met interaksie met maatjies en ontwikkel makliker self eendag depressie.

Sulke kinders het dikwels ’n lae selfbeeld, ontwikkel destruktiewe idees oor hulleself (soos dat hulle ongelief, onbeheerbaar en ’n las is) en blameer hulleself vir hul ouer se depressie.

In hul kleuterfase is hulle dikwels negatief, moeilik om te hanteer en weier hulle om ouerlike gesag te aanvaar.

Hoe kwaai gaan jou gemoedstoestand jou kind raak? Dit hang af van die vorm van jou depressie, jou kind se ouderdom en hoeveel ondersteuning jy van die ander ouer ontvang, sê Anne-Marie Rencken-Wenzel, ’n Kaapstadse opvoedkundige sielkundige.

Sy onderskei tussen twee soorte depressie. ’n Ouer met laegraadse depressie het meestal bloot ’n negatiewe uitkyk op die lewe, terwyl ’n ouer met akute depressie baie huil, nie eet nie en haar van haar omgewing onttrek en afsonder.

Anne-Marie sê depressie het ’n regstreekse invloed op die ouer-kind-verhouding, veral as dit kom by die kind se fisieke en emosionele versorging.

Jou kind se fisieke versorging

’n Neerslagtige ouer is soms nie meer in staat om haar kind fisiek te versorg nie, en die kind word gedwing om hom self te begin versorg. ’n Erg neerslagtige ouer kan selfs ’n kind mishandel.

“Dink maar aan ’n baba wat niks vir homself kan doen nie, of ’n kleuter wat vir kos moet begin kerm omdat sy ouer weens die depressie nie verantwoordelik genoeg is nie,” sê Anne-Marie. “Die boodskap wat die kind kry, is: My behoeftes is te veel. Daar is iets fout met my. Dit word veral erg as die kind begin voel hy moet sy ouer versorg – hulle ruil dus letterlik rolle om.”

Volgens haar kom so ’n rolverskuiwing algemeen by vier- en vyfjariges voor. Die rolverskuiwing is dikwels subtiel: ’n Kind sal miskien vir sy ma koffie aandra. Of sy ma voel dalk baie moeg en vra hom om met die huishoudelike take te help.

“Die ouer bedoel nie om haar kind met die ver­antwoordelikhede op te saal nie, maar sy is net te moeg om dit self te doen. Die kind word gedwing om verantwoordelikhede te aanvaar waarvoor hy of sy nog nie gereed is nie.”

’n Baie neer­slagtige ouer is dikwels nie meer in staat om haar kind fisiek te versorg nie, en die kind word gedwing om haar self te begin versorg.


Jou kind se emosionele versorging

Daar is dikwels ’n gebrek aan interaksie tussen ’n neerslagtige ouer en haar kind. Die ouer het nie die krag om met haar kind te speel, maatjies huis toe te nooi of haar kind te stimuleer nie. Sy verwag van haar kind om stil te wees, sê Anne-Marie.

“Haar kind kan maklik vereensaamen sy intellektuele stimulasie word verwaarloos. Die boodskap wat hy kry,is dat daar met hom fout is. Hy verstaan nie dat sy ouer nie energie het nie –hy hoor net sy wil nie met hom speel nie.”

In huishoudings met ’n neerslagtige ouer is daar dikwels ’n gebrek aan roe­tine en eenvoudige take soos tandeborsel bly agterweë.

Bedrukte ouers vind dit moeilik om hul kinders emosioneel versorgende liefde te gee sodat daar nie ’n sinvolle ouer-kind-verhouding opbou nie. Dit kan ’n invloed hê op die kind se eie verhoudings later in sy lewe.

Gevaar van jaar tot jaar

0-1 jaar

Neerslagtige ouers bind dikwels moeilik met hul baba en is minder sensitief vir sy behoeftes. Dit kan reeds van geboorte af (sommige kenners meen reeds voor geboorte) ’n invloed op hul baba hê. As daar nie met die baba gespeel of aan hom liefde betoon word nie, kan dit sy ontwikkeling, sy latere interaksie met mense en sy vermoë om ’n vertrouensverhouding met mense op te bou ondermyn.

1-2 jaar

Taalontwikkeling kan beïnvloed word omdat kinders nou begin praat en self­help-take aanpak. Kinders word dikwels gedwing om baie vroeg onafhanklik te wees.

2-3 jaar

Jou kind se sosialisering kan geraak word. Blootstelling aan maatjies en nuwe aktiwiteite is op hierdie ouderdom baie belangrik.

3-4 jaar

Dis is ’n konsolidasiefase waarin ’n kind al die vaardighede wat hy geleer het, bymekaar moet bring en moet vaslê. Die kind van ’n depressiewe ouer kry dikwels nie die geleentheid om dit te doen nie.

4-6 jaar

Kinders se waagmoed kan geraak word. Hulle leer nie om hul eie vermoëns te toets nie. Ook intellek­tuele stimulasie, skoolvoorbereiding en die ontwikkeling van jou kind se selfbeeld en selfvertroue ly dikwels nou skade.

Depressie kan ook positief wees

Daniel Laubscher, ’n sielkundige van Pretoria, meen ’n ouer se depressie hoef nie vir haar kind ’n probleem te wees nie solank sy verantwoordelikheid aanvaar en haar probleem professioneel probeer oplos.

“Die ouer kan siek wees en die kind gesond,” sê hy. “Wanneer ’n ouer ’n emosionele probleem het en haar kind laat verstaan dat die probleem háre is – pleks van haar probleem op haar kind te projekteer – sal haar kind haar verstaan en respekteer.”

Daniel meen ’n kind kan selfs in hierdie verhouding groei.

“Dis veral die kind se gevoel vir eiewaarde wat belangrik is. Sy ouer voel dalk sy het geen waarde nie, maar sy kan desnieteenstaande haar kind se self­konsep bou – daardie dieperliggende begrip van homself waar­van hy nie altyd eens bewus is nie, maar wat elke aspek van sy lewe bepaal.”

Positiewe boodskappe wat uit die ouer se ingesteldheid spruit kan haar kind help.

“Die kind leer begrip vir ander se probleme, waardering vir hul pogings om dit op te los, en ontwikkel ’n gevoel van eie­waarde deur­dat sy ouers hom met respek behandel en laat goed voel oor homself – ondanks die ouer se persoonlike stryd.

Getty Images
Getty Images

Hoe om jouself te help

  • Aanvaar self verantwoordelikheid vir die mediese en sielkundige behandeling van jou depressie.
  • Skakel in by ’n ondersteuningsgroep.
  • Moenie skaam wees om hulp te vra nie.
  • As jy nie self in staat voel om jou kinders te versorg nie, maak seker daar is goeie plaasvervangende versorging.
  • Handhaaf ’n roetine ten spyte van hoe jy voel.
  • Laat jou lewensmaat sekere verantwoordelikhede oorneem sodat diebasiese behoeftes van jul kinders steeds bevredig word.
  • Lig jou kind op ’n ouderdomstoepas­like manier oor jou toestand in. Pasop vir te veel of te min inligting – dit kan jou kind onnodig beangs maak. Soms is gesins­terapie die aange­wese oplossing.

Hoe om jou kind te help

  • Liggaamlike selfkonsep Stel jou daar­op in om jou kind goed te laat voel oor sy liggaam deur ’n boodskap te gee soos: “Jy lyk mooi” of “jou hare is pragtig”. Gee jou kind ’n drukkie en sê: “Ek is lief vir jou” (al voel ek sleg oor myself).
  • Sosiale selfkonsep “Ek is bly jy het maatjies van wie jy hou (al voel ek nie self lus vir vriende nie) en ek is bly dit maak jou gelukkig. Ek weet mense hou van jou.”
  • Prestasie-selfkonsep “Al kom jy laaste in die atletiekbyeenkoms of in die klas, maak dit nie saak nie, want ons weet jy doen jou bes. Hou so aan. Ons is lief vir jou oor wie jy is.”
  • Ouerlike selfkonsep “Ma (of pa) voel nie altyd lekker nie. Sy (of hy) is deesdae baie bedruk. As dit soms gebeur dat ons kwaad lyk en soms vir jou kwaad word, dan wil ons altyd jammer sê, want ons bedoel dit nie so nie. Jy is die grootste skat wat ons het en ons wil jou nooit seermaak nie.”

Die ander ouer

Die nie-depressiewe ouer se vermoë om die tekortkominge van die depressiewe ouer te ondervang, kan ’n kritieke rol speel in die behoud van die kind, meen Anne-Marie.

Tog waarsku sy teen te veel steun. “Ondersteun die neerslagtige­ ouer, maar moenie die verantwoordelikheid alleen dra nie. Hou die ouer betrokke en keer dat hulle hulle heeltemal onttrek.”

* Skuilnaam